Christus as Wins Verkry

David Wilkerson

Ja, waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, OM CHRISTUS AS WINS TE VERKRY” (Filippense 3:8, ONS HOOFLETTERS).

Het jy die Here se hart gewen? Die apostel Paulus verklaar dat, die doel daarvan om sy vorige lewe af te lê, die volgende is: “Om Christus as wins te verkry.” Hy was heeltemal gevange geneem deur Christus, en het oë gehad net vir die Here.

Waarom sou Paulus die behoefte gehad het om Christus as “wins” te verkry? Christus het Homself nie net aan die apostel geopenbaar nie, maar in hom. Nietemin, Paulus was daarop uit om Christus se hart en liefde as wins te verkry.

Jy sien, Paulus se hele wese – sy bediening, sy lewe en sy hele doel om te lewe – was gefokus om Sy Meester en Here te behaag. Alle ander dinge was vir hom drek! Ek glo een van die redes waarom Paulus nooit getroud was nie, was om homself meer tyd te gee om “besorg [te wees] oor die dinge van die Here, hoe [ek] die Here sal behaag” (1 Korinthiërs 7:32) en hy het ander in dieselfde rigting aangemoedig, “sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag” (Kolossense 1:10).

Is dit Skriftuurlik – hierdie “die hart van Jesus as wins te verkry”? Is ons nie almal die voorwerp van God se liefde nie, ongeag wat? Trouens, Sy welwillende liefde is vir die hele mensdom. Maar daar is ‘n ander soort liefde – ‘n innige liefde soos tussen ‘n man en ‘n vrou – en slegs enkeles beleef dit ooit.

Hierdie liefde word uitgedruk in die Hooglied van Salomo, met Salomo uitgebeeld as ‘n tipe Christus. In hierdie gedeelte, praat die Here van Sy bruid: “U het my hart gesteel, my susterbruid, u het my hart gesteel met een straal van u oë, met een kettinkie van u halsieraad. Hoe skoon is u liefde, my susterbruid, hoeveel beter is u liefde as wyn!” (Hooglied 4:9-10). Later sê Hy, “Draai u oë van my af weg, want hulle verskrik my” (Hooglied 6:5). Sy bruid reageer, “Ek is my beminde s’n, en sy begeerte is na my” (Hooglied 7:10).

Ek glo die bruid van Christus sal bestaan uit ‘n heilige volk wat so welbehaaglik vir hulle Here lewe, so gehoorsaam, so afgesonder van alle ander, dat Sy hart gesteel sal wees. Let op die woorde in hierdie gedeelte, “my hart gesteel” of “my hart verloor.” Christus se volgelinge steel Sy hart met een straal van die oë (Hooglied 4:9). Daardie een straal van die oë is die gedagtes gefokus enkel en alleen op Christus.

Die voorbeeld van Rut

Die Boek van Rut is ‘n wonderlike storie van ‘n bekeerde heidense meisie wat die hart van haar aardse heer gewen het. Ek glo dit is ‘n profetiese storie – ‘n storie wat kragtig tot ons spreek vandag. Want ons wen Christus op dieselfde wyse as wat Rut vir Boas gewen het!

Toe hierdie boodskap my hart in beroering gebring het, het ek deur my biblioteek gesoek, insluitend al die kommentare – maar kon nie ‘n enkele skrywer vind wat die geestelike en profetiese betekenis van die Boek Rut raakgesien het nie. Slegs een skrywer het voorgestel dat, omdat Rut ‘n Moabiet was, God ons moontlik iets kan vertel van die heidene wat in die wynstok ingeënt is.  

Maar hierdie storie is meer as net histories! Paulus skryf: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Paulus sê dat selfs die Ou Testament se noem van osse muilband, geskryf was “om ons ontwil” (1 Korinthiërs 9:10).

Die storie van Rut begin met hierdie woorde: “En in die dae...was daar hongersnood in die land” (Rut 1:1). Daarom het die Israeliet, Eliméleg, sy vrou Naómi, en hulle twee seuns, Maglon en Giljon, uit Juda gevlug na Moab. Eliméleg het daar gesterf, en Naómi se twee seuns het met heidense vroue, Orpa en Rut, getrou. Hulle het in Moab gebly vir nog tien jaar.

Maar Moab is ‘n plek van afgodery – die gemeente van die goddelose, die setel van die spotters. Moab self, na wie die gebied vernoem was, was gebore uit ‘n verhouding van bloedskande tussen Lot en een van sy dogters. Trouens, die naam “Moab” staan vir hoerey. Dit was hy wat Israel verlei het by Sittim in die wildernis, waarna 24,000 gesterf het aan ‘n pessiekte. God het die Israeliete verbied om Moabitiese vroue te trou, “Hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan” (1 Konings 11:2).

In die geesteswêreld, gebeur dieselfde dinge wanneer ‘n hongersnood van God se Woord plaasvind: God se volk wend hulle na die wêreld, buig voor die misleiding van afgodery, en meng met die goddeloses. Hierdie soort hongersnood dryf gelowiges elders om iets te kry om hulle innerlike behoeftes aan te spreek.

Vandag word Christene koud en afvallig omdat hulle nie ware geestelike voedsel ontvang nie. Hulle gaan kerk toe, maar die koskas is leeg. Die preke wat hulle hoor is oppervlakkig – geen spys, geen lewende water nie – net vermaak. Hongersnood heers in God se huis!

Dit is waarom ons kerke oorstroom word met owerspel, egskeiding, ruk en rol, onbybelse sielkunde, ‘n New Age evangelie – met ons jongmense wat dwelms gebruik en swanger raak. Die hongersnood in die kerk het hulle gedryf na Moab, die plek van afgodery. En Moab is ‘n plek waar jong mans sterf! Naómi se seuns het in Moab gesterf!

Terug in Juda, het “die HERE op sy volk ag gegee...deur aan hulle brood te gee” (Rut 1:6). Die woord het Naómi bereik dat die hongersnood in Juda verby was – dat God weereens Sy volk met oorvloed brood en seëninge besoek het. Herinneringe van vorige seëninge het Naómi se siel oorstroom, en sy het begin verlang na die heilige plek. Sy was siek van Moab en sy hoerery en dood. Daarom “Sy [het] haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan...So het sy dan haar woonplek verlaat...toe hulle op pad was...om terug te gaan” (Rut 1:6-7).

Orpa en Rut het totsiens gesê vir hulle ouers, vriende en famillie. Hulle het aan hulle lewenslange geliefdes gesê hulle sou vir goed weggaan, dat hulle na Juda sou gaan – ‘n plek waar God “Sy volk besoek!”

Vandag, besoek die Here Sy Volk weereens!

Weereens het ‘n  hongersnood opgehou! Hier by Times Square Kerk en in ander kerke dwarsdeur die wêreld, gaan die suiwer Woord van God uit. Wanneer die Here Sy volk besoek, “gee Hy vir hulle brood.”

Gedurende hierdie laaste hongersnood van die Woord, terwyl ander na die hedendaagse Moab gevlug het na – wêreldsheid, lusteloosheid, koudheid, plesier en sukses – het ‘n heilige oorblyfsel volhard. Hulle het die selfverheffing van TV evangeliste, die smerige sensualiteit wat in God se huis ingesluip het, die dwaasheid op die kansel, en die bespotting van afvallige Christene beleef.

Hulle het gebid, gevas, en voorbidding gedoen. En nou, het die Here hulle geroep verhoor en het Sy volk besoek. Waarom is Times Square Kerk vol honger soekers? Omdat die woord uitgegaan het dat God hier is! Mense hoor dat ‘n Woord van God hier vloei. Dieselfde is waar van ander, terwyl die nuus versprei dat ‘n besoek van God plaasvind. Die hongersnood is verby! God het brood uit die hemel gestuur – en as jy dit nog nie gesmaak het nie, kom dan uit Moab uit en gaan terug na waar God Sy kinders besoek!

Dit is wat Naómi en haar twee dogters gedoen het. Hulle vertrek na die grens van Juda verteenwoordig ‘n skuif na die Here toe. Hulle was getrek deur die Gees van God – gelok deur die nuus van Sy besoek.

En vandag, sien ek op dieselfde wyse in die Gees dat ontelbare duisende op pad is huistoe, terug na die volheid van Christus – weg van die bohaai, die leegheid van die evangelie van gemak en voorspoed, die dubbele standaarde en halfhartigheid.

Die grens oorsteek

Dit is so jammer dat die helfte van diegene wat die pad terug na God begin het, by die grens sal stop. Hulle wil nie wegbreek nie; hulle wil nie die prys betaal nie. Ek sien hulle in hierdie kerk by die honderde. Hulle begin met groot geesdrif, en sê dat hulle honger is – maar hulle kry koue voete by die grens tussen Moab en Juda!

 Soos ons sien in die Skrif, het Orpa en Rut die grens bereik en voor ‘n besluit te staan gekom. Sou hulle die beweging van God se genade volg (Naómi beteken “genade”) tot in die volheid van Christus? Hulle name gee jou ‘n leidraad: Orpa beteken “hardnekkigheid.” Rut beteken “vriend, metgesel.”

‘n Konfrontasie vind plaas by die grens. Naómi besluit om Orpa en Rut se toewyding en vasberadenheid te toets. Vir hulle, sou die besluit om te gaan, meer as ‘n emosie en meer as woorde verg. Hulle moes kies of om terug te gaan, of om verder te gaan – met geen belofte van beloning nie en ‘n duidelike visie van die hoë prys wat voorlê.

In teenstelling met die verkondiging van voorspoed, gemak en sukses, stel Naómi vir hulle ‘n beeld voor van lyding en armoede – een wat geen aardse goed bied nie, maar in plaas daarvan, slegs ‘n wandel in geloof. Trouens, sy moedig hulle aan om terug te keer na hulle eie moeders se huise. Toe “sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys...Mag die HERE gee dat julle ‘n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man” (Rut 1:8-9).

Dit is inderdaad die evangelie van God se genade; lyding, selfverloëning – die kruis. Dit is die evangelie wat Christus vir Saulus gegee het: “Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:16). Paulus het verkondig, “Omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo, maar ook vir Hom te ly” (Filippense 1:29).

Beide Orpa en Rut het standvastig op hierdie punt gestaan: “Maar hulle het hul stem verhef en geween en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk” (Rut 1:9-10). Jy weet reeds uit Orpa se naam dat, ten spyte van haar rivier van trane, ten spyte van al haar ernstige woorde oor verder gaan, sou sy uitval en teruggaan na haar afgodery. Uiterlik, was sy egter gebroke en teer, en het dit gelyk asof dit deel is van die beweging terug na God. Maar Orpa weet nie hoe kragtig haar hart vasgevang is in die kloue van haar ou kring van geliefdes nie; sy weet nie eens dat ‘n afgod in haar siel agtergebly nie. Sy huil nou, omdat sy verskeur is tussen twee liefdes. Sy wil opreg verder gaan, sy het die gemeenskap van hierdie twee lief – maar sy het nog nie die band met Moab gebreek nie! Geliefde, trane is nie genoeg nie. Naómi het dit geweet en die twee vroue voor die finale toets gebring: “Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word? Draai om, my dogters, gaan heen” (Rut 1:11-12).

Ek glo Naómi kon in Orpa se hart en in haar stryd insien. Sy het waarskynlik gedink, “Arme kind! Sy dink sy wil die Here se volheid hê, maar sy word steeds bekoor deur hierdie wêreld. Sy sou ellendig wees as sy verder gegaan het, omdat sy altyd sou terugkyk!”

Daarom het Naómi gesê, “Gaan terug!” Orpa moes ‘n besluit in haar hart neem nadat sy haarself afgevra het, “Is verwerping, armoede, en skeiding van alles wat ek ken die enigste keuse? Nee! Ek sal teruggaan Moab toe en God dien – op my manier! Ek sal steeds hierdie kosbare heiliges liefhê, maar ek moet aangaan met my lewe.”

Die Bybel sê, “Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen” (Rut 1:14). ‘n Oorspronklike manuskrip voeg “en teruggegaan” by die sin.

Sommige van julle wat hier lees, is op die punt om julle broeders totsiens te soen. Iets in jou hart lok jou – ‘n spesiale vriendekring of ou geliefdes. Maar soos Naómi van Orpa gesê het, “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe” (Rut 1:15), net so, ‘n afgod het jou hart beet – iets uit jou verlede, wat jy nie kan laat staan nie!

Jy moet verder gaan – of teruggaan!

Jy het egter geen middelgrond nie. Jy kan in een van twee rigtings beweeg; of in die rigting van Moab, of in die rigting van Juda. ‘n Streep is getrek, en jy het ‘n grens om oor te steek. Van hierdie punt af aan in die Skrif, hoor ons nooit weer van Orpa nie. Sy verdwyn in die skadu’s van afgodery. Sy het niks meer te doen met God se werk of ewige waardes nie. Nou is God se groot belang Rut.

“Maar Rut het haar (Naómi) aangehang” (Rut 1:14). Naómi probeer een laaste keer om Rut te ontmoedig en sê in vers 15, “Draai om agter jou skoonsuster aan.” Met ander woorde, “Gou-gou, Rut! As jy gou maak, kan jy Orpa inhaal. Sy is op pad terug – waarom gaan jy nie saam met haar nie?” Maar Rut wou nie laat los nie. Die woord hier stel ‘n meisie voor op haar knieë met haar arms rondom haar meester se middel – asof sy nooit sal laat los nie. Rut wil God hê!

Sy plaas haarself onder die vlerke van Jehova. Sy wil deel hê aan die besoeking van die Here, en slegs die dood kan haar keer. “Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen – net die dood sal skeiding maak tussen my en u. Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek” (Rut 1:16-18).

Die oomblik wat Rut oor die grens gegaan het, was sy op die pad na Christus as wins. Daar was geen padtekens om vir haar te wys nie, maar ons weet nou waarheen die pad lei: reguit na die hart van Jesus! Rut en Naómi het gekom by die plek van seën – arm, gestroop, sonder om te weet waar hulle volgende maaltyd vandaan sou kom – maar hulle het daar aangekom tydens die begin van die oesseisoen.

Rut is sonder ‘n sent, met geen toekoms in sig nie; tog is sy ‘n deugsame vrou, en het alles aan die Here toevertrou. Sy sê, “Laat ek tog die land ingaan en are optel” (Rut 2:2). Slegs die brandarmes doen sulke werk. Die Wet het vereis dat die eienaars nie die vier hoeke van hulle lande en die oorblyfsels afoes nie, sodat die armes dit kon kry. “En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie...Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly” (Levitikus 19:9-10).

Dit lyk of Rut ‘n slegte transakse beklink het: Haar toewyding neem haar die hele pad na die plek van besoeking – en nou sweet sy in ‘n minimum-loon werk! Sy is selfs onder die broodlyn. Kyk goed na haar, want dit is hoe jy kan opeindig as jy losbreek en die hele pad gaan!

Dit was die kruis van die apostel Paulus tot hy gesterf het: “Want ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense. Ons is dwaas ter wille van Christus...Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond, en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel...vervolg...belaster...soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe [ons word geïgnoreer - ons word beskou as die skuim van die aarde]” (1 Korinthiërs 4:9-13).

Dan het hierdie geliefde apostel die vermetelheid om te sê, “Ek vermaan julle dan, word my navolgers” (1 Korinthiërs 4:16)!

Moenie jammer voel vir Rut nie – sy is op die punt om Christus te wen! “Daarop het sy heengegaan...en are opgetel op die land agter die snyers. En gelukkig kom sy op ‘n stuk land af wat behoort aan Boas, uit die geslag van Eliméleg. En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê...Van wie is hierdie jongvrou? (Rut 2:3-5).

Dink jy nie die skrywer van hierdie storie moes geknipoog het toe hy geskryf het dat Rut “gelukkig” by die land van Boas uitgekom het nie? Ook die Bybel vir Almal sê “dit het gelukkig so gebeur.” Dit kan ook “per ongeluk” of “per toeval” beteken. Is daar enige Christen wat glo Rut het “per toeval” in die land van Boas, haar bloedverwant-losser beland om are op te tel? Dit was eerder die duidelike leiding van die Heilige Gees – omdat, van die oomblik af dat Rut die grens oorgesteek het en haar lewe toevertrou het onder God se vlerk, was sy bonatuurlik gelei.

Ek verbeel my Rut gaan by baie lande verby, sommige nie heeltemal so vol mense nie en sing, “Dankie Here, omdat U my siel gered het; dankie Here, omdat U my heel gemaak het...dat U vir my U groot saligheid gegee het, so ryk en vry...” Toe skielik, het ‘n drang haar gedring om regs te draai en te begin are optel op die noordelike end van daardie spesifieke land!

Omtrent drie uur later, word Boas geïnspireer om te kom kyk hoe dit met insameling gaan. Hy kyk na die land en sien talle jong mans wat gerwe sny en arm meisies agter hulle wat are optel. Maar hy stop – omdat sy oë Rut gesien het!

“Van wie is sy?” vry hy. Hy is dadelik verlief, en sy hart spring van blydskap. Rut, glimlaggend, deugsaam, so anders as die ander. Sy tel are op vir slegs ‘n dag voor sy die oog van die meester vang! Daardie vermoënde man loop oor na haar en sê, “Jy moet nie op ‘n ander land gaan are optel nie, en jy mag ook nie hiervandaan weggaan nie, maar jy moet jou by my diensmeisies aansluit” (Rut 2:8).

Waarom sê hy dit? Omdat hy sy hart verloor het. Sy het sy hart gesteel, en hy moes haar naby hom hê. “Het ek die dienaars nie bevel gegee om jou nie aan te raak nie? En as jy dors het, gaan dan na die kanne en drink” (Rut 2:9). Toe het hy sy dienaars beveel, “Julle moet ook so nou en dan vir haar uit die bondels uittrek en dit laat lê, dat sy dit kan optel” (Rut 2:16).

Wat het Boas tot Rut aangetrek? Sy het self vir hom daardie vraag gevra: “Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek ‘n vreemdeling is? En Boas antwoord en sê vir haar: Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het...dat jy jou vader en jou moeder en jou geboorteland verlaat het” (Rut 2:10-11).

Boas was aangetrokke tot haar omdat sy die bedekkende vlerke van God begin vertrou het!

Wanneer ons onsself daarop instel op Christus s’n alleen te wees, sal ons Sy oogappel wees!

Begin jy die prentjie kry? Rut se Boas is ons Christus – ons Verlosser-bloedverwant. Die oomblik wat jy wegloop van alle ander liefdes behalwe Christus – alle voormalige afgode, ou vriende, en ou maniere laat staan – dan is dit wanneer die oë van Christus op jou val. Dit is wanneer jy Christus as wins verkry! Jy verloor die wêreld en sy flietende heerlikheid en verbygaande plesiere – maar jy kry Sy ewige liefde en heerlikheid as wins!

Wanneer jy Sy hart wen, wen jy Sy guns. Jy sal nooit weer honger of dors ly in jou innerlike mens nie! Hy sal jou ly op sulke ontsaglike, wonderbaarlike maniere. Soos Rut, wat huistoe gehardloop het om vir Naómi van al die opwindende dinge wat met haar gebeur het te vertel, sal jy die familie van God byeenroep en vertel van wonderwerk op wonderwerk van hoe God al jou behoeftes aanspreek. Jy sal op die ou end sê, “Wie is ek dat ek so geseënd kan wees?”

In 1958, het God my geroep om my plattelandse kerk te verlaat, en uit te stap met blinde geloof en na New York Stad te kom om te preek vir bendes en dwelmverslaafdes. Ek het geen beloftes gehad nie, geen visioene van grootheid en geen geld in my sak nie. En nou kan ek getuig – dit was 30 jaar van wonderwerke, 30 jaar van bonatuurlike voorsiening. Sy vaandel oor my was liefde! Ek wil net Christus as wins verkry!

Hier is die einde van ons storie: Rut trou met Boas, hierdie “vermoënde man.” “Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, en hy gaan slaap het...het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en gaan lê...En hy vra: Wie is jy? Toe antwoord sy: Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser. En hy sê: Geseënd is jy deur die HERE, my dogter! Jy het jou laaste liefde beter gemaak as die eerste, omdat jy nie agter jongmanne, arm of ryk, aan geloop het nie. Wees dan nou nie bang nie, my dogter; alles wat jy sê, sal ek vir jou doen, want die hele stadspoort van my volk weet dat jy ‘n deugsame vrou is” (Rut 3:7-11).

Dit was die gebruik in die Ooste vir dienaars om by hulle meester se voete te slaap op ‘n loodregte manier, om hulle warm te maak. Terwyl Boas geslaap het, het Rut so gaan lê, ten volle geklee en waarskynlik biddend.

In hierdie situasies, was dit die plig van ‘n naby familielid, as “bloedverwant,” om sy dienaar se erfdeel te los en om alle beswarings af te los. Die bloedverwant sou dit doen deur ‘n mantel of bedekking te neem en dit oor die dienaar se skouers te plaas, wat beteken, “Ek sal jou bedekking wees.”

Boas het dit vir Rut gedoen, en hierdie woorde het vir haar die saak beklink: “Omdat jy nie agter jongmanne, arm of ryk, aan geloop het nie.” Dink aan wat Boas gesê het: “Alles wat jy sê, sal ek vir jou doen.” Al haar begeertes van haar hart sou toegestaan word, omdat sy getrou was – omdat haar oë nie gedwaal het nie! Sy het nie rykdom, sukses of glans gesoek nie. Sy wou slegs Boas hê! Hy het in wese vir haar gesê, “Ek kan jou vertrou. Jou liefde is eg. Jy sal my nie vir ander verlaat nie, maak nie saak hoe aantreklik hulle is nie. Jy sal net myne wees en ek sal net joune wees!”

So, by die poort van Betlehem, voor tien getuies, het Boas Rut se erfdeel gekoop. Hy het alle aansprake op haar en haar besittings afgelos. “Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles...uit die hand van Náomi koop. En ook Rut...verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode uit sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie” (Rut 4:9).

Dit is die werk van die Kruis! Jesus het alle aansprake van die duiwel op ons erfdeel afgelos. Ons is nou vry om ons met Christus te verloof.

“So het Boas Rut dan geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het by haar ingegaan, en die HERE het vir haar swangerskap gegee, en sy het ‘n seun gebaar” (Rut 4:13). Sy naam was Obed, die groot-oupa van Dawid, die saad van Christus.

Obed...Ísai...Dawid...Jesus!

Het Rut Christus as wins verkry? Ja, Christus het haar lewe geword!

Vandag verkry ons Christus as wins deur die keuses wat ons maak wat Hom behaag – besluite wat ons getrouheid bewys om slegs Hom aan te hang. So, in elke keuse vra jouself af, “Sal dit Hom behaag? Sal dit Hom vir die engele laat sê, ‘Sien, my geliefde het alle ander vir My verlaat’?”

Verkry Christus as wins deur jouself heeltemal in Sy sorg te plaas – en rus vredevol onder Sy vlerke!