Christus Ons Hoëpriester! (Deel EEN)

David Wilkerson

God die Vader het Sy Seun Jesus aangestel om vir ons ‘n Hoëpriester in die hemel te word. Jesus is inderdaad in die hemel op hierdie oomblik – as beide Mens en God – om ons onthalwe. Hy is getooi in die klere van ‘n Hoëpriester – en Hy staan voor die Vader en tree vir ons in, selfs nou terwyl ek besig is om te skryf!

Daar is geen twyfel dat die Vader groot behae daarin het om Sy Seun aan sy regterhand te hê nie. Maar die Bybel sê nie dat Jesus opgevaar het na die hemel om die Vader se onthalwe nie. Dit sê ook nie dat Hy opgevaar het om Sy heerlikheid terug te neem nie. Nee – die Skrif sê Christus het opgevaar na die hemel om ons onthalwe – as ‘n Hoëpriester: “Christus het...ingegaan...in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24).

Johannes het ‘n kykie gekry van Jesus in Sy bediening as ons Hoëpriester in die hemel. Hy skryf dat Jesus verskyn het in die middel van sewe kandelaars (wat Sy kerk verteenwoordig) en onder hulle bedien het terwyl Hy ‘n sekere kleredrag aangehad het: “...met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel” (Openbaring 1:13).

Dit is die tooisel van ‘n hoëpriester! Jesus het ‘n kleed gedra tot op Sy voete en ‘n borsplaat om Sy middel. En dit is dieselfde tooisel wat Hy dra as Hy bedien om ons onthalwe in die hemel op hierdie oomblik!

Jy kan waarskynlik onthou dat die hoëpriester in die Ou Testament ‘n tipe en ‘n skaduwee van Christus was. Twee priesterskappe word genoem – ‘n priesterskap van Aäron en ‘n priesterskap van Melgisédek. Aäron was natuurlik ‘n tipe Christus. God het inderdaad vir ons ‘n geïllustreerde preek in die Ou Testament hoëpriester gegee. Alles wat hy gedoen het, het die werk en bediening van Jesus in die hemel geïllustreer!

Alles in die tempel het gefokus op Jesus en Sy Bediening!

Elke deel van die toebehore en elke rangskikking in die Ou Testament tabernakel het na Jesus gewys. As jy meer wil weet oor Christus se bediening vir ons in die hemel in hierdie laaste dae, bestudeer die tabernakel en die hoëpriester. Exodus 30 gee vir ons ‘n wonderlike beeld van hierdie bediening:

Tussen die Heilige en die Allerheiligste in die tabernakel, was ‘n voorhangsel. En net voor die ingang na die Allerheiligste het ‘n altaar van goud gemaak gestaan, drie voet hoog en agtien duim breed. Wierook was op hierdie altaar geplaas en het te alle tye gebrand.

As hoëpriester, was Aäron beveel om te sorg vir die lampe en die pitte. Elke oggend as hy in die Heilige Plek ingaan om dit aan te steek, het hy wierook op die altaar neergesit. Die altaar moes altyd kole van vuur in hê, sodat die vuur nooit doodgaan nie. Selfs in die nag moes Aäron ingaan en soet “fyngestampte” wierook op die altaar plaas.

“En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek: elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek. En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as’n voortdurende reukwerk voor die aangsig van die HERE in julle geslagte” (Exodus 30:7-8). Vir jare, deur al Israel se wildernis reise, het die goue altaar die Heilige met ‘n wolk van soet wierook gevul. Wierook het voortdurend na die hemel opgestyg!

In die Bybel verteenwoordig wierook gebed. En die ewig-brandende wierook op daardie altaar in die Heilige, verteenwoordig die gebed van Jesus toe Hy op die aarde was. Daar was nie ‘n dag in Sy lewe op die planeet wat Jesus nie gebid het vir Sy dissipels nie. Sy gebede vir hulle was ‘n soet wierook wat daagliks na die Vader gewaai het: “...die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee...Ek bid vir hulle...bewaar in u Naam die wat U My gegee het...” (Johannes 7:8-11).

Jesus het voortdurend gebid: Hy het na die berge gegaan om te bid...Hy wou alleen wees om te bid...Hy het in die oggend en in die aand gebid – te alle tye. Jesus het in werklikheid gesê Hy het niks gedoen sonder om dit eers by Sy Vader te hoor nie – in gebed!

Johannes 17 gaan alles oor Jesus se gebede vir Sy dissipels en Sy mense – vir diegene wat Hom gevolg en geglo het. Jesus het egter nie net vir Sy volgelinge gebid nie, maar “...vir die wat deur hulle [die dissipels se] woord in My sal glo” (Johannes 17:20).

Wat ‘n magtige waarheid! Jesus se frase, “hulle wat in My sal glo,” sluit jou en my in. Jesus het vir ons gebid toe Hy op hierdie aarde gewandel het! Eeue gelede was ons in Sy gedagtes. Hy het selfs hierdie gebed in Sy Woord opgeneem, wetend dat ons dit sou lees. Hy wil hê ons moet weet Hy het vir ons voorbidding gedoen by die Vader!

Geliefde, hierdie gebed wat Jesus vir ons gebid het, het nie in verdwyn in die lug nie. Dit het gebrand op God se altaar die hele tyd – en God het Sy Seun se gebed vir elkeen van ons aanvaar! Ons bekering, ons verlossing, is die resultaat van Jesus se gebed. Dit is waarom ons in Hom is vandag – omdat God Sy gebed beantwoord het vir ons!

“Maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:24-25).

Op hierdie oomblik, bid Jesus vir oortreders wat hulle nog nie tot Hom bekeer het nie. Die Skrif sê Hy kan volkome red – wat beteken, “tot aan die einde van tyd” – almal wat ooit tot Hom sou kom.

Dwarsdeur al my jare van bediening het ek talle verslaafdes en alkoholiste wonderbaarlik sien verlos word. Elke keer sou ek dink, “Hierdie een moes ‘n biddende moeder of ‘n ouma gehad het wat vir hom voorbidding gedoen het iewers in die verlede. God verhoor daardie heilige krygers se gebede!”

Maar nou sien ek iets baie beter as dit – iets ver magtiger en meer effektief. Dit was nie net ‘n moeder of ouma wat gebid het vir diegene wat nou glo nie. Jesus het nog die heeltyd vir hulle gebid! “...Ek bid...vir die wat deur hulle [die dissipels se] woord in My sal glo” (Johannes 17:20).

Al sou jy van die Here af wegvlug, sal jy nooit wegkom van Sy gebede af nie! Die Vader verhoor Sy Seun. En almal wat Hom weerstaan en voortgaan met hulle sondige weë, verhard hulle harte teen die gebede van Christus – Wie vir hulle op die aarde gebid het en steeds vir hulle bid!

Ek wil nou met jou praat oor die biddende Jesus in die hemel!

Eenkeer ‘n jaar het die hoëpriester die Allerheiligste binnegegaan om versoening te doen vir Israel se sondes. Nadat hy homself geheilig het – deur homself deeglik te bad, om in reinheid daar in te gaan – het hy saam met hom, die bloed van ‘n bulkalf en ‘n goue vuurpan (of beker) geneem wat gehou is deur drie vurke of kettings. Die priester het dan kole van die vuur afgehaal, dit in die vuurpan geplaas, ‘n handvol wierook geneem en na die Allerheiligste gegaan.

Binne-in was die ark van die verbond en daar bo-op was die versoendeksel – ‘n deksel of plaat bedekking met ‘n kransie rondom. Aan elke kant van die versoendeksel, was twee goue gérubs, wat se vlerke daaroor gesprei was. Die versoendeksel het die teenwoordigheid van God – waar die Here op sy troon sit, verteenwoordig.

In my vorige boodskap getiteld, “Die Kosbare Bloed van Jesus,” het ek geskryf dat die hoëpriester die bloed van die offerhande sewe keer op hierdie versoendeksel gesprinkel het. Dit was vir die vergifnis van al Israel se sondes. Die bloedsprinkeling het gedui op die voldoening van elke vereiste van God se geregtigheid en heiligheid en elke beskuldiging van die duiwel. Deur hierdie bloedsprinkeling, was almal rein gemaak.

Toe het die hoëpriester die handvol wierook geneem en dit op die vuur in die vuurpan gegooi. Skielik het ‘n heerlike aroma die tabernakel gevul. Die priester sou die vuurpan voor die ark swaai totdat die versoendeksel omhul was met ‘n wolk van aromatiese, soet wierook.

Geliefde, dit is ‘n volmaakte illustrasie van wat Jesus vir ons gedoen het – en op hierdie oomblik vir ons doen! Eerstens dui dit op Jesus se dood en opvaarding na die hemelse Vader as ons Hoëpriester. Hy het deur die voorhangsel gegaan – dit in twee geskeur – en reguit in die Allerheiligste ingegaan en saam met Hom die bloed van Sy eie offer geneem. Daar, in ‘n geestelike sin, het Hy die altaar in die hemel besprinkel en gesê, “Van hierdie dag af verder, sal almal wat in My glo – wat My volg en op My vertrou en vir my reddende geloof gee – bedek word deur My bloed. Ek verteenwoordig hierdie bloed, O Vader, as ‘n offer vir die sondes van die wêreld!”

Tweedens dui hierdie toneel van versoening verder op die tyd toe Jesus vir ons begin bid het en voorbidding gedoen het by die Vader om ons onthalwe. Waarom? Die soet geur van wierook wat die Allerheiligste gevul het, verteenwoordig die gebede en voorbiddings van Jesus nou in die hemel! Ons het ‘n Vriend in die hemel, ‘n Advokaat voor die Vader se troon, ‘n Voorbidder aan die regterhand van God – vir ons het: “Christus...ingegaan...in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24).

Hierdie Advokaat, of prokureur, is nie soos ‘n aardse prokureur nie. As jy nie meer geld het nie, weier Hy nie om in die hof vir jou te verskyn nie. Nee! Hy is nader aan jou as ‘n broer. Hy sal jou nooit verlaat of begewe nie. Hy sal altyd daar wees – en vir jou intree!

Die aanvanklike werk van Jesus se voorbidding was die besprinkeling van Sy bloed aan al die skuldbriewe en skuld wat ons verskuldig is. ‘n Skuldbrief is “’n geseëlde nota van skuld of verpligting wat bindend is op die skuldenaar en sy erfgename.” ‘n Voorbeeld is ‘n verbandbrief van ‘n bank. So lank as wat jy leef, verplig die wet jou om daardie brief te betaal – en wanneer jy sterf, is jou kinders verplig om dit te betaal.

Net so, het die duiwel eers die verband op jou siel gehou. Hy het aanspraak op jou gemaak, omdat jy dood was in jou oortredinge en sondes. Daar is inderdaad nou talle in die hel, omdat die duiwel die onbetaalde skuldbrief opgeroep het!

Daar moet ‘n grot iewers in die buik van die hel wees wat ‘n berg van rekords bevat, insluitend jou en my skuldbrief. En huidiglik is daardie skuldbriewe betaalbaar. Die nota’s lees, “Jy moet betaal met jou lewe – en die prys is die ewige dood en verdoemenis.”

Maar vir Jesus was die sleutels gegee tot die hel se grafkelder! Ons Hoëpriester het afgegaan na die put van die hel, reguit na die plek van daardie rekords en die grafkelder oopgemaak. Hy het die rekords begin deurblaai en ons skuldbriewe uitgehaal – al die verbande, skulde en verpligtinge van diegene was in Hom glo en wat nog sal glo.

Jesus het al daardie briewe bymekaargemaak en dit hemel toe geneem. Daar, in die teenwoordigheid van die Vader, het Hy Sy bloed daaroor gesprinkel en aangekondig, “Hierdie skulde is ten volle betaal – deur die bloed in My eie are!”

“Of weet julle nie...dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop...” (1 Korinthiërs 6:19-20). “..die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here...Julle is duur gekoop” (1 Korinthiërs 7:22-23).

Die regverdige toorn van God was verander in barmhartigheid – deur die bediening van die Hoëpriester!

God se geregtigheid vereis dat Hy toornig is op sonde. Sy heiligheid vereis dat Sy toorn uitgaan teen alle wederstrewigheid. Maar God het barmhartigheid lief! En nou het die bloed van Jesus het God se geregtigheid en heiligheid tevrede gestel – sodat God na ons kan kom deur die geskeurde voorhangsel en barmhartigheid en genade betoon!

Die Ou Testament sluit ‘n kragtige voorafskaduwing van ons barmhartige Hoëpriester in. In Numeri 16 sien ons die hele gemeente van Israel wat opgestaan en gemurmureer het teenoor Moses en Aäron. Tweehonderd-en-vyftig prinse het gerebelleer en God was kwaad – daarom het Hy hulle vernietig. Nou was die volk kwaad vir Moses en Aäron oor hulle dooies: “Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die Here gedood” (Numeri 16:41).

God het in ‘n wolk verskyn en vir Moses en Aäron gesê om weg te staan van die res af: “Trek julle terug van hierdie vergadering. Ek gaan hulle oombliklik verteer – nou onmiddellik!” (sien Numeri 16:45).

Skielik het ‘n verskriklike pessiekte onder die volk uitgebreek. Moses was angsbevange – en hy het vir Aäron, die hoëpriester gesê, “...Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die HERE se aangesig uitgegaan, die plaag het begin...En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou” (Numeri 16:46,48).

Moses het in wese gesê, “Kry die vuurpan – en hardloop deur die laer en swaai die wierook en omhul die mense!” Aäron het presies dit gedoen – en die wierook het dwarsdeur die laer opgegaan.

Aäron is hier ‘n tipe Christus – en die wierook verteenwoordig Jesus se gebede vir ‘n wederstrewige volk. Wat ‘n ongelooflike beeld van God wat barmhartigheid betoon deur die gebede van die Hoëpriester! Ons sien ‘n beeld van Jesus wat tussen wederstrewige sondaars deurhardloop en gebede opstuur na die Vader om hulle onthalwe. Met elke mens wat Hy besprinkel het, het Hy uitgeroep, “Here, Ek bid vir hierdie een! Ek het hierdie hart met die bloed besprinkel. Ek het U geregtigheid en U heiligheid tevrede gestel. So, Vader, wees barmhartig!”

‘n Advokaat is een wat vir die hof sê wat wetttig is – wat reg is en gedoen moet word. Kortliks, hy beskryf die wet. En ons Advokaat Jesus sê, “Ek het die wet volbring. Ek het die prys betaal om God se geregtigheid ten volle tevrede te stel. Die duiwel kan God nooit beskuldig van onreverdigheid nie!”

Hoewel 14,700 Israeliete gesterf het met die pessiekte, moes 2 of 3 miljoen ander ook eintlik gesterf het. Die hele Israel moes vernietig gewees het. Maar God het barmhartigheid betoon!

Net so, moet ek en jy lankal al gesterf het weens ons sonde. Maar die Vader het deur Jesus se gebede, ons barmhartig bewaar deur Sy krag. Hy is lief vir barmhartigheid!

Die boek Sagaria openbaar ook iets oor ons Hoëpriester in die hemel!

Sagaria 3 beskryf die hoëpriester genaamd Jésua wat voor die Here staan en Satan wat aan sy regterhand staan om hom teë te staan. Ook teenwoordig was ‘n engel, wat Christus (Of Jehova van die Ou Testament) moes gewees het, omdat engele nie oordeel nie.

Hierdie Jésua was ‘n regte man; hy was nie ‘n tipe Christus nie. Hy was eerder die hoëpriester tydens die tyd van Esra en Nehemia. Esra 2:2 berig dat hierdie Jésua uit ballingskap gekom het saam met die profeet Sagaria.

In Esra 10:18 lyk dit of Jésua en sy seun heidense vroue getrou het en daarom was hulle “geklee in besoedelde klede.” Op daardie stadium, was die ergste manier waarop ‘n Jood homself kon besoedel, deur ‘n heiden te trou. Dus het Jésua sy priesterlike gewaad besoedel: “En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die engel staan” (Sagaria 3:3).

Beskou die toneel nou, in tipe: Josua staan voor die troon in sy vuil klere en die duiwel aan sy sy wat hom beskuldig. In Openbaring 12:10, word Satan genoem, “...die aanklaer van ons broeders...” Dink daaraan: Die duiwel het voor die Here gestaan om Job se geregtigheid te bevraagteken...hy staan voor die hemelse troon om hierdie hoëpriester Josua teen te staan...en hy staan tans voor God om jou en my teë te staan – om ons van sonde en ontrouheid te beskuldig!

Satan het teen Josua aangevoer: “God, U weet alle dinge. U ken U wet – en hierdie man het dit gebreek! Hy het teen U gesondig en nou is sy hart soos ‘n besoedelde kleed. Hy is onrein, boos, onwaardig!”

Die duiwel se beskuldigings was korrek: Josua het gesondig. Hy was skuldig en sy klere was besoedel. En nou het Satan aanspraak gemaak op Josua: “Ek eis hierdie man op as my eie.”

Geliefde, dit is presies wat met ons gebeur! Baie van die duiwel se beskuldigings teen ons is korrek. Wanneer ons sondig – wanneer ons misluk in ons Christelike wandel en ons klere word besoedel – kom Satan voor die troon om ons te beskuldig, teë te staan en te belaster. Hy wys na ons en sê, “Kyk na hom! U weet alle dinge, God. Sien U nie die kompromieë in hierdie een die lewe nie? As U regverdig is, moet U sy siel vir my gee!”

Dit is wanneer ons Advokaat intree. Jesus staan op en sê, “Dit is waar, Vader – daar is ‘n onreinheid hier. Daar was mislukking en sy klere is besoedel. Maar daar is geloof in sy hart – geloof in die krag van My bloed!

“U weet Ek het vir hierdie man se sonde versoening doen. Ek het immers betaal vir elke sonde wat hy gedoen het of ooit sal doen. So, op grond van elke wet van geregtigheid, heiligheid en barmhartigheid, roep Ek hiermee vir hierdie mens se vryspraak en vryheid. Hy is ‘n brandhout wat Ek uit die vuur geruk het. Ek het sy hart besprinkel met My bloed – en veroorsaak dat sy ongeregtigheid verdwyn het!”

Jesus draai dan na diegene wat daar rond staan en sê, “Trek daardie vuil klere van hom uit en plaas My kleed van geregtigheid op sy skouers. Haal daardie hoed van sy kop af en plaas ‘n kroon daarop!”

Dit is wat met Josua gebeur in Sagaria 3. Jesus bepleit sy saak en tree vir hom in: “...Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere” (Sagarai 3:4). Dit is die Pasga – die besprinkelde bloed!

Jesus sê dan aan Satan, “...Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” (Sagaria 3:2).

Wat ‘n beeld! Die duiwel was geforseer om die aftog te blaas met ‘n duidelike bestraffing. En Josua het weggeloop met ‘n verskoning, ‘n nuwe kleed en ‘n kroon van geregtigheid op sy kop! “...en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige...” (1 Johannes 2:1).

Jesus was in die hemel vir afgelope 2,000 jaar waar Hy vir ons gebid het. Toe Hy op die aarde was, het Hy gesê, “dat ‘n mens gedurig moet bid...” (Lukas 18:1). En dit is hoe ons weet Hy bid steeds vir ons: Deur Sy eie getuienis het Hy gesê dat die mens altyd behoort te bid – en Hy self is steeds ‘n Mens, selfs in die hemel!

Jy sien, dit is in Sy Menslikheid wat Jesus vir ons gebid het. Hy bid as Een wat alles beleef het wat ons beleef, wat versoek is op al die maniere waarop ons versoek word. En as ons Hoëpriester, het Hy die Allerheiligste binnegegaan terwyl Hy elke menslike swakheid en elke menslike belewenis verstaan: “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen” (Hebreërs 2:17).

Ons grootste troos behoort te wees dat Jesus afgekom het en in ons skoene kom staan het!

Dit was nodig dat Jesus die menslike natuur moes aanneem, sodat Hy deur alles kon gaan wat ons op aarde beleef – verwerping, pyn, smart, versoeking. Hoewel Hy God in die vlees was, het Hy die volle menslike belewenis deurgegaan, nie as God nie, maar as ‘n mens, met al ons swakhede. En dit het Hom, ons Hoëpriester, in staat gestel om vir ons te bid met geweldige medelye: “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18).

Beskou ‘n dierbare suster wat sukkel. Sy is ‘n liefhebber van Jesus – maar sy is moedeloos, terneergedruk en voel verwerp. Sy staan in skaamte en dink, “Ek is so seergemaak. Niemand lyk of hulle my verstaan nie. Niemand weet waardeur ek gaan nie. Ek het niemand wat werklik verstaan om mee te praat nie.” Soms wonder sy selfs of God haar kan vergewe omdat sy so ‘n swak geloof het. Sy is heeltemal wanhopig – op die rand van moedverloor se vlakte.

Satan staan langs haar en beskuldig haar: “Kyk na hierdie mens – sy het so te sê geen geloof nie. Sy leef in wanhoop. Watter soort Christen is sy, God? U moet haar veroordeel!”

Dit is wanneer haar Advokaat ingryp! Jesus sien haar hartseer en voel haar pyn. Hy weet dat haar geloof swak is – dat sy op die randjie is om moed te verloor en te onwaardig voel om aan te gaan. Daarom kom Hy voor die Vader om haar onthalwe en begin om in te tree:

“Vader, Ek weet wat sy voel. Ek was ook daar! Ek was verwerp deur My eie broers, My eie vlees en bloed. Ek was bespot deur deur godsdienstige skare, gespoeg op deur soldate wat dorings op my kop gesit het. In Getsémané het Ek uit desperaatheid uitgeroep, “Waarom het U My verlaat?” Ek weet hoe dit voel om misken, gevloek en bespot te word. Ek simpatiseer met hierdie vrou, Vader – en Ek het al haar sondes afgewas. Ek weet sy het steeds ‘n hart vir My – en Ek sal nie ‘n geknakte riet verbreek nie!”

Dit is waar Jesus se gebede vir ons inkom: “Vader, Ek sou wou hê dat sy vergewe word vir haar moedeloosheid. Ek sou wou hê dat sy ‘n nuwe voorsiening van genade uit die Hoogte gegee word – dat die Heilige Gees oor haar kom met ‘n besonderse vernuwing van moed. Ek sou wou hê dat sy ‘n gees van vrede en rus in die Heilige Gees gegee word. Sy is Myne, Vader. Satan kan haar nie kry nie!”

Skielik, van nêrens af, voel die vrou bemoedig. Genade is aan haar gegee – deur die gebed van ons Hoëpriester! Hy word aangeraak deur ons gevoelens van swakheid – en Hy tree met barmhartigheid op.

Beskou nou ‘n kosbare, bekommerde man wat beskuldig word dat hy in groot versoeking geval het. Hy het ernstig teen God gesondig en hy voel sy hart word koud. Hy dink, “Ek gaan dit nie maak nie! Ek is te op-en-af, te warm-en-koud. Satan gooi alles in die hel teen my en ek word kragtig versoek. Talle kere word ek deur my versoeking oorweldig. Tog het ek Jesus lief. O, Here – ek wil vry en rein wees!”

Hierdie man is moeg, uitgeput en moedeloos. En die duiwel staan langs hom en beskuldig: “Hy het in sonde verval, God. Daar is geen twyfel nie: Hy kan versoeking nie weerstaan nie. Sy klere is besoedel, vuil!”

Maar die Advokaat tree tussen hierdie man en sy aanklaer. Hy sê, “Vader, ek weet waardeur hierdie man gaan. Die duiwel het ook vir My in ‘n wildernis ingejaag en My ernstig versoek. Ek was versoek om vloek – om neer te val en Satan te aanbid! Ek weet waaroor versoeking gaan. En ek ken hierdie man se hart. Daar is steeds ‘n vonkie van geloof in hom – ‘n kooltjie van liefde in sy hart vir My.

“Vader, Ek sou wou hê dat U na hom kyk as regverdig deur My bloed. Ek sou wou hê dat hy verlos word van die mag van duisternis en die bose. Ek sou wou hê dat hy aanvaar, vergewe en herstel word – en krag uit die hoogte gegee word om die duiwel te weerstaan. Ek bid vir sy verlossing!”

Die volgende dag tel hierdie man sy Bybel op en lees ‘n kragtige waarheid wat hy nog nie tevore gesien het nie. Hy val op sy knieë neer en God kom na hom toe met verlossing – omdat die Hoëpriester gebid het!

Liewe heilige, dit maak nie saak waardeur jy gaan nie. Jesus was daar en het in jou skoene gestaan. En dit is wat van Hom ‘n barmhartige Hoëpriester gemaak het! Jy hoef nie vir Hom van al jou pyn te vertel nie. Hy weet alles daarvan - omdat Hy dit self gevoel het! Ons het nog deur niks gegaan wat Hy nie gevoel het nie.

Jy mag dink, “Wag ‘n bietjie. Hoe kan Jesus daagliks bid, tegelykertyd, vir miljoene gelowiges een op ‘n slag – en menigvuldige miljoene oortreders?

Dit is ‘n dom vraag – veral as jy dink dat ‘n klein rekenaarskyfie in staat is om miljoene stukkies data te stoor en uit te stuur! ‘n Dataskyfie so groot soos ‘n vingernael is in staan om biljoene transaksies te doen. En as dit waar is van ‘n piepklein geheueskyfie, hoe groot moet die verstand van God nie wees nie – in staat om elke menslike gedagte en daad te monitor?

Jesus is inderdaad in staat om al die behoeftes, pyn, uitroepe en gebede van Sy mense voor die Vader te bring – een op ‘n slag, op enige tyd – en tegelykertyd voorbidding te doen vir hulle almal. Jou Advokaat ken jou adres. Hy het al jou hare op jou kop getel. En Hy ken al jou gedagtes, voel al jou pyn, hoor al jou uitroepe. Wees bemoedig, geliefde: Jesus bid vir jou! Halleluja!