Christus, die Deursoeker van Mense se Harte

David Wilkerson

Christus het sy kerk lief. Hy het sy lewe daarvoor gegee en het gesê die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie. Jesus self is die fondamentsteen van sy kerk. En die Skrif vertel vir ons dat sy heerlikheid en wysheid daarin woon. By Pinkster, het Hy sy Heilige Gees gestuur om die kerk te vestig. En Hy het dit geseën met gesalfde dienaars — herders, leraars, apostels, profete en evangeliste — met die doel om dit op te bou.

Dit is duidelik dat die Here begeer om sy kerk te seën. So, waarom skets Openbaring 2 so ‘n vreesaanjaende beeld van Christus wanneer Hy aan sy mense verskyn? Johannes skryf dat Jesus na sy kerk gekom het met vlammende oë en ‘n donderende stem:

“En tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens...Sy hoof en hare was wit soos wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan” (Openbaring 1:13-16).

Openbaring is die opsomming van God se Woord. Dit beskryf die einde van alle dinge. En hier is die eerste beeld van Christus wat ons in hierdie boek sien. Waarom lyk Jesus hier so onheilspellend? En waarom praat Hy so deurdringend met sy kerk? Johannes skryf dat Christus se woorde so skerp soos swaarde is en sny tot op die murg. Onthou, dit was die apostel wat met sy hoof op Jesus se bors gelê het. Maar nou vind hy homself op sy aangesig: “En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete” (Openbaring 1:17).

Die Here self verduidelik sy ontsagwekkende verskyning: “En al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke” (Openbaring 2:23). Christus het immers sy kerk lief. En dit is die rede waarom Hy gekom het om dit te ondersoek. Hy kom om sy mense in liefde te tereg te wys om hulle te suiwer.

Eerstens, Jesus het vir Johannes gesê om nie bang te wees nie. “Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste” (Openbaring 1:17). Toe het Jesus in wese gesê, “Ek wil hê dat almal in my kerk moet weet dat Ek gekom het om die innerlike mens te deursoek. En Ek doen dit met oë van vuur en donder wat die siel skud. Ek sal nie doekies omdraai nie — wat Ek te sê het, sal beide deurboor en genees. Maar Ek sal nie toelaat dat enige van my kinders voortgaan in apatie of blindheid nie. My oë en mond sal deur elke fasade dring.”

Christus het iets in sy kerk gesien. En Hy het Johannes beveel om sy woorde neer te skryf en aan die sewe “engele” van die kerke te stuur. Dit verwys na die bedienaars en noem hulle sterre in sy hande (sien Openbaring 1:16). Hy vertel vir Johannes, “Ek het hierdie dienaars lief. Ek het hulle geroep en gesalf. En nou moet jy my woorde vir hulle gee.”

As ‘n herder, moet ek wonder: hoe sou dit wees om so ‘n brief van Johannes oop te maak? “Aan die herder van die kerk in New York: So sê die Here aangaande jou gemeente...” Stel jouself voor hoe daardie bedienaars moes gevoel het.

Neem as voorbeeld die herder by Éfese. Terwyl hy Johannes se brief gelees het, het hy gesien hoe Christus juig oor sy kerk. Die Here prys die Efésiërs omdat hulle hardwerkend, geduldig en onderskeidend is. Hulle haat goddeloosheid en hulle staan op vir die saak van Christus. En deur die jare, het hulle nooit opgehou om goeie werke te doen nie. Hierdie herder verwonder hom oor wat hy lees. Hy dink, “Sjoe, die Here is tevrede met ons. Dit is ‘n brief van aanprysing.”

Maar soos hy verder lees, kom hy op deurdringende woorde af: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openbaring 2:4). Jesus waarsku die herder, “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal hou kandelaar van sy plek verwyder” (Openbaring 2:5).

Die Efésiese herder moes hieroor geskok gewees het. Hy dink, “Bekeer? Of Hy sal ons getuienis verwyder? Watter skokkende woorde. Hoe kan dit wees? Ons is verbondsgelowiges. Ons is deur geloof geregverdig. Ons is vrygewig, liefdevol en sorgsaam. Nou is ons veronderstel om terug te gaan na waar ons begin het? Wat beteken dit? Hoe kan dit Jesus wees wat praat? Hoe kan ek ooit hierdie brief aan my gemeente lees?”

Hou in gedagte, hierdie woorde word gerig aan ‘n goddelike gemeente. So, dit moes ‘n ernstige saak in die Here se oë gewees het. Waarom anders sou hy so deurdringend gepraat het van so ‘n skitterende voorbeeld van ‘n kerk? Hy vertel die herder, “Jou eerste liefde vir my is nie wat dit eens was nie. Bekeer jou nou.” Jesus maak dit duidelik: dit het alles te doen met sy teenwoordigheid. Ja, die Efésiërs het ywerig gewerk om goeie dade te doen. Maar hulle was nie langer intiem met die Here nie.

In die volgende hoofstuk, som Christus sy boodskap aan al sewe herders en hulle gemeentes op. En sy woorde is belangrik: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20). Te dikwels, maak Christene nie die deure van hulle harte vir Jesus oop nie. Wanneer Hy klop, is hulle nie eers tuis nie. In plaas daarvan, is daar ‘n boodskap op die deur wat sê, “Liewe Here, ek is by die hospitaal om daar te gaan bedien en is dan later by die tronk. Sien U in die kerk.”

Deesdae doen soveel kerke baie goeie liefdadigheidswerk in Christus se naam. Hulle het programme vir bykans elke menslike behoefte. En die gemeente leef rein, opregte lewens en is versigtig om sonde te vermy. Maar iets omtrent hulle het verander. Eens was hierdie gelowiges toegewy aan hulle gemeenskap met Jesus. Hulle sou nie ‘n enkele dag laat verbygaan sonder om alleen saam met Hom tyd te spandeer nie. Maar nou is dinge anders. Al wat hulle Hom gee, is ‘n vinnige groet op pad na een of ander werk. Hoe ernstig is dit vir Jesus?

Jesus waarsku ons, “Iets het in my kerk verlore gegaan. Dit is my ontsagwekkende teenwoordigheid. Jy moet terugkeer na die binnekamer, terug daarna om met My maaltyd te hou. Anders, sal Ek my teenwoordigheid van jou af verwyder. Al jou goeie werke — jou prediking, evangelisasie en gawes — moet vloei uit ons tyd saam. Dit moet van my tafel af kom.”

Die kerk by Éfese het iets verloor wat hulle eens gehad het. Dit was die geopenbaarde teenwoordigheid van Christus in hulle midde. Hulle het begin om Jesus se teenwoordigheid as vanselfsprekend te aanvaar en dit het hulle bediening beïnvloed. Eens op ‘n tyd het hulle mekaar liefgehad en vir mekaar gesorg. Maar nou het hulle mekaar ook as vanselfsprekend aanvaar. En dit het ‘n rampspoedige effek gehad op hulle arbeid om goeie dade te doen. Hulle was so besig om mense te bedien, dat hulle dade die fokus geword het en nie die liefde vir Christus nie. Sy magtige teenwoordigheid was weg.

Nou het Jesus hulle gewaarsku: “As julle nie veranderinge maak nie — as julle nie terugkeer na julle honger vir My nie — gaan ek julle getuienis wegneem. Julle sal nie meer enige gesag hê wanneer julle jul goeie werke doen nie. Dit sal alles verniet wees.”

Ek sien ‘n parallelle ooreenkoms in die wêreld vandag. Sommige van die hardste mense wat ek ken, is diegene wat vir maatskaplike departemente en sosiale agentskappe werk. Dit is veral waar van diegene wat in sielsieke sale of met mishandelde kinders gewerk het. Hierdie mense was opregte, toegewyde werkers. Maar dit was vir hulle net te pynlik om die lyding wat hulle daagliks gesien het, te hanteer. Met verloop van tyd, het sommige hulself verhard.

Dieselfde ding kan ook met Christene gebeur. Bedienaars en lekepredikers sien so baie pyn en sonde in die mense wat hulle bedien, dat hulle hard kan word. Dit is presies wat Jesus vir hierdie herder by Éfese gesê het: “Jy was eens so teer met ander. Jy het so ‘n liefde vir mense gehad en jy het na hulle geluister. Maar nou het jy ‘n dowe oor. Jy sit met hulle, maar jy het jouself verhard teenoor hulle hulpgeroep. Jy doen bediening op ‘n trapmeul, met geen lewe nie. Ek het geen ander keuse as om my teenwoordigheid van jou te verwyder nie.”

Ek was al in kerke waar die Here sy teenwoordigheid vir ‘n tydperk verwyder het. Daar is ‘n doodsheid en droogheid wat amper tasbaar is. Almal kan dit aanvoel. God praat met daardie kerk en sê, “Ek sal dinge vir ‘n tyd lank laat afkoel. Ek wil jou uit jou lusteloosheid uithaal. Ek wil hê jy moet weet hoe dit voel sonder my teenwoordigheid.” Dit is absoluut verskriklik wanneer ‘n kerk hierdie punt bereik. Daar is geen oortuiging van sonde van die Heilige Gees nie, niks wat die gemeente beweeg nie en niks wat die jongmense aanraak nie.

Nog ‘n ernstige newe-effek vind plaas. Dit is dat geestelik honger mense nie daar sal bly waar Jesus se teenwoordigheid nie waarneembaar is nie. Hulle is desperaat om sy nabyheid te ken. En wanneer hulle dit nie ervaar nie, gaan hulle êrens anders om dit te vind. Ek ontvang baie briewe met dieselfde klagte: “Ek kan nie ‘n kerk kry wat lewend met die Here se teenwoordigheid is nie.”

Ek het die tragiese terugval gesien van baie Christene wat so gevoel het. Hulle vind nooit ‘n kerk nie. Op die ou end sit hulle by die huis en kyk na predikers op TV. Hulle kry nooit enige vleis in hulle geestelike diëet nie. Alles wat hulle inneem, is lighartigheid. Met verloop van tyd, sluip koudheid in. Gou het hulle heeltemal met kerk weggedoen. Hulle versuim die onderlinge byeenkomste, waarteen Hebreërs waarsku (sien Hebreërs 10:25). En hulle het heeltemal onverskillig geword teenoor Christus en sy teenwoordigheid.

Ek sê vir jou, God sal nie enige verskonings van sulke mense aanvaar nie. Jesus kan enigiemand se alles in alles wees as jy aanhou met jou persoonlike gemeenskap met Hom. Dit maak nie saak wat die toestand van jou kerk is nie; jy moet ywerig wees daarin om Hom kosbare tyd te gee. Jy moet diep uit sy teenwoordigheid drink as jy wil hê dat sy Woord lewend vir jou moet word.

In die lig van Openbaring 1-3, moet elke gelowige hom- of haarself afvra: “Het my goeie werke — my Bybelstudies en my diens — my beroof van tyd saam met Jesus? Honger ek steeds na Hom soos tevore? Of het ek iets verloor?”

Die kerke wat Jesus in Openbaring 2-3 aangespreek het, was sewe letterlike gemeentes in Asië. Sommige Bybelskoliere glo dat hierdie kerke sewe era’s in die kerk se geskiedenis verteenwoordig. Ek wil nie daardie teologiese punt argumenteer nie. Ek glo eenvoudig dat hierdie boodskap vir Christene van elke generasie is. Kortliks, Jesus deurdoek sy mense se harte in elke eeu. Hy is begaan oor enige geestelike blindheid wat sy kerk teister.

Die Here het ‘n probleem met vyf van die sewe kerke in hierdie gedeelte. Ek wil net op drie fokus: Éfese, Thiatire en Laodicéa.

Ons het alreeds gesien dat die probleem met Éfese die gebrek aan intimiteit met Christus was. Die probleem in Thiatire het hiervan verskil. Dit was ‘n flirtasie met verleidende, duiwelse bedienings. Stel jou voor die herder se reaksie as hy hierdie woorde lees: “En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatire: Dit sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam” (Openbaring 2:18). Jesus het sy kerk deur vlammende oë van heilige woede gesien.

Die brief gaan egter voort met ‘n aanprysing: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste” (Openbaring 2:19). Weereens sê Christus in wese, “Ek ken jou werke. Jou liefde, geloof, diens en lydsaamheid is nou meer as toe jy begin het.” Die beste van alles is dat die Here hulle vertel, “Ek weet dat julle My liefhet.” Hy wys hulle nie tereg oor die verlies aan intimiteit met Hom nie.

Maar dan lees ons hierdie deurdringende woorde: “Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet” (Openbaring 2:20).

Wie presies is die Isébel wat hier genoem word? Jesus praat van valse herders. Hy bestraf die herder in Thiatire omdat hy gierige bedienaars wat sy mense verlei, verdra: “Julle laat toe dat wellus-gevulde bedienaars vrylik van julle kansels af praat. Hulle kom as engele van die lig en hulle gebruik bose misleidings om my mense te verlei.”

Die Isébel verwysing hier, dui op meer as net bedienaars wat gierig is. Hierdie valse herders ontwerp planne om hulle wellustige begeertes uit te leef en te vervul. Eenvoudig gestel, die naam Isébel is ‘n bynaam vir alles wat boos en afskuwelik in die oë van die Here is.

Wat ‘n verwarrende beeld is dit nie. Hier is mense wat die Here liefhet, ywerige mans en vroue van God. Hulle het volhard, hulle het getrou gegee en hulle het Jesus lief. Hoe kon hierdie gelowiges aangetrek word deur valse profete? Hoe kon hulle ooit verlei word deur goddelose bedienaars wat God verag?

Dit mag jou skok, maar ek sien presies hierdie ding gebeur regoor hierdie land. Wolwe wat daarop uit is om die skape te beroof, praat nou in kerke wat eens bekend was vir hulle heilige boodskap. As die herder gevra word waarom hy dit toelaat, erken hy, “Hierdie predikers trek ‘n skare. Mense kom kerk toe.” Hy laat egter toe dat valse profete die voedsel van Satan self bedien: ‘n selfgesentreerde evangelie van gierigheid.

Neem jy hier ‘n teenstrydigheid waar? Jesus self noem die herder by Thiatire ‘n man van liefde en goedheid. Hierdie einste man verdra egter bedienaars van gruwelike sonde, herders wat mense se vlees opwek en vir hulle wellus voorsiening maak. Hulle bring bose konsepte in wat ‘n valse gevoel van herlewing veroorsaak. En hulle lei die mense in demoniese verleidings in.

Diep in hierdie herder se hart, weet hy hulle evangelie is nie suiwer nie. Maar hy wil nie keer dat die skares kom nie. En nou vertel Christus vir hom, “Jy verdra hierdie wolwe se verleidings. En jy is blind vir wat dit aan jou mense doen. Hulle sluip weg agter hierdie predikers se byeenkomste aan. En hulle word gelei na verwoesting. Hulle het begin hoereer en eet voedsel wat aan afgode geoffer is. Maar jy weier om hulle te waarsku. Ek het jou geroep om ‘n herder vir my skape te wees, maar jy beskerm hulle nie. Waarom verdra jy hierdie boosheid? Waarom verhef jy nie jou stem nie?”

Een van die eerste verpligtinge van alle herders is om die preekstoel suiwer te hou. Hy mag nie toelaat dat iemand daarin staan en ‘n valse woord bring nie. Dit mag vir jou klink na ‘n kwessie van beheer, maar dit is wat God vereis. Jy sien, Christus praat nie hier van seksuele hoerery nie. Hy praat van ‘n goddelose juk, ‘n sensuele gemeenskap, ‘n gee van jouself aan die mag van ‘n valse bediening. En Jesus se waarskuwing is duidelik: “Jy sit aan die tafel van ‘n opwinding wat van die vlees is. Dit is ‘n evangelie wat wellus bevredig. En jou geestelike lewe is op die spel.”

Onthou, dit is nie teruggevalle gelowiges wat Jesus aanspreek nie. Hy praat met liefdevolle Christene wat jou alles sal gee wat hulle het. Maar hulle word aangetrek deur die evangelie van die vlees. Hulle luister na subtiele stemme wat fluister, “Jy moet hierdie man hoor praat.”

Regdeur die evangelies, waarsku Jesus oor valse herders wat kom om talle te verslind en te mislei. Ek is egter geskok deur die gebrek aan onderskeiding in menigtes wat daardie valse evangelies aanhang. Het dit met jou gebeur? Voed jou siel op een of ander TV evangelie wat eintlik demonies is? Drink jy van ‘n boodskap van voorspoedspredikers wat byval vind by jou begeertes en die laaste sent van die bejaardes neem?

Jy mag dink, “Watter skade is daar om na hulle te kyk? Dit kan my nie skade doen om te hoor wat hulle sê nie. Buitendien, dit alles voel of dit van die Here is.” Nee! As jy goddelose herders verdra, dan is jy in die bed met duiwels. Jy hoereer met boosheid.

Moenie verkeerd verstaan nie: Ek praat nie van ál die TV evangeliste nie. Maar Christene wat kan onderskei, ken die verskil. Jesus praat van sulke goed gegronde heiliges, wat deur die motiewe van vleesgedrewe predikers sien: “Die wat die dieptes van die Satan...nie leer ken het nie” (Openbaring 2:24). Christus draai nie doekies om oor hierdie geldgrypende bedienaars nie. Hy sê, “Hulle trek siele af tot in die diepstes van die hel.” Ja, hierdie bedienaars verkondig Christus, maar nie die Christus van heerlikheid nie. Ja, hulle verkondig ‘n woord, maar dit is nie Christus se Woord nie. Dit is ‘n evangelie besmet met leerstellinge van duiwels.

Die Here sê van sulke bose herders, “En Ek het haar (Isébel) tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie” (Openbaring 2:21). Hy sê in wese, “Ek was geduldig met hierdie valse profete en evangeliste. Ek het hulle herhaaldelik gewaarsku. Hulle het oorgenoeg tyd gehad om hulle van hulle boosheid te bekeer. Maar hulle het geweier.”

Toe het die Here hierdie waarskuwing gerig aan elke regverdige bedienaar van sy Woord: “Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak” (2:22-23). Jesus praat hier nie net van valse profete nie. Hy sluit almal in wat na hulle luister en hulle ondersteun. Op die ou end beland almal in ‘n aaklige toestand van siekte en geestelike dood.

Esegiël sê sulke gelowiges het hulle “hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het” (Esegiël 16:15). Met ander woorde: “Julle hardloop agter al hierdie valse bedienaars aan. Maar hulle gebruik julle net. Hulle maak handelsware van julle en laat julle gewond en geestelik dood agter.”

Ten slotte vermaan Jesus diegene wat getrou teen Isébel-bedienaars gestaan het: “Hou maar net vas wat julle het, todat Ek kom” (Openbaring 2:25). Hy sê in wese, “Julle het ware onderskeiding geleer. Julle sal nie toelaat dat julle deur elke wind en golf van lering rondgeslinger word nie. So, vir nou, hou net vas. Moenie toelaat dat julle mislei word nie. Dit is al wat Ek vra. Ek sal nie enige ander las op jou lê totdat ek weer terugkom nie” (sien Openbaring 2:24).

Jesus gee nie ‘n enkele aanprysing vir die kerk van Laodicéa nie. In plaas daarvan, lees die herder, “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm. Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Dit is vreesaanjaende woorde van die Here.

My vraag is, hoe kan ‘n hele kerk in dieselfde gevaarlike posisie beland? Hoe kan almal so geestelik blind wees dat hulle louwarm word? Daar word niks genoem van ‘n heilige oorblyfsel in hierdie liggaam nie. Christus beskryf hulle almal as “ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak” (Openbaring 3:17). Hoe kan dit wees? Hoe kan enigiemand ellendig, arm en kaal wees en dit nie weet nie?

Dit het gebeur omdat hierdie mense verblind was deur ‘n gruwelike leuen. Die Laodicense was baie materialisties, ryk en voorspoedig. (Dit kon ‘n vermeerdering in getalle en invloed, sowel as geld beteken het.) En hulle was heeltemal tevrede met hulself.

Aan Christene wat nie onderskei nie, het hierdie kerk gefloreer. Mense was lief daarvoor en was daardeur aangetrek. Maar toe Christus dit deurgrond het, was Hy geskok deur wat Hy gesien het. Hierdie Laodicense was verblind deur ‘n leuen. En daardie leuen was, “Ek is oukei. Ek is geestelik daar waar ek veronderstel is om te wees. Ek het nie verander nie. Ek is steed dieselfde, toegewyde Christen. Ek is ‘n regverdige, aan die brand gelowige.” Jesus sê hulle het van hulleself verklaar, “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks ‘n gebrek nie” (Openbaring 3:17).

Vir my, verteenwoordig hierdie gemeente die kapitalistiese waansin van die hedendaagse Amerikaanse kerk. Ons nasie is ‘n kapitalistiese gemeenskap, wat eenvoudig beteken, “altyd toenemende groei.” En die besigheidswêreld het ‘n leuse: “Groei of sterf.” Alles moet altyd groter wees. Daarom moet jy die dryfkrag besit om dinge die grootste en beste te maak.

Dit is goed vir besighede. Maar hierdie mentaliteit het die kerk geïnfiltreer. Amerika sien ‘n “kapitalistiese Christendom.” Die doel is nie meer geestelike groei nie, maar groeiende getalle, eiendomme en finansies. En bedienaars word vasgevang in hierdie waansin.

Jesus se oordeel oor die Laodicense is deesdae van toepassing op baie kerke: “Julle besef nie eers wat met julle gebeur nie. Julle blindheid het veroorsaak dat julle louwarm word. En julle sien dit nie eers nie. Julle dink steeds julle is warm vir My.”

In Éfese, was die kerk se sonde dat hulle intimiteit met Jesus verloor het. In Thiatire, was dit ‘n verlies aan onderskeiding en ‘n flirtasie met geestelike hoerery. Nou, in Laodicénse, sien ons die ergste sonde van alles: ‘n verlies aan alle behoefte vir Christus.

Op die ou end veroorsaak dit naaktheid. Jesus beskuldig die Laodicense van hulle naakte toestand: “die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie” (Openbaring 3:18). Die Griekse woord vir naaktheid hier beteken “gestroop van hulpbronne.” Jy sien, God reserveer sy hulpbronne vir diegene wat van Hom afhanklik is en op Hom vertrou in hulle nood. Wat is sy hulpbronne? Dit is ware geestelike rykdom: sy mag, sy wonderwerkende krag, sy goddelike leiding en sy gemanifesteerde teenwoordigheid. Christus het hierdie selfaangewese kerk gewaarsku: “Ek het jou gestroop van al my hulpbronne. Maar moenie dink dat julle dit nie nodig het nie. Julle is heeltemal verarm, maar julle herken nie julle toestand nie.”

Stel jou voor ‘n gemeente wat gemaklik deur ‘n een-uur aanbiddingsdiens sit. Hierdie Christene hoor ‘n kort diens oor hoe om die lewe se spanning te hanteer. Daarna is hulle gou by die deur uit. Hulle beleef nie enige behoefte om gebroke of verslae voor Jesus te wees nie. Hulle voel nie die behoefte om aangeraak of van sonde oortuig te word deur ‘n deurdringende boodskap nie. Daar is geen uitroep van, “Here, maak my sag en breek my. U alleen kan my honger stil” nie.

Waar is die ywer wat hulle tevore gehad het? Hierdie gelowiges was eens ywerig om kerk toe te gaan, om God se Woord te raadpleeg, om hulle harte bloot te lê voor die Gees se soeklig. Maar nou dink hulle hulle het dit alles ontgroei. So, hulle het hul Christenskap beperk tot Sondagoggende. Dit is egter ‘n godsdiens van louwarmheid.

Jesus het hierdie Loadicensiese herder en sy gemeente so liefgehad dat Hy vir hulle laat weet het dat Hy drastiese maatstawwe sou inbring. Hy het hulle vertel dat Hy ‘n behoefte in hulle sou skep vir sy hulpbronne: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (Openbaring 3:19). Sy liefdevolle hand het hulle kom tugtig. En Hy sou dit doen deur ‘n behoefte in hulle te skep om te roep na sy krag en hulp.

Geliefde, Christus spreek met ons dieselfde woorde vandag. Hy vertel vir ons, net soos vir die Laodicense: “Dit gaan alles oor om met My maaltyd te hou. Dit behels om wanneer Ek klop, die deur te antwoord. En Ek roep nou uit na jou, om te kom om met My gemeenskap te hou. Ek het alles wat jy nodig het. En die kwaliteit tyd wat jy met My spandeer, gee vir jou koopkrag. Dit is hoe jy my hulpbronne verkry. Jou gemeenskap met My gee vir jou wat jy nodig het om in die bediening voort te gaan. Dit moet alles kom uit die tyd wat ons saam deurbring.”

Dit is hoe Christus se kerk sy getuienis in hierdie laaste dae sal behou. Amen!