Beheers deur die Woord van God (Deel 2)

David Wilkerson

Ek wil vir jou wys wat met ‘n nasie gebeur wanneer sy leiers – sowel as God se mense in daardie land – die Bybel as die Here se goddelike stem verwerp. Wanneer die gesag van die Skrif verwyder word, volg chaos vinnig daarna – en oordeel verskyn voor die deur.

Ek weet van geen nasie op aarde wat deur God se heilige woord beheers word nie. In baie Moslem lande, onderwerp die mense hulself aan die gesag van die Koran en Mohammed se woord is wet. Maar in nasies wat veronderstel is om Christen nasies te wees, bestaan daar geen so ‘n onderwerping aan die heilige Skrif nie.

Amerika laat dit sekerlik nie toe om meer deur God se woord regeer te word nie. Ons puriteinse voorvaders het hierdie nasie op die Bybel gestig en het ‘n stelsel van regering tot stand gebring om deur die gesag van die Skrif beheers te word. Nou gooi ons leiers God se woord eenkant toe asof dit ‘n juk van slawerny is. Hulle het nie net die Bybel verwerp nie, maar het alles moontlik in hulle vermoë gedoen om dit van ons samelewing te verwyder. Dit is nou polities korrek om God se heilige woord te verag.

Ek sê vir jou, dit is heeltemal noodlottig vir enige nasie om die Bybel se gesag te verwerp en om die waarskuwings en pleidooie van God se wagte te ignoreer. Amerika mag geoordeel word vir ander spesifieke sondes – maar om God se woord te verwerp as ons maatstaf, sal sekerlik oordeel oor ons land bring.

Sommige Christene maak beswaar en sê, “Amerika is ‘n sendingnasie. As God ons oordeel, wie sal die wêreld evangeliseer?” Eens was die dieselfde waar vir Israel. God het daardie nasie geroep om ‘n lig vir die res van die wêreld te wees. Tog, ten spyte van Israel se ontsaglike roeping, het die Here oordeel oor hulle gebring. En nou staar Amerika dieselfde soort oordeel in die gesig.

As Paulus sê die hele Ou Testament is bedoel vir ons lering vandag (sien 1 Korinthiërs 10:11 en Romeine 15:4), dan verskaf die boek Jeremia vir ons ‘n fokusles oor hierdie onderwerp van verwerping van God se woord. Hierdie les begin in die vierde jaar van Koning Jojakim se heerskappy oor Juda.

Teen daardie tyd het God die profeet Jeremia beveel om al die profetiese waarkuwings wat hy oor die voorafgaande drie-en-twintig jaar gelewer het, neer te skryf. Gedurende daardie tydperk, het Jeremia gewaarsku dat ‘n groot dag van afrekening aan die kom was, weens Jojakim se bose oupa, die berugte, bloeddorstige Koning Manasse.

Manasse het die tempel verander in ‘n afskuwelike sentrum vir afgodery. Hy het gespeel met towery en het dodebesweerders en waarsêers aangestel. Hierdie bose man het God se woord verag, sy wette vertrap en sy gebooie verwerp. Die Skrif sê, “En Manasse het hulle (Israel) verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders uit verdelg het” (2 Konings 21:9).

Trouens, Manasse se hande was bevlek met die bloed van onskuldiges: “En Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het, behalwe sy sonde waarmee hy Juda laat sondig het om te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE” (vers 16).

Die gevolge was nasionale chaos en oordeel aan die hand van ‘n woedende God. Die Here het veklaar: “Omdat Manasse, die koning van Juda, hierdie gruwels gedoen het – erger as alles wat die Amoriete gedoen het wat voor hom was, en selfs Juda laat sondig het deur sy drekgode – daarom, so sê die HERE, die God van Israel: Kyk, Ek sal ‘n onheil oor Jerusalem en Juda bring, waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit” (vers 11-12). “En Ek sal...Jerusalem wegvee soos ‘n mens ‘n skottel uitvee: hy vee dit uit en keer dit onderstebo” (vers 13).

God het in wese gesê, “Ek gaan jou nasie so hard oordeel, dat jy dink jou wêreld is onderstebo gekeer. Selfs jou vyande sal nie glo wat hulle hoor wat Ek aan jou gedoen het nie.” Selfs al het Manasse hom uiteindelik bekeer, sou God nie die oordele ophef nie. Hy sou hulle net vir ‘n tydperk uitstel.

Ons kan dit nie ontken dat ons nasie in ‘n soortgelyke toestand verkeer vandag nie. Ons het meer as 30 miljoen baba’s se bloed vergiet deur aborsie. Hoe kan ‘n heilige God maak of Hy hierdie oseaan van onskuldige bloedvergieting van oor die 3,000 myl wyd en 2,000 myl breed nie sien nie? Hoe kan Hy die jammerlike geskreeu van hierdie dooie kinders ignoreer?

God het Manasse vir baie minder geoordeel. Die bloedvergieting wat ons nasie veroorsaak deur aborsie, is meer wat daardie bose koning in ‘n leeftyd kon veroorsaak het. En nou staar ons nasie dieselfde oordeel in die gesig as wat Manasse beleef het – omdat dit weier om enigiets te doen om die slagting van hierdie kinders te stop, selfs in die laaste trimester.

Hoe kan Amerika aanhou om sy ongeborenes dood te maak? Ons doen dit omdat ons weier om te glo wat God se woord sê oor die vergieting van onskuldige bloed. As ons ‘n nasie was wat waarlik in die Bybel geglo het, sou hierdie verskriklike tragedie nooit plaasgevind het nie.

Manasse se seun, Josia, het gebewe voor die woord van die Here. Die Bybel sê toe hy die troon opgevolg het, het hy “geheel en al in die weg van sy vader David gewandel en nie links of regs afgewyk nie” (2 Konings 22:2).

Onder Josia se heerskappy, het Juda se hoëpriester die heilige Skrifte gekry waar dit gelê het in ‘n stowwerige hoek van die tempel. Hy het die boekrol vir ‘n skrywer gegee en hom gestuur om dit vir Josia te lees. Die Skrif sê vir ons, “En toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy sy klere geskeur” (vers 11).

Josia het God se woord ernstig opgeneem en gebewe toe hy dit gehoor het toe dit hardop gelees is. Hy het besef, “Ons het die flitspunt van sonde waarvan Moses gepraat het, bereik. Ons is onder oordeel.” En onmiddellik het Josia onder die gesag van God se woord gekom.

Die koning het verteenwoordigers na die profetes Hulda gestuur om te vra, “Wat moet ons doen? Die toorn van God is teen ons weens ons sondes.” Hulda het in wese geantwoord: “Die oordeel wat God belowe het om oor Jerusalem en Juda uit te stort, staan steeds. Maar omdat jy jouself voor Hom verneder en geween het toe jy gehoor het wat Hy gespreek het, sal jy nie die onheil wat Hy belowe het om oor die nasie te bring, sien nie” (sien verse 15-20).

Wat ‘n verstommende woord: Josia sou nooit die oordeel as gevolg van sy bose vader, Manasse, op Juda sien neerkom nie. Tog het hierdie goddelike man hom dadelik beywer om die nasie te laat voldoen aan God se woord. Vir die volgende een-en-dertig jaar, het hy elke keer as hy ‘n nuwe insetting uit die Skrif geleer het, homself bekeer en gehoorsaam daaraan geword. En sy gehoorsaamheid het ‘n ongekende tyd van seën en voorspoed in Juda ingelei.

By voorbeeld, toe Josia gelees het dat homoseksualiteit verkeerd was, het hy teen al die skandseuns in die land opgetree. En toe hy God se haat vir afgodery ontdek het, het hy al die heidense altare en afgode verpletter. Ook toe hy hoor dat God menslike offers gehaat het, het hy hardop gehuil. Josia het voldoen aan God se woord, bloot omdat hy dit gevrees het.

Gedurende die laaste negentien jaar van Josia se heerskapy, het Jeremia begin om te waarsku oor die oordeel wat steeds oor Juda sou kom: “En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg...Maar julle het geen gehoor gegee en na My nie geluister nie...Kyk, Ek bring oor Juda oor al die inwoners van Jerusalem al die onheil wat Ek teen hulle gespreek het” (Jeremia 35:15,17).

God het oordeel oor Juda gespreek sewe-en-twintig jaar tevore. Waarom sou Hy sy oordeel nóú bring? Hy het geweet die mense van Juda het nie Josia se ywer vir die Here gedeel nie. Hulle bekering was nie ‘n ware hartsbekering nie. Hulle het die Here slegs lippediens gegee, terwyl hulle harte oorgegee was aan afgodery.

“Omdat Ek met hulle gespreek, maar hulle nie geluister en Ek hulle geroep, maar hulle nie geantwoord het nie” (vers 17). “Wil julle hieruit geen lering trek om na my woorde te luister nie?...julle het na My nie geluister nie” (verse 13-14).

God het in wese gesê, “Skud my volk, Jeremia – roer hulle harte. Miskien sal hulle dan hul bose weë raaksien en hulle bekeer. Dan kan Ek hulle vergewe, reinig en herstel.” Dit is die rede waarom God gedurig wagte stuur om sy mense te waarsku: Dit is omdat Hy hulle liefhet. Sy waarskuwings is bloot uitdrukkings van sy groot barmhartigheid.

Vandag verskil Christene egter nie van die mense wat Jeremia gewaarsku het nie. Soos hulle, roep ons, “Pastoor, asseblief – moenie meer harde boodskappe bring nie. Preek vir ons maklike dinge.” Baie wil hulle nie onder die heerskapy van God se woord bring nie.

Ons sien hierdie gesindheid in hoofstroom kerke. Hulle beweeg nader aan ‘n eenheid van kerke, wat die Skrif as die woord van God verwerp, terwyl hulle daarop aanspraak maak dat hulle hul verskille ter syde te stel in ‘n pleidooi vir liefde en eenheid. Hulle verwerp egter ook God se woord in hierdie proses. Die groot Reformatoriese leerstellinge waarvoor duisende gelowiges met hulle lewens betaal het, is in gedrang: verlossing deur geloof alleen, regverdigmaking deur geloof. Deur terug te keer na verlossing deur werke, omhels hierdie kerkeenheid geregtigheid deur werke alleen – en dit is die leerstelling van die Antichris.

Hierdie wêreld kerk unie beweeg ook nader daaraan om homoseksuele bedienaars aan te stel. En dit is reguit uit die put van die hel. Die kerkleiers gaan egter voort om die waarskuwings van goddelike stemme, wat hulle dring om nie op te hou om die evangelie van Christus te verdedig nie, te ignoreer.

Toe goddelike Josia gesterf het, het sy seun Jojakim die troon opgevolg. En in die vierde jaar van sy heerskappy, het God vir Jeremia gesê, “Gaan jý dan en lees uit die rol wat jy uit my mond beskrywe het, die woorde van die HERE voor die ore van die volk in die huis van die HERE, op die vasdag” (Jeremia 36:6).

Vers 9 sê vir ons dit was “in die negende maand, het hulle ‘n vasdag voor die aangesig van die HERE uitgeroep – die hele volk in Jerusalem en die hele volk wat uit die stede van Juda in Jerusalem gekom het.”

Jerusalem se leiers het geweet dat die groot Chaldeerse leër in aantog was. Hulle het intelligensie verslae ontvang dat hierdie oorweldigende vyand deur die land marsjeer het met die doel om Jerusalem te omver te werp en die tempel te vernietig.

So, na sewe-en-twintig jaar, het Jeremia se waarskuwings inslag gemaak. Gou het almal in Juda in Jerusalem bymekaargekom. En almal was so bekend met die dinge wat God gesê het sou met hulle gebeur, dat dit soos ‘n uitgediende lied geklink het: “Ons gaan geoordeel word vir ons afgodery, omdat ons God se woord verwerp het en omdat ons onskuldige bloed vergiet het. Die Chaldeërs sal Jerusalem oorneem, die tempel vernietig en ons in ballingskap na Babel neem. God se oordeel was vasgestel – dit kan nie vermy word nie.”

Jaar na jaar het daar egter geen oordeel gekom nie. Hoe meer die mense gesondig het, hoe meer voorspoedig het hulle geword. Hulle het Jeremia gespot en gesê, “Jy hou aan om vir ons te sê moeilike tye kom. Maar ons het niks anders as voorspoed gesien nie.” Ek wonder hoeveel bespotting Jeremia verduur het gedurende daardie jare. Het hy ooit die woord wat God vir hom gegee het in twyfel getrek?

Maar Jeremia se woorde het uiteindelik waar geword. Skielik, te midde van al die goeie tye, het Jerusalem se leiers die slegte nuus verneem: “Die Chaldeërs is op ons.”

God het altyd ‘n heilige oorblyfsel. En ek is seker hulle was teenwoordig in Juda in daardie tyd, biddend vir ‘n landswye bekering, soos die land vroeër gesien het onder Esra en Nehemía. Daardie vroeë geslag het gebewe toe Esra die Skrifte gelees het (sien Esra 7:10). En hulle het gereageer deur hulle te bekeer en onder die heerskappy van God se woord te kom.

So nou, terwyl die vasdag in Jerusalem gehou is, het Jeremia sy skrywer Barug gestuur om God se laaste waarskuwing te lewer voor die oordeel aangebreek het. Barug het ‘n boodskap, wat die belangrikste punte van sewe-en-twintig jaar se waarskuwings bevat het, uitgebulder: “En Barug het uit die boek gelees die woorde van Jeremia, in die huis van die HERE...voor die ore van die hele volk” (Jeremia 36:10).

Drie soorte mense het God se woord op daardie dag gehoor. Jeremia 36 beskryf hierdie drie soorte as passiewe hoorders, ontstelde hoorders en pennemes hoorders. Elkeen van hierdie hoorders is vandag in die kerk teenwoordig – en hulle reageer op dieselfde manier as die mense in Jeremia se tyd:

Die vasdag in Jerusalem het ‘n noodlottige een geword. Hoekom? Dit is ongelooflik, maar toe Barug Jeremia se passievolle oproep tot bekering uitgebulder het, het baie luisteraars heeltemal passief gebly. Hulle was heeltemal onaangeraak deur die woorde wat hulle gehoor het: “Maar hy [die koning] het nie geluister, hy het sy dienaars en die volk van die land, na die woorde van die HERE wat Hy deur die diens van die profeet Jeremia gespreek het nie” (Jeremia 37:2).

Kan jy jou die toneel voorstel? ‘n Nasionale vasdag is uitgeroep – ‘n tyd van erns, eerbied en soeke. En nou was die mense ‘n laaste waarskuwing gegee. Hulle vyand het dreunend op hulle afgekom om hulle in ballingskap te neem en hulle na Babel te laat mars. Tog het die Israeliete en daar gestaan en oë knip: niks het geregistreer nie. Die woorde wat hulle gekom het om by God te hoor het by die een oor ingegaan en by die ander een uit.

Ek staan verstom oor die passiewe hoorders wat ek vandag in die kerk sien. Hierdie mense “kom na die vasdag” – woon gereeld kerk by, sing in die koor en hef hulle hande op in lofprysing. Maar hulle bly egter heeltemal passief teenoor die woord wat hulle hoor verkondig word. Hulle herders waarsku, “Die gees van die antichris is reeds aan die werk in die wêreld en mislei talle. Elke volgeling van Christus moet voorberei deur in die Skrif gegrond te wees.” Maar hierdie woorde val op dowe ore.

Sulke Christene het blind geword vir die gevaar waarin hulle verkeer. Eendag gaan hulle in die stryd van hulle lewens wees. Hel gaan sy demoniese hordes voortspuug en die vyand sal inkom soos ‘n rivier. Hierdie gelowiges sal egter gevries wees in ‘n toestand van passiwiteit.

Die woord passief beteken “ontvang van ‘n aksie of woord sonder om daarop te reageer of ‘n reaksie daarop te inisieer.” Beskryf dit jou gesindheid teenoor die Bybel? Jy mag dink die komende dae van oordeel sal jou dryf na God se woord. Maar die Israeliete het ook geweet oordeel was aan die kom en hulle het passief gebly. Jy sal dieselfde doen as jy nie jou nie reeds na God se woord gewend het nie.

Ek erken dat ons geslag ly aan sensoriese oorlading. Ons gedagtes word versadig met beelde en berigte van verskriklike tragedies – vliegtuie wat uit die lug val, massamoorde in skole en kerke, gruweldade wat plaasvind regoor die wêreld. En elke dag, blyk dit dat daar ‘n nuwe gesondheidstudie is wat ons waarsku dat een of ander voormalige onskuldige kos ons nou van kanker laat sterf. Dit kan alles so oorweldigend wees.

Tog is dit net so waar dat ons afgestomp kan word deur ons gemaklike lewens. Ons voorspoed en gemak kan veroorsaak dat ons in ‘n verdowende, diepe slaap verval en ons sus om te glo dat die goeie dae nooit sal eindig nie. Geleidelik sluit ons ons ore en harte toe vir God se woord en die waarskuwings van sy profete.

So was dit in Juda – en so is dit in die kerk vandag. In elke geval, het mense teruggegaan na hulle huise en loopbane terwyl hulle dink, “Hoe moeilik kan dinge word? Ons leiers sal ‘n oplossing vind. In Juda het die mense uiteindelik na die valse profete geluister."

En dieselfde ding gebeur in die kerk vandag. Mense hardloop hier en daar om “woorde” van sogenaamde profete en vleesgedrewe evangeliste te ontvang. Vandag is baie van wat hierdie predikers hulle vertel heeltemal in stryd met die Skrif. En dit is tragies dat talle Bybel-ongeletterde gelowiges nie die valshede kan onderskei nie, want hulle ken nie God se woord nie.

Om ontsteld te wees beteken “om grootliks ontsteld te wees, ongemaklik, onrustig, verward.” Dit beskryf die reaksie van Migája, ‘n beampte in Jojakim se hof. Migája het Barug se boodskap by die vasdag gehoor – en hy het gebewe van skrik. Hierdie man was ‘n deel van Juda se intelligensie insamelingsgroep. En hy het vinnig besef Barug het van dinge gepraat wat niemand kon weet tensy dit deur God self geopenbaar is nie.

Migája het hom gehaas na die koning se hof om oor te dra wat hy en die ander leiers gehoor het. Om te parafraseer, het hy vir hulle vertel, “Menere, ek het ontstellende nuus gehoor. Ek het pas Jeremia se profesie gehoor en dit stem ooreen met ons inligting. So, hy het toe al die tyd die waarheid gepraat al die jare. Die Chaldeërs is te magtig vir ons – ons kan nie teen hulle bly staan nie. En nou kan ons dit nie ignoreer nie. Ons moet luister na hierdie woord van God.”

Die amptenare het besluit om Barug te nooi na ‘n geheime byeenkoms waar hy vir hulle die res van die storie kon vertel. “Daarop neem Barug...die rol in sy hand, en hy het by hulle gekom” (Jeremia 36:14). Toe het Barug hardop begin lees, “Toe hulle al die woorde hoor, het hulle mekaar verskrik aangekyk” (vers 16). Die woord “verskrik” beteken “gebewe.” Hierdie mans het gebewe toe hulle God se woord gehoor het.

Hierdie eerbiedige groep mans verteenwoordig God se heilige oorblyfsel. Terwyl ‘n hele menigte passief en onaangeraak kan wees wanneer hulle God se woord hoor, sal diegene wat met die Here afgesonder is, bewe wanneer hulle sy ontsaglike waarheid hoor.

Ek glo God het ‘n bewende, invloedryke oorblyfsel weggesteek in hierdie laaste uur. Net ‘n paar weke gelede, het ek gehoor van ‘n gebedsbyeenkoms, wat plaasgevind het onder verskeie V.S. Senators. Hierdie mans en vroue het profetiese boodskappe gehoor van ‘n komende oordeel en hulle het gebewe voor God se woord. Nou versprei hulle daardie woord, stil en oordeelkundig onder diegene wat ore het om te hoor.

Ek dank God vir alle ontstelde hoorders – goddelike mans en vroue wat die woord van die Here aanvaar en daarvoor bewe.

Die ontstelde mans in Juda se hof het verklaar, “Ons moet al hierdie woorde sekerlik aan die koning bekend maak” (Jeremia 36:16). Hulle het na Koning Jojakim gegaan waar hy in sy winterhuis saam met sy personeel gesit het en homself by die vuur warm gemaak het. Die somber, goddelike, bewende manne het vir die koning gesê, “’n Onstellende woord het na ons gekom deur die profeet Jeremia. Oordeel staan voor die deur. Dit is alles neergeskryf in die heilige boek. Ons smeek u om te lees wat dit sê.”

Die koning het sy skrywer, Jehúdi, opdrag gegee om die boek te gaan haal. Toe het Jehúdi begin lees, “En elke keer het hy, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het dit met die mes van ‘n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was” (vers 23).

Die bewende mans was verstom oor hierdie astrante daad. Die Bybel sê hulle het “by die koning aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie” (vers 25). Die Skrif voeg by dat die koning se personeel “was nie verskrik nie en het hulle klere nie geskeur nie – die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het” (vers 24).

In ons samelewing vandag gebruik baie regters, politici en ateïstiese magte pennemesse. Hulle is gereed om God se woord op te sny en dit te verbrand om te dit heeltemal uit te wis. Maar hierdie mense sal nooit slaag nie. Toe Barug vir Jeremia vertel het wat die koning gedoen het, het die profeet sy dienaar eenvoudig beveel om nog ‘n boekrol met dieselfde profesieë te skryf, “en nog baie dergelike woorde is daaraan toegevoeg” (vers 32).

God se woord het kragtiger teruggekom as ooit tevore. Jy sien, Jeremia het geweet dat niemand God se boek kan verban nie. Kommunistiese China het dit probeer, tog word miljoene Bybels steeds daar gedruk. Die sluise het ook oopgebars in Albanië. Net ‘n paar jaar gelede, het amptenare daar geroem dat hulle alle Bybels verwyder het. Maar vandag ontstaan kerke orals en Bybels vloei vrylik.

Die Bybel-veragtende Koning Jojakim verteenwoordig ‘n nuwe geslag wat grootgemaak is deur goddelike ouers. Êrens langs die pad het Jojakom sy eie idee oor wie God was, ontwikkel. Iets in sy hart wou nie die gees van hierdie wêreld laat gaan nie en hy het God se suiwer woord verwerp. Hy het op die ou end afvallig geword te midde van groot herlewing.

Hierdie soort jong gelowige word oral gesien vandag. Sulke Christene het grootgeword terwyl hulle groot herlewings sien gebeur het en onder goddelike lering gesit het. Die gees van die wêreld het hulle egter vasgevang en hulle het verslaaf geraak aan die losbandige lewenstyl van die tyd. Byvoorbeeld, baie het in hulle jonger jare geweier om hulle goddelose musiek prys te gee. En nou bespot hulle die ou gesange van hulle ouers. In wese het hulle ‘n pennemes in die hand geneem en daardie geestelike liedere uit hulle lewens uitgesny en dit met vleeslike musiek vervang.

Nou, as volwasse leiers in die bediening, het hierdie Christene pennemesse in God se huis ingebring. Hulle het alle heilige vrees verloor en verag kragtige, Heilige Gees geleide byeenkomste. Hulle kla dat die “ou style” van aanbidding of prediking nie hedendaags genoeg is nie.

Dit het tot tragiese gevolge gelei. ‘n Bedienaarsvriend van my het my onlangs geskakel, moedeloos oor sy tienerseun. Die jongman het aan die drink gegaan en in allerhande moeilikheid beland. Toe die vader ernstig met sy seun gaan praat het, het die seun hom vertel dat sy jeugpastoor gesê het dat dit oukei was om te drink en dat die Bybel dit goedkeur.

Die misleide jeugpastoor het daarop aanspraak gemaak, “Ons leef in ‘n dag van vryheid met geen skuldgevoelens nie. Jy kan drink en Jesus steeds dien.” Nee! Daardie jeugpastoor het ‘n pennemes in sy hande geneem en God se woord versnipper. En in die proses het hy amper ‘n bedienaar se seun vernietig.

Die Skrif sê. “Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie” (Spreuke 22:28). Tog verwyder jong Jojakims in die preekstoele die Bybelgesentreerde grenslyne links en regs. En hulle lei hulle skape verder en verder weg van God se suiwer woord.

Natuurlik, sluit ek nie die hele jonger geslag in nie. Daar is baie goddelike jongmanne en meisies vandag beide op die kansel en in die musiekbedryf wat bewe voor God se woord. Ek wil al hierdie jongmense bemoedig: Ken God se woord. Moenie dit vervang met wat jy dink reg is of wat goed voel nie. In plaas daarvan, bly weg van alles wat in stryd is met wat God se woord sê. Dan sal jy onder sy totale heerskappy kom. En die Here sal jou eer met al die krag en mag van die evangelie.