‘n Ander Gees | World Challenge

‘n Ander Gees

Gary WilkersonOctober 24, 2011

Númeri 13 bevat ‘n lys name waarmee elke Christen bekend moet wees. Kyk of jy enige van die volgende herken: Sámmua, Safat, Jígeal, Palti, Gáddiël, Gaddi, Ammiël, Setur, Nagbi of Géhuel.

Sukkel jy om hulle te herken? Moenie bekommerd wees nie — dit sou ongewoon wees as jy hierdie name geken het. Hulle was verspieders wat deur God uitgestuur was om die Beloofde Land te verken. As ek sê dat hierdie name aan ons bekend moet wees en tog nie is nie, is die mislukking nie ons s’n nie — dit was hierdie manne s’n.

Die Bybel vertel vir ons dat elkeen van hierdie manne ‘n leier in sy stam was. Hulle was bekend as manne met uitstaande vaardighede, met mag en gesag en wat bokant die ander uitgestaan het. Klaarblyklik was dit maklik om hulle te kies vir hierdie soort sending. Hoe het hulle name dan so in die niet verdwyn?

Ek kan dit met twee woorde antwoord: Josua en Kaleb. Ons onthou hierdie twee name van hierdie episode in die Skrif. Slegs hulle twee het van hulle sending af teruggekeer met ‘n “goeie verslag.” Die ander verspieders se verslae was op vrees gebaseer; hulle het daarteen gewaarsku om Kanaän binne te gaan weens die vreesaanjaende stamme wat daar gewoon het. Maar Josua en Kabeb het Israel aangemoedig om in geloof vorentoe te beweeg, met die wete dat God die pad sou voorberei.

Wat het gemaak dat Josua en Kaleb anders gereageer het as die ander? Die antwoord word in Moses se woorde gevind: “Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg” (Númeri 14:24).

Ek moet daarop wys dat die oorweldigende meerderheid van die Israeliete gereed was om die ander tien verspieders se raad te aanvaar. Hulle was bang om deur die magtige vyande in Kanaän verslaan te word. Hoe het God daarop gereageer?

Die Here het die tien verspieders en almal wat met hulle saamgestem het beveel: “Draai môre weg en trek tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee” (Númeri 14:25). Met ander woorde, “Julle het gekies om terug te gaan na die woestyn. En met daardie keuse het julle geweier om die land wat Ek aan julle belowe het te erf.”

“Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb... en Josua...En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word – dié sal Ek inbring en dié sal die land leer ken wat jull verwerp het” (Númeri 14:30-31).

Hierin is ‘n duidelike boodskap vir almal wat Jesus volg. Dit is: As ons onsself nie beywer om van “’n ander gees” te wees nie, sal ons keuse ‘n nadelige invloed op ons hele gemeenskap hê. Ons keuse om in ‘n woestyn van “gematigde geloof” te rond te dwaal, is nie net nadelig vir onsself nie, maar ook vir almal rondom ons. Dit is veral ons kinders wat in gevaar is. Selfs al kla God hulle nie van ons sondes aan nie, word hulle steeds diep deur ons sondige keuses geraak.

Wat ‘n harde les. Vandag is daar steeds talle Christene wat net soos daardie Israeliete is. Sulke gelowiges is daarmee tevrede om in ‘n wildernis van vrees-gebaseerde geloof voort te strompel. Hulle enigste begeerte is om weg te raak in die skare by die kerk. Hulle vertel vir hulleself, “Radikale Christenskap is nie vir my nie. Ek wil net getrou aan mý geloofsgemeenskap en mý familie wees. Is dit so verkeerd?”

Númeri 14 spreek hierdie ingesteldheid aan: In wese sê God hier, “As Ek iets aan jou belowe het, sal Ek vir jou ‘n manier voorsien om dit in besit te neem. Deur jou eie keuse het jy egter dít wat Ek aan jou gebied het, geweier. Daarom sal jy nooit dit, wat Ek belowe het, erf nie. Jy is verdoem om in ‘n woestyn, wat jy vir jouself gekies het, rond te dwaal.”

Duidelik was daar iets anders in beide Josua en Kaleb wat hulle bo hulle geloofsgemeenskap uitgelig het. En daardie verskil was duidelik in God se oë. Wat was dit? Wat het die Here bedoel toe Hy gesê het dat hierdie manne “van ‘n ander gees was”? En hoe lyk ‘n gelowige wat dit vandag besit?

Ek wil eers kyk na wat ‘n ander gees nie is nie.

Die soort “ander gees” waarna God soek, kan nie deur die vlees gefabriseer word nie. Dit is nie ‘n uiterlike krag, moed, ywer of vasberadenheid nie. Die tien onbekende verspieders in Israel het al hierdie dinge besit — hulle stamme het hulle juis as leiers gekies weens hierdie eienskappe. Vanselfsprekend het God iets anders gesoek.

So, wat maak ‘n gees “anders” in God se oë? Dit is nie iemand met ‘n tipe A persoonlikheid, wat moedig vorentoe beweeg op grond van sy eie ambisie en visie nie. As dit die geval was, sou die tien onbekende verspieders die werk gekry het. Baie Tipe A Christene beweeg vandag moedig vorentoe, maar op grond van hulle eie visie. Dit behaag God glad nie.

Simson is ‘n voorbeeld van hierdie soort gelowige. Hy het die eed van ‘n Nasaréner, wat ‘n streng godsdienstige lewenswyse vereis het, geneem. Simson sou nie toelaat dat ‘n skeermes sy hare raak nie en hy het geweier om wyn te drink. Hy het al sy krag daaraan gewy om God te dien en het Israel se vyande ywerig beveg.

Tog het Simson sekere vleeslik dinge in homself geduld. Hy het dikwels op goddelose manier opgetree en het maklik dinge aanvaar wat God duidelik mishaag het. (By voorbeeld, hy het dikwels prostitute besoek.) Kortliks, Simson het ‘n soort van ‘n ander gees gehad — maar sy hart was nie ten volle aan God oorgegee nie. Hy was maar te gewillig om weg te dryf van God se weë en dan het hy geen berou daaroor gehad nie.

In teenstelling daarmee, dink aan Bárnabas. Daar was uiterlik niks wat gewys het dat hierdie saggeaarde man “van ‘n ander gees” was nie. Hy het nie ‘n vurige geaardheid gehad wat ons met onbeskroomde geloof soos ‘n Josua of Kaleb assosieer nie. In teenstelling daarmee was Bárnabas ‘n vredemaker. Sy naam beteken “bemoediging,” nie “geestelike stryder” nie. Laat ons eerlik wees: Nie baie van ons sou Bárnabas in dieselfde kategorie as ‘n Josua of Kaleb plaas nie.

Tog het Bárnabas in God se oë heelwat van ‘n ander gees besit. Hoe? Dink aan sy lewensbelangrike werk saam met die apostel Paulus en hulle jong protégé, Markus. Paulus was gefrustreerd met Markus omdat hy hulle bediening in die middel van ‘n deurslaggewende sendingreis verlaat het. Markus wou toe weer by hulle aansluit.

Maar Paulus het geweier om hom terug te neem, Hy het geredeneer, “Ons het nodig om ‘n impak op sekere stede te maak, maar Markus se vertrek het ons met te min arbeiders gelaat. Die evangelie was minder effektief as gevolg van hom. Daar is geen kans dat ek hom weer terugneem nie.”

Bárnabas het daarop aangedring, “Paulus, die jongman het nog ‘n kans nodig. Hy het ons goedheid nodig. Dit gaan nie oor ons sukses nie. Dit gaan daaroor om Markus op te lei om ‘n getroue dienaar te wees.” Kortliks, hy het Paulus teëgestaan. En toe Paulus geweier het om in te gee, het Bárnabas hom geroep en gesê, “Dit is nie reg in God se oë nie. Ek gaan saam met Markus.” So ‘n man is ‘n man met ‘n ander gees.

Daar was iets wat Bárnabas anders gemaak het. Hy was dieselfde man wat na Paulus toe gegaan het net na sy bekering, toe almal nog te bang was vir Israel se groot vervolger. Net weke tevore het Paulus die kerk met die dood gedreig. Maar Bárnabas het die vrymoedigheid van Gees gehad om te vertrou, waar ander nie het nie: dat God Paulus magtig wou gebruik. Deur dit te doen, het hy sy eie lewe op die spel geplaas.

Eenvoudig gestel, Bárnabas se “ander gees” het niks te doen gehad met ‘n A persoonlikheid nie. Hy illustreer dat jy ‘n stil, saggeaarde persoon kan wees en steeds kan hê wat Josua en Kaleb gehad het. Inderdaad, die Heilige Gees verlang daarna om elke persoon te vul en Christus aan die wêreld bekend te maak.

Jy mag protesteer, “Dit sluit my nie in nie. Ek weet God kan stil mense gebruik, maar my probleem is iets anders. Ek het alkoholisme in my agtergrond. Ek stoei daagliks met depressie. Hoe kan ek van ‘n ander gees wees wanneer ek sukkel om deur die dag te kom?”

Ek herinner jou: God is nie ‘n aannemer van ‘n persoon nie. Dit maak nie vir Hom saak of jy klein of groot probleme het nie. Sy Gees wag vir jou om op jou neer te daal en jou in te vul vir sy doeleindes. Maak nie saak wat jou toestand is nie, God het sy oog op jou.

Dit is in elk geval God se werk — nie joune nie – wat jou ‘n ander gees gee. Wanneer Hy dit doen, sal mense vra, “Wat het met jou gebeur?” Jy sal in staat wees om te antwoord, “Jesus het met my gebeur” — en dit sal God eindeloos verheug en behaag.

Laat my ‘n illustrasie bied van twee jong Christen mans.

Die twee jongmanne waaroor ek wil praat is twee voorbeelde van Christene wat ons almal ken.

Ben het as ‘n tiener tot bekering gekom deur ‘n hoërskool bediening. Hy het in sy geloof gegroei en sy vriende ook tot Christus gebring. Uiteindelik het Ben by die personeel van die bediening aangesluit en het sy toekomstige vrou daar ontmoet. Hulle het getrou, het kinders gekry en was betrokke by die kinderbediening in die kerk waar hulle aanbid het.

Met verloop van tyd het Ben besiger en besiger by sy werk geword en sy geestelike passie het begin kwyn. Hy het steeds gebid, die Bybel gelees, kerk toe gegaan en in die bediening gedien, maar bietjie vir bietjie het hy weggedryf van die geestelike intensiteit wat hy eens gehad het. Toe dit gebeur, het Ben dit begin rasionaliseer: “Daardie soort ywer was vir my jeuggroep dae. Om ‘aan die brand te wees vir God’ is nie bedoel vir hierdie stadium van my lewe nie. Nou het ek verantwoordelikhede. ‘n Man en vader kan nie bekostig om ‘n ‘radikale geloof’ te hê nie. Ek moet matigheid toon, want ander is afhanklik van my.”

Hierna het Ben ongeërg begin word oor beide sy eie en ander se sonde. Weer het hy dit gerasionaliseer, “Ons almal val op verskillende maniere. Ten minste het ek nie groot sonde gepleeg nie.” Die ergste van alles is dat hy begin het om tevrede wees met minder van Jesus in sy lewe. Die gedagte om dieper in Christus in te dring, het nie langer by hom opgekom nie. Hy het die vurige gebedslewe van sy jonger dae verloor: “Here, ek kan myself voel wegdryf. Herstel my passie vir wat U behaag.”

Ben het ook ander mense se keuses om God te dien begin rasionaliseer. Hy het jongmense gesien wat in die bediening gaan en homself vertel dat hulle keuses uiteindelik selfdienend is. Ben het geen idee gehad dat sy eie geestelike kompromie tot jaloesie gelei het nie en dat hy daarom ander verkeerdelik beoordeel het nie.

Eenvoudig gestel, Ben se lewe was geseënd – maar hy was nie langer ‘n seën nie. Die Bybel beskryf hierdie spesifieke toestand baie duidelik:  “Omdat julle nog vleeslik is” (1 Korinthiërs 3:3). Toe Paulus dit geskryf het, het hy gepraat met Christen veterane, wat veronderstel was om volwasse in Christus te wees. In plaas daarvan, het hulle “geestelike kindertjies” gebly: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daaroe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is” (1 Korinthiërs 3:1-3).

Paulus het hier met die vlees gedeel — skinder, laster, afguns en twis. En hy het in liefde aan die Korinthiërs uitgewys hoe hulle kompromie tot hulle vleeslikheid gelei het. Eens wat hierdie mense se harte aan die brand vir God. Hy het hulle gesê, “Ek verwag baie van julle omdat ek weet dat julle geestelik daartoe in staat is.” Maar hulle wat groot seëninge kon beërwe, het steeds in die woestyn rondgedwaal.

Ben het nie veel van daardie Christene van Korinthe verskil nie. Hy was vleeslik, en het volgens die sin van die vlees gelewe, en nie volgens sy begrip van God se Woord nie. Na jare in sy wandel met Jesus, was Ben steeds besig om van melk te lewe in plaas van vleis. Hy mag probeer het om sy vleeslike begeertes te bekamp of om genoeg energie bymekaar te skraap om “meer geestelik” te wees. Maar dit is nie die krag van die Gees nie — en dit kan nie God se doeleindes bereik nie. In der waarheid het Ben nie langer die dinge van God van waarde geag nie.

Jay se lewe staan in kontras met Ben s’n.

‘n Ander jongman — genaamd Jay — het tot bekering gekom deur dieselfde hoërskoolbediening as Ben. Hy was ook aktief betrokke in die groep en het sy vriende na die Here gelei. Jay het so ‘n honger vir die Bybel gehad dat hy die grootste een wat hy kon vind, gehad het. Sy gedagtes was die hele tyd, “God, u Woord is soos heuning op my lippe!”

Jay het ook sy toekomstige vrou in ‘n die omgewing van die bediening ontmoet en het ook getrou en kinders gekry. Toe Jay se werk meer van hom vereis het, het hy gebid, “Here, ek sal nie van U af wegdraai nie, maak nie saak hoe besig ek raak nie. Ek sal U steeds najaag te midde van my werk. Ek weet dat U ‘n doel daarmee het, selfs as ek nie in staat is om dit raak te sien nie. “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur by Gees, sê die Here.”

Ben en Jay se twee harte verskil wêrelde van mekaar. Een is geneig tot sy eie rede en wil, terwyl die ander geneig is tot volgehoue vertroue in die Here. En as jy hierdie twee langs mekaar in die kerk sit en hulle vergelyk, sal jy ‘n verskil in hulle sien. Hoe kan dit wees wanneer hulle amper dieselfde lewe geleef het? Dit is die verskil: Wanneer jy vir Jay ontmoet, sal jy dadelik weet dat hy by Jesus was. Jy kan Jay tussen ‘n 100 ander gelowiges onderskei as die een wat ‘n “ander gees” het.

Jy mag iemand soos Jay ken. Hy is ‘n vreemde, ongewone mengsel van nugterheid en vreugde. Soms kan dit moeilik wees naby hom. Maar om in sy teenwoordigheid te wees, gee jou ‘n voorsmaak van Jesus — en jy weet dit.

Jay kan baie streng op homself wees. Sy sonde bedroef hom tot op die punt van sigbare angs. Maar diep in sy hart groei hy in vryheid van die slawerny van die vlees. Ander vertel hom om nie so ernstig te wees nie. Maar Jay sal nie sy gebrokenheid verruil nie — en die vryheid wat daarmee saamkom — nie vir al die goedkeuring in die wêreld nie. Hy raak nie betrokke by growwe grappe nie en dit gee hom aanstoot as jy dit doen. Hy het ‘n intensiteit vir die sake van God. En hy is altyd gereed om te bid by die noem van ‘n behoefte, enige tyd of plek (wat ‘n verleentheid kan wees). Wanneer hy misluk — en hy misluk so dikwels as enige ander Christen — keer hy dadelik terug na die Here vir vergifnis en genade. Hy groei in genade en sy gesig wys dit.

Mense soos Jay word dikwels by die kerk geïgnoreer. Hulle kry nie baie uitnodigings na partytjies nie. Ons sien die Jay’s van die wêreld as ‘n bietjie vreemd en hoe ons nie wil wees nie. Tog weet ons dat daar ‘n diepte omtrent hulle is, dat hulle by die hemel ingeskakel is, sowel as by die wêreld rondom hulle. Ons mag dink, “Hy is te op die hemel ingestel om enigsins van waarde op die aarde te wees.” Maar daar is nie so ‘n persoon nie. Enigeen wat ingestel is op die hemelse dinge, sal meer van waarde wees op die aarde as enigiemand anders.

Jy sien, die Jay’s van hierdie wêreld verlang om te doen wat God wil hê dat hulle moet doen. Dít is wat hulle in die oggende laat opstaan en dít is wat hulle na die binnekamer van gebed stuur. Enigeen wat bekend is met Jay, weet dat hy uit sy gebedstyd sal kom met ‘n visie van Jesus. Daardie visie sal hom deur die dag lei — en dit sal sy hemelse doel bereik.

Wat presies onderskei ‘n persoon met ‘n ander gees?

Die verskil word geopenbaar in die teenstelling tussen Ben en Jay. Ben is bang daarvoor om in sonde gevang te word; Jay is bang daarvoor om God aanstoot te gee. Ben is bang om die geselskap van sy eweknieë te verloor; Jay is bang om God se Gees te bedroef. Ben doen wat sy kerk verlang; Jay begeer om te doen wat God verlang.

Kortliks, wat iemand van ‘n ander gees onderskei, is ‘n geheiligde lewe. Daar is geen ander antwoord nie. Wat beteken geheilig? Dit beteken “saam met heiligheid.” Dit is “saam met” ‘n lewe buite jou eie te leef. Dit is ‘n lewe gevul met die Gees, wat van God alleen kom.

My pa het my een van die blywende lesse van my lewe geleer toe hy my as kind vertel het, “Gary, jy kan soveel van Jesus kry as wat jy wil hê.” Ek het gesien hoe dit oor en oor bewys word. God weerhou nooit sy salwing van hulle wat aandring op sy hoë roeping nie. Dit is ons reaksie op sy offer wat bepaal of ons sal beërwe wat Hy vir ons beplan het.

So, leef jy ‘n vleeslike lewe? Wonder jy wat God van jou verlang? Jou Vader wil sy begeertes aan jou duidelik maak — indien jy tyd sal maak om daardie begeertes te leer ken. Is jou lewe vol swakheid en sonder visie? Hy wil jou herstel en aan jou sy visie gee, dat jy die werke wat Hy vir jou voorberei het, kan bereik en doen.

As jy ‘n gematigde lewe in Jesus leef, waarin jy jou standaarde verlaag het, is daar net een ding om te doen. Roep Hom aan om jou sensitiwiteit vir sy Gees te vernuwe. Hy sal jou antwoord, want Hy wil hê dat jy van ‘n ander gees moet wees!

Download PDF