Aanstoot Neem aan Christus

Wanneer dit lyk of God stadig is om verwagtinge te beantwoord
David Wilkerson

In Matthéüs 11, vind ons Johannes die Doper in die tronk. Sy kragtige, gesalfde bediening aan menigtes in Israel was skielik deur Koning Herodus stopgesit. Die skares wat Johannes vurig gevolg het, het verdwyn. Die “stem van die een wat roep in die woestyn” was stilgemaak.

Johannes se openbare bediening het slegs ‘n jaar geduur. Maar gedurende daardie tyd, het God sy krag deur Johannes se prediking gedemonstreer. Geleerde Sadduseërs het na sy oortuigende boodskappe gaan luister. Selfs die trotse Fariseërs kon nie ophou om na hom te luister nie. Soldate, politici, tollenaars, rykes en armes het almal na Johannes gestroom om die profeet se vurige woorde te hoor.

Jesus self het hierdie goddelike man hoog geag. Hy het van Johannes gesê,  “Onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie” (Lukas 7:28). Christus het ook Johannes geïdentifiseer as die profeet wat Jesaja voorspel het. Johannes was die een wat in voorbereiding vir sy koms, ‘n reguit pad voor die Messias sou maak (sien Jesaja 40:3).

Ons weet dat Johannes ook ‘n student van Jesaja se profesieë was. Die woord wat tot hom gekom het, kon teruggeneem word na Jesaja se geskrifte. En Johannes het na Jesaja verwys toe die priesters en Leviete hom gevra het om homself te identifiseer. Toe hulle gevra het, “Wie is jy werklik?” het Johannes altyd geantwoord, “Ek is nie die Christus nie.” Ten slotte, toe hulle selfs verder druk op hom geplaas het, het Johannes homself geïdentifiseer as die een van wie Jesaja geprofeteer het. Hy het hierdie godsdienstige leiers vertel, “Ek is wie Jesaja sê ek is. Ek is die stem van die een wat roep in die woestyn, ‘Maak reguit die pad van die Here’” (sien Johannes 1:19-23).

Skynbaar was Johannes in die tronk toegelaat om kontak te behou met sy dissipels. Sy volgelinge het vir hom verslae gebring van die wonderwerke en bediening van Jesus. Hierdie verslae moes wonderlik in Johannes se ore geklink het. Dag na dag, het Christus wonderbaarlike werke en wonders regdeur die gebied gedoen.

Johannes se dissipels was by Nain toe Christus ‘n moeder se seun wonderbaarlik uit die dood opgewek het. Hulle het tussen die skare gestaan toe daardie jongman in sy kis regop gesit het en begin praat het. Op daardie tydstip, sê die Skrif, “En die vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ‘n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek” (Lukas 7:16).

“En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring” (Lukas 7:18). Johannes se volgelinge het alles vir hom vertel met opgewondenheid, verwondering en ontsag. En hulle was gevul met eerbied vir Jesus terwyl hulle die werke wat Hy verrig het beskryf het: die kreupeles loop, die blindes sien en die bose geeste het uit mense wat hulle vir jare gemartel het, gevlug.

Snaaks genoeg, Johannes het nie sy dissipels se entoesiasme gedeel nie. In plaas daarvan, het hy twee van hulle eenkant geneem en hulle beveel, “Gaan terug na Jesus toe. Ek wil hê dat julle vir Hom vra, ‘Is U die Messias? Is U die Een wat sou kom?’ Vra Hom om vir julle te sê wie Hy is.” “En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” (Matthéüs 11:2–3).

Vertel vir my, is Johannes se vraag vir jou vreemd? Dit was die reaksie van een van die grootste profete wat ooit geleef het. Dink daaraan: hy het daagliks verslae van ooggetuies gehoor van al die ontsaglike wonderwerke wat Christus gedoen het. Tog wou Johannes van Jesus self geweet het of Hy die Messias was van wie in die Skrifte geprofeteer was.

Onthou, Johannes was ‘n man van die Woord. Hy het sy hele lewe in afsondering gespandeer om die Skrifte te bestudeer. Hy het daagliks die wette, die profete en die Psalms bepeins. En die Bybel is duidelik daaroor dat Johannes Christus se godheid erken het.

Hy het na Jesus gewys en gesê, “Kyk, die Lam van God.” Hy het gesien hoe die Heilige Gees op Jesus neergedaal het soos ‘n duif. En hy het die Vader se stem gehoor wat verklaar het dat Jesus sy eie Seun was. Ten slotte, Johannes self het van Christus gesê, “Hy moet meer word en ek minder.”

Dit was gespreek deur ‘n man wat sy hele volwasse lewe in grotte geleef het en homself alle fisiese gemak ontsê het. (Inderdaad, net weke gelede, het argeoloë daarop aanspraak gemaak dat hulle ‘n grot ontdek het waarin Johannes geleef het toe hy die menigtes gedoop het.) Alles wat hierdie goddelike man gedoen het, was ter voorbereiding om God se roeping te vervul. So, wat het daartoe aanleiding gegee dat Johannes Jesus nou onder kruisverhoor geneem het oor sy identiteit? Waarom so ‘n ongekende uitbarsting nadat hy van al die wonderlike werke wat in Israel gedoen is, gehoor het?

Wat selfs meer verwarrend is, is dat Johannes se dissipels skynbaar Johannes se vrae aan Jesus voor ‘n groot menigte gestel het (sien Matthéüs 11:7). Hoe geskok moes daardie skares nie gewees het nie toe hulle hoor dat Johannes se dissipels daardie gewaagde vrae gevra het. Dit is nie te betwyfel nie dat Jesus se eie dissipels net so geskok was. Wat kon Johannes al die tyd gedink het?

Dit is duidelik dat twyfel Johannes se hart vasgegryp het. En hy kon dit eenvoudig nie langer inhou nie. Ten spyte van al die wonderwerke wat Christus verrig het, al die ontsaglike werke wat sy eie dissipels oor berig het — die dooies wat opgewek is, die kreupeles wat genees is, die armes wat bedien is — het iets hierdie goddelike man se siel ontstel.

Tog, toe Jesus daardie dag Johannes se vrae gehoor het, het Hy nie ‘n direkte antwoord gegee nie. Hy het ook nie probeer om Johannes van sy godheid te oortuig nie. In plaas daarvan, het hy eenvoudig vir Johannes se dissipels vertel om hom te herinner dat groot wonderwerke besig was om plaas te vind: “Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig” (Matthéüs 11:4–5).

Waarom het Jesus op hierdie manier geantwoord? Dit was omdat Hy God in die vlees was en geweet het dat Johannes mens was. Dit maak nie saak hoe kragtig Johannes gesalf was nie, hy was steeds onderhewig aan die gevoelens en passies wat eie aan die mens is. En Christus het geweet dat Johannes in gevaar was om oorweldig te word deur twyfel.

Eerstens, Jesus het geweet dat hierdie vurige profeet liewer dood sou wou wees as opgesluit in ‘n tronk soos ‘n ingehokte dier. Johannes het sy al sy jare geleef in ‘n oop woestyn sonder mure. Hy het in grotte geslaap en geëet wat hy in die veld gekry het. Hy het vryheid liefgehad, die natuur liefgehad en hy was lief daarvoor om deur die land te loop en God se Woord te bepeins. Om in gevangenskap te wees moes hel op aarde vir Johannes gewees het. Ek is seker hy was meer depressief as enigiets anders.

Johannes moet ook gewonder het waarom hy steeds in die tronk was en waarom Jesus hom nie verlos het nie. Immers, Jesaja het geprofeteer dat die Messias die gevangenes sou vrylaat wanneer Hy gekom het. En as Jesus se woord oor Johannes waar was, sou hierdie man nie eer van die eerstes gewees het wat verlos sou word nie?

Moenie verkeerd verstaan nie: Ek glo nie Johannes het gesoek na persoonlike bevestiging van die Here nie. Geensins. In werklikheid, Johannes die Doper het ‘n brandende passie vir God gehad en ‘n haat vir die bose. En hy wou eenvoudig sien dat sonde oorwin word.

Johannes het vir jare met ‘n seker visie van die koninkryk van God geleef. En hy het dag vir dag daarna verlang. Al wat hiedie goddelike man sou sien, was dat God se Woord vervul word.

Vir Johannes het dit beteken dat God se naam op hierdie aarde gewreek word en dat sy geregtigheid bevestig word. Wanneer die Messias sou kom, het Johannes verwag om Hom te sien die byl by die wortels van alle goddeloosheid sit en om elke trotse ding wat hom aanstoot gegee het, neer te werp. Hy het verwag om die goddelose te sien verteer word soos kaf, afgesny en verbrand in ‘n onbluslike vuur.

Was al hierdie dinge nie voorspel deur al die profete van ouds nie? Johannes het geweet dat God barmhartig was. Maar totdat sonde ontwortel was, kon die mense nie sonder vrees leef nie (sien Lukas 1:72–74).

Tog, nou dat die dag van die Messias gekom het, het nie een van daardie dinge gebeur nie. Wat Johannes verwag het om te sien — wat hy sy hele lewe lank begeer het — het eenvoudig nie plaasgevind nie.

Jy mag teen hierteen beswaar maak: “Is dit regtig moontlik vir ‘n goddelike, biddende, gesalfde gelowige om aan die lewe te wanhoop?” Volgens die Bybel, ja, beslis. Vra maar vir Dawid, Job of Jeremia. Selfs die apostel Paulus het geskryf dat hy “bo sy vermoë, selfs aan die lewe gewanhoop het.”

Steeds, Jesus het nie Johannes se wanhoop aangespreek nie. In plaas daarvan, het Hy Johannes se dissipels na hom toe teruggestuur met hierdie spesiale boodskap: “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Matthéüs 11:6).

Christus het liefdevol vir Johannes die wortels van twyfel in sy hart gewys. Jesus het in wese gesê, “Johannes, jy neem aanstoot aan My. Jy is in jou gees beswaard op die manier waarop Ek my Vader die koninkryk vestig. Ek vervul nie jou verwagtinge oor die wyses waarop jy gehoop het dinge sou gebeur nie. En dit veroorsaak dat jy twyfel.”

Johannes was verward oor Jesus se bediening. Die werke wat Christus gedoen het, was eenvoudig nie die soort wat Johannes verkondig het sou plaasvind nie. Johannes se profesieë het weerklink wat baie Ou Testament profete gesê het: dat die Messias sy mag met vuur, loutering en reiniging sou openbaar. Volgens Johannes, sou Christus kom om wraak te neem op alle goddeloosheid.

Ons weet dat alles wat Johannes geglo het, gegrond was op, “Dit staan geskrywe...” En Johannes het die woorde van die profete geken. Daarom was hy terdeë bewus van Maleági se voorspelling: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie” (Maleági 4:1).

Dit was die visie wat Johannes van die komende Messias gehad het. En hy het die skares in Israel vertel, “Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand” (Matthéüs 3:11–12).

Op daardie tydstip in Israel, was daar ‘n sekere, heersende geloof oor die komende Messias. Kortliks, Israel se Verlosser sou kom om die onderdrukkende Romeinse heerskappy te vernietig. Toe Christus verskyn het, sou Hy sy eie polities-godsdienstige regering oprig en heilige wetgewing op die aarde vestig. En hy sou heers oor daardie koninkryk met ‘n ysterstaf.

Dit het egter nie ooreengekom met alles wat Johannes van Jesus gehoor het nie. Eerstens, Johannes het ‘n berig gehoor dat Jesus by ‘n troue was. Toe het hy gehoor dat Christus werklik in sondaars se huise ingegaan het en saam met hulle geëet het. En nou het hy gehoor dat Jesus sy dissipels in pare regdeur die land uitgestuur het en hulle opdrag gegee het om die mense te genees en te seën.

Dit alles het Johannes verward gelaat. Hy kon nie help om Jesus se deernisvolle werke te vergelyk met die vurige profesieë wat hy sy lewe lank in die Skrif bestudeer het nie. Was die Messias nie veronderstel om sonde te wreek nie? Wat van Jesaja se profesie aangaande die goddelose regters? “Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid...Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel” (Jesaja 40:22–24).

In daardie tyd was Israel se regters vreeslik goddeloos. Hulle het selfdienende wette uitgedink wat direk teen God se Woord was. Hierdie regters was egter nie self beoordeel nie. In werklikheid, die hoogmoedige Fariseërs, Sadduseërs en skrifgeleerdes het selfs meer arrogant geword. Hulle het Christus verwerp en wou Hom uit hulle midde verwyder. Tog, was Jesus skynbaar passief daaroor.

Johannes moes gedink het, “Dit is net nie wat ek in die Skrif sien nie. Waarom lê Hy nie die byl teen die wortels van die goddelose nie? Waarom maak Hy nie dinge so warm soos ‘n vuuroond vir die boosdoeners soos Maleági gesê het Hy sou nie? Waarom werp Hy nie hierdie goddelose regters neer en maak kaf van hulle nie?”

Derhalwe was Johannes se vraag aan Jesus in wese: “Is Jy die Een wat die profete beskryf het? As Jy is, waarom maak alles dan nie vir my sin nie?”

God se beloftes is bedoel om ons verwagtinge in Hom op te bou. Ons moet sy Woord opeis as die rotsvaste beloftes van ‘n liefdevolle, almagtige Vader vir sy kinders. Tog, dikwels wanneer ons nie sy Woord volgens ons skedule vervul sien nie, vul die vyand ons gedagtes met vrae oor God se getrouheid. Satan se doel is eenvoudig: om ons te beroof van al ons vertroue in die Here.

Ek is oortuig daarvan dat die duiwel probeer het om alle soorte twyfel in Johannes op te wek. Ek verbeel my dat hy in Johannes se oor fluister: “Ja, hierdie Jesus is ‘n man van God. Hy is inderdaad ‘n heilige man. Maar Hy is net nog ‘n profeet wat wonderwerke doen. Dink daaraan: Moses het die Rooi See oopgemaak en water uit ‘n rots laat stroom. Elía het ‘n dooie man opgewek. En Hoséa het die Woord aan die armes verkondig. Jesus is net nog ‘n profeet wat rondgaan en goeie dinge doen.

“So, jy kan vergeet om God se koninkryk te sien kom, Johannes. Kyk net na jou eie toestand. As Jesus God se Seun was, sou Hy aan jou verduidelik wie Hy is. Maar Hy het nie jou hulpgeroep gehoor nie. En nou hoor jy verslae van ander wat wonderwerke ontvang het. Hulle gebede is beantwoord, hulle hulpgeroep is gehoor. Maar kyk na jou. Jy het pas gehoor dat Herodus se vrou jou kop op ‘n skinkbord wil hê.

“As Jesus die Messias is, waarom is jou behoeftes nie aangespreek nie? Waarom het Hy nie sy woord gehou, soos Jesaja en die profete dit uitgelê het nie? En waarom het jou eie prediking nie vir jou gewerk nie?”

Satan gebruik dieselfde leuens en misleiding teen ons vandag. En sy doel is om saad van twyfel aan God se Woord, sy beloftes en sy blydskap in ons, te saai. Die vyand fluister: “Jy sê jou hemelse Vader is ‘n God van wonderwerke, die onmoontlike, dat Hy jou versoeke hoor selfs nog voor jy vra. Waarom dan al die lyding? Waarom die stilte van die hemel? Waarom is daar nie ‘n enkele greintjie bewys dat God jou hulpgeroep gehoor het nie?

“Kyk rondom jou. Almal se gebede word beantwoord. Maar nie joune nie. Jy is vasgevang in ‘n onvervullende huwelik. Jy bid vir jou kinders om gered te word, maar jaar na jaar gaan verby en niks verander nie. Vir jare het jy God se getrouheid aan ander verkondig. So, waarom het dit nie vir jou gewerk nie? Waarom het Hy jou hier in hierdie verskriklike toestand gelos?”

Daar is een sekere bewys dat ongeloof in jou siel wortel geskiet het. Dit is wanneer jy ophou bid vir wat jy eens geglo het God kan doen. Skielik bring jy nie langer jou laste na Hom nie. Jy kon nie meer in geloof na Hom nie. Kortliks, jy is nie meer gewillig om Hom toe te laat om die dinge in jou lewe op sy manier in jou lewe te doen nie. Dit is wanneer jy weet dat die saad van ongeloof opgekom het.

Petrus en Paulus vertel vir ons dat ons nie onkundig moet wees oor die planne van die Satan nie. En Jesus het een van die vyand se grootste planne blootgelê toe Hy sy boodskap aan Johannes gespreek het: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.” Die woord vir “aanstoot” in die Grieks beteken “verstrik, pootjie, vang.” Ek glo Jesus het Johannes liefdevol gewaarsku, “Jy vra vir My of Ek die een is wat jy geprofeteer het Ek is. Johannes, kan jy nie sien dat dit ‘n strikvraag is nie? Satan probeer nie om My te na te kom nie. Nee, hy het vir jou ‘n strik gestel.”

Christus het self deur dieselfde toets gegaan gedurende sy veertig dae in die woestyn. En nou het Hy vir Johannes vertel, “Die duiwel stel vir jou ‘n strik en hy wil jou vang. Maar jy mag nie sy leuens duld nie. Hy sê Ek is nie wie Ek sê Ek is nie. Johannes, as jy dit egter glo, dan moet jy aflei dat jy ook nie is wie jy beweer om te wees nie. En dit beteken jy moet die grootste leuen van almal konfronteer: dat jy ‘n bedrieër en ‘n skynheilige is. Jy moet dan tot die gevolgtrekking kom dat jy mislei is en ‘n valse profeet is. Johannes, jy mag nie in daardie sataniese strik val nie.”

Laat my jou vra: wat dink jy is in gedrang in Jesus se frase, “aanstoot aan My neem”? Wat maak hierdie paar woorde so kragtig? Dit is omdat Jesus geweet het wat die gevolge vir Johannes sou wees indien hy vir die leuen van Satan geval het. Hy het geweet wat kon gebeur as hierdie goddelike man begin het om te twyfel wie hy in Christus was.

Jy sien, al wat Satan nodig gehad het om te doen, was om Johannes te bedrieg om om drie woorde te spreek. Hierdie drie woorde sou vinnig al die profesieë wat eeue tevore gelewer was tot niet maak. Dit sou al die goeie dinge wat God in en deur Johannes gedoen het tot niet maak. En dit sou die geloof van ongekende menigtes, insluitende komende geslagte laat skipbreuk ly. Wat was daardie drie woorde wat Satan wou hê Johannes moes uiter? “Ek is spyt!”

Die woord “spyt” beteken “onsteld oor onvervulde verwagtinge.” Om spyt te wees, is om te sê, “My hoop was verydel.” Kortliks, dit is ‘n verklaring wat jou eie geloof weerlê.

Tog, ek glo Johannes het nooit op daardie punt gekom nie. In plaas daarvan, het hy Jesus se boodskap aan hom aanvaar. En hier is die kern van Jesus se boodskap: “Johannes, daar wag vir jou ‘n seëning van geloof en versekering as jy Satan se leuens weerstaan. Moenie toelaat dat ongeloof oor wie Ek is, in jou wortel skiet nie. As jy dit doen, sal jy twyfel wie jy is en in wat God alles in jou lewe gedoen het.”

Die duiwel het ongeduld in Johannes raakgesien. Ongeduld is die onvermoë om te wag of vedrukking kalm te verdra. En wanneer ons ongeduldig met God word — wanneer ons ongeduldig is om antwoorde van Hom te ontvang en ons meng ongeduld met geloof — dan word ons gesindheid in gebed ‘n “vreemde reukwerk” vir die Here. Dit vul ons wese, sy tempel, met ‘n onwelriekende geur. En in plaas daarvan dat dit ‘n lieflike geur van gebed opstuur, gee ons ‘n aaklige reuk af. Satan tel hierdie reuk baie vinnig op.

Ongeduldige gelowiges neem aanstoot wanneer hulle sien dat God wonderwerke vir almal rondom hulle doen, maar nie in hulle eie lewens nie. Hulle neem aanstoot aan wat hulle glo God se traagheid is om hulle te antwoord en met verloop van tyd voel hulle afgeskeep en vasgevang. Hebreërs vertel ons dat sulke ongeduld ‘n vorm is van geestelike luiheid: “Sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is” (Hebreërs 6:12). Ons word beveel om Abraham se voorbeeld te volg: “En so het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het” (Hebreërs 6:15).

Die Skrif vertel ook vir ons dat die Woord van God het Joseph “op die proef gestel.” Net so vandag, kan God se beloftes ons te enige tyd op die proef stel. En as ons nie geduld by ons geloof voeg in hierdie beproewings nie, sal ons aanstoot neem aan God. Spreuke 18:19 verklaar, “’n Broer teen wie oortree is, is erger as ‘n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ‘n paleis.” Die Hebreeuse woord vir “aanstoot” beteken hier om “weg te breek en afvallig te word.” Met ander woorde, wanneer ons aanstoot aan God geneem het, is daar die gevaar dat ons heeltemal ons geloof sal verloor. En hoe langer ons aan ons aanstoot vashou, hoe harder word dit om deur ons tronktralies van ongeloof te breek.

Tog, gee Johannes 1:2-4 vir ons die kuur: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaameid bewerk.  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”

Ek vra jou, liewe heilige: is daar enige spyt in jou lewe? Watter onvervulde verwagting onstel jou? Wat het jou laat aanstoot neem aan Christus? Het jy na Hom geroep, maar Hy het nie betyds gekom nie? Het jy vir ‘n ongeredde kind gebid en jy het ongeduldig geword want jy sien nie enige resultate nie? Voel jy vasgevang in ‘n onvervullende huwelik of werk en ten spyte van jare se gebede het niks gebeur nie? Voel dit asof jou versoeke op dowe ore val?

Op hierdie oomblik wil Satan hê dat jy ongeduldig moet wees. Hy wil jou angstig maak oor God se beloftes insake jou lewe, jou familie, jou toekoms en jou bediening. Hy werk om jou te oortuig dat God te stadig is, dat Hy jou versoeke geïgnoreer het en dat Hy jou verlaat het. Die vyand wil jou by die punt bring waar jy gereed is om al jou vertroue in die Here te verloor.

Dit is presies waarheen Satan Johannes die Doper gelei het. Tog het Johannes die regte ding gedoen in sy oomblik van onsteltenis: hy het sy twyfel dadelik na Jesus geneem. En Christus het onmiddellik geweet dat Johannes om hulp geroep het. Jesus het hierdie man so liefgehad dat Hy Johannes presies gegee het wat hy nodig gehad het. As gevolg hiervan, glo ek dat Johannes nooit weer sy ongeduld uitgespreek het nie. Ek is oortuig dat toe Johannes voor die laksman gestaan het, was sy laaste woorde, “Jesus is die Christus, die Lam van God. En ek is Johannes, die stem wat roep in die woestyn. Deur God se genade en krag, het ek sy pad reguit gemaak.”

Net so, geliefde, is God besig om ‘n werk in jou te doen. En Hy sal daardie volmaakte werk in jou siel doen. Jou werk is eenvoudig om in geloof vas te hou. Dan, wanneer jy verdra het, sal jy in staat wees om te sê: “Christus het opgestaan en sit op die troon. Ek is sy geliefde. En ek is nie spyt nie. Hy het al my verwagtinge vervul.”