‘n Woning van God

David Wilkerson

"In wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Efésiërs 2:22). ‘n Woning is ‘n woonplek. Die Griekse woord vir woning in hierdie vers beteken “’n permanente verblyf.”

Elke Christen weet God woon nie in mensgemaakte tempels of geboue nie. In plaas daarvan, het die Here gekies om in menslike voorwerpe te woon – dit is, in die harte en liggame van sy mense. Amal wat in Christus is, maak sy tempel uit – sy woning, sy permanente verblyf. Elke gelowige kan met vertroue daarin roem, “God leef in my.”

God het geen ander fisiese verblyfplek nie – geen nasie, geen hoofstad (nie eers Jerusalem nie), geen bergtop nie. Hy woon nie in die wolke of die lug, die duisternis of daglig, die son, maan of sterre nie. Natuurlik is die Here oral en sy teenwoordigheid vul alle dinge. Maar volgens sy woord, maak God sy woning in sy mense. Die bloed-reinigde hart is sy permanente woning.

Wanneer het God in ons begin woon? Hy het dit gedoen toe ons ons harte vir Jesus gegee het. Op daardie oomblik, het Christus se blywende teenwoordigheid ons wese gevul. Trouens, Jesus het die volheid van die Godheid na ons gebring – die Vader, Seun en Heilige Gees. Hy getuig dat, “Ek in my Vader is...As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:20-23).

Lank voor die wêreld geskep is, het die hemelse Vader en sy Seun ooreengekom dat die mens hulle woonplek sou wees. Hulle het ‘n verbond gemaak dat Jesus na die aarde sou kom om die harte en liggame van ‘n uitverkore volk te kom bewoon. Laat my dit vir jou uit die Skrif aantoon.

Die apostel Paulus verwys na Christus as wysheid: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing” (1 Korinthiërs 1:30).

Spreuke 8 praat ook van wysheid op so ‘n manier wat net na Jesus kan verwys. In vers 30, sê wysheid, “Toe was ek ‘n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd.” Hoe weet ons hierdie vers handel oor Jesus? Hy alleen was sy Vader se verlustiging. God het Hom nie in wysheid verlustig nie, maar in sy Seun.

Ons weet Christus was by God selfs voor die aarde geskep was. “Die Here het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af” (Spreuke 8:22-23). Kan jy jou indink die vreugde wat die Vader en Seun in mekaar se geselskap geniet het toe? Hulle was saam in die heerlikheid van die hemel in groot blydskap.

Onthou – dit was voor Jesus enigiets geweet het van menslike hartseer. Hy het nog nie in die vlees gewandel met sy laste en beproewings nie. Hy moes nog aangeraak word met die mens se swakhede – om verwerp, geminag, bespot, gespoeg op en belas te word met die mens se sonde. En Hy moes nog die kruis deurmaak. Hy het nog nie die verberging van sy Vader se gesig beleef nie. En Hy het nog nie die dood gesmaak nie.

Toe kom die plan van die Nuwe Verbond. In hierdie plan, het God gesien – omdat Hy die mens geskep het om ‘n vrye wil te hê – dat as die mens sou faal, hy ‘n verlosser nodig sou hê. Daarom het die Vader sy Seun gevra om die Nuwe Verbond te bemiddel. Die Here het gevra, “Sal Jy menslike vlees aanneem en die offer word wat die gevalle mensdom sal verlos? Sal Jy hulle sondes op Jouself neem en hulle van die bose se houvas op hulle lewens verlos?”

Jesus het die aaklige vooruitsigte ten volle verstaan. Hy het die houe, die doringkroon, die haat en verwerping deur God se eie volk vooruitgesien. En Hy het die kruis dreigend vir Hom sien wag. Die Skrif sê egter, Jesus het ‘n behae daarin gehad om sy lewe vir ons te gee. Hy het die koste bereken en geantwoord, “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande” (Psalm 40:8).

Die Seun het ook hierdie ontsaglike woord gespreek: “Ek het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustinge was met die mensekinders” (Spreuke 8:31). Sien jy wat Christus sê? Van al die wonderlike melkwegstelsels wat die mens nog nie ontdek het nie en al die planete sonder tal, het God gekies om te kom woon op hierdie klein sfeer wat ons aarde noem. En Hy het die mens gekies as die plek waarin Hy wou kom woon. Ons sou wees die “bewoonbare deel van sy aarde.”

Hier is die sleutel tot my boodskap: Jesus het geweet Hy sou nie langer die salige, van aangesig-tot-aangesig kommunikasie, wat Hy met sy Vader gehad het, kon geniet nie. Tog het hy ‘n behae gehad in die vooruitsig om in ons te kom woon: “En my verlustiginge was met die mensekinders” (Spreuke 8:31). Hy het in wese gesê, “Ek gaan ‘n volk na my hart toe bring. En Ek gaan een wees met hulle om hulle gemeenskap te geniet.” Hy het ‘n welbehae gehad in die gedagte van heerlike gemeenskap met ons!

Ek glo in die absolute voorkennis van God. En ek glo ons Here het geweet, lank voor ons bestaan, hoe elke persoon op sy evangelie sou reageer. Ek glo nie in beperkte versoening nie; God het nie gekies om sekere mense te verdoem en ander te red nie. Jesus het vir almal gesterf en wie ook al na Hom toe kom, sal gered word. Ons Here wil nie hê dat enigeen verlore gaan nie (sien Johannes 3:15-17, 2 Petrus 3:9). As Hy egter ons name vooraf ken, weet Hy ook of ons sy offer sou omhels of verwerp.

As die wese van God, het Christus hierdie voorkennis gedeel. En ek glo Hy het elke persoon, wat Hom sou ontvang as Koning en Here in hulle harte, vooruitgesien. Hy het geweet van elkeen van ons, of ons nou in China, Rusland, Amerika, die Afrika-lande of enige ander nasie woon. En Hy het gejuig oor die vooruitsig om in ons te kom woon.

Onthou jy die dag waarop jy gered is? Onthou jy die gevoelens wat jy beleef het – die beloftes wat jy aan Jesus gemaak het en dat jy belowe het om alle ander te versaak en Hom te volg? Jesus het dit gesien gebeur, eone tevore in die ewigheid – en Hy het Hom in jou verlustig. Hy het geweet jy gaan Hom aanneem, selfs voor jy in jou moeder se baarmoeder gevorm is.

Dawid skryf, “Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God” (Psalm 22:10-11). “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie” (Psalm 139:16).

Toe jy nog nie eers ‘n embrio was nie, het God reeds jou liggaam se lede in sy boek opgeskryf. Hy het alles van jou af geweet. En sy Seun, Jesus het Hom verlustig in die wete dat jy sou opgroei om sy woning te wees.

1. Jesus het oor jou gejuig as jou bruidegom. Hy verwag om intimiteit en gemeenskap met sy bruid te hê.

Die Bybel bied talle beskrywings van ons identiteit in Christus. Ons is geroep om sy liggaam te wees, sy skape, maagde, seuns, dienaars en vriende. Maar die mees intieme van al hierdie beskrywings is hierdie: ons is die bruid van Christus. “En soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees” (Jesaja 62:5).

As jy getroud is, onthou jy die tyd toe jy en jou geliefde verloof was. Julle was smoorverlief op mekaar. En julle het die dae getel tot die dag waarop julle uiteindelik een en in volmaakte gemeenskap met mekaar sou wees.

So was dit met Jesus. Hy het so daarna uitgesien om saam met jou te wees, dat Hy ingestem het om sy volmaakte gemeenskap met die Vader te verlaat. Hy het vooruit gedink aan die dag waarop jy uiteindelik sy bruid sou wees. En in sy oë, was dit huwelik uit liefde. Hy sou die appel van jou oog wees en Hy sou jou heeltemal vir Homself hê. Dit was die rede vir sy blydskap.

Jou bruidegom het uitgesien na die tyd wat jy daagliks na Hom sou kom in jou binnekamer en jou in Hom verlustig – afgesluit van die wêreld, om mekaar se liefde te deel en soete gemeenskap te geniet. En Hy sou jou met graagte in sy sorg neem en juig oor jou: “Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg [rus] in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel” (Sefánja 3:17).

Dink nou terug aan die begin toe jy Jesus liefgekry het. Jy het Hom met jou hele hart gesoek. Jy het sy woord in pure blydskap gelees. Jy was opgewonde daaroor om na God se huis te gaan om Hom lief te hê en Hom te aanbid.

In Jesus se oë, was elke dag saam met jou ‘n troudag. Hy het verklaar, “Dit is waar Ek my woning gaan maak. Ek gaan in iemand leef wat meer van My wil hê as enigiets anders in die wêreld.”

My vrou, Gwen, en ek het hierdie soort liefde in ons huwelik. As ons net vir vier-en-twintig uur weg van mekaar is, bel ons mekaar op die ou end drie keer per dag. Dit het in vyftig jaar van ons huwelik voortgeduur – en ons is maar net mense. Kan jy jou indink die soort liefde wat Jesus verwag om met jou te hê?

2. Jesus het gejuig by die gedagte daaraan om sy diepste geheime met jou te deel.

Een van die grootste uitdrukkings van ware liefde is om ons intieme geheime met ons geliefde te deel – dinge wat niemand anders weet nie. Soos enige bruidegom, verwag Christus om sy geheime met jou te deel. En Hy verwag dat jy jou hart se geheime met Hom sou deel.

Dit is wat geliefdes doen, selfs in vleeslike verhoudings. Hoewel Simson se welbehae in Delila vleeslik was, het hy niks vir haar weggesteek nie (sien Rigters 16:4). Sy liefde vir Delila het veroorsaak dat hy vir haar die geheim van sy krag vertel het – en dit het hom sy lewe gekos.

As Jesus oor jou gejuig het, het Hy verwag dat jy nie net sy bruid sal wees nie, maar ook sy boesemvriend. Hy het jou vooruitgesien in jou binnekamer, heeltemal toegewyd aan hom. En hy het gejuig by die gedagte om sy woord vir jou oop te maak en dinge te openbaar wat ander gelowiges nooit sien of hoor nie. “Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15).

Hy het daaraan uitgesien om die diepste geheime van die Godheid met jou te deel. Sy woord sê, “Maar sy verborgenhede is met die opregtes” (Spreuke 3:32). Trouens, die Here maak nie enige groot skuiwe, sonder om vooraf eers sy aksies te openbaar aan diegene wat Hom liefhet nie. Amos skryf, “Want die HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7).

Jesus wou met jou spreek oor intieme openbarings van God se gedagtes: wat Hy begeer om te bereik in die wêreld en in jou lewe...die heerlikheid van die Nuwe Verbond en van sy heilige name...die wonder van sy offer. In ruil, het Hy verwag dat jy jou elke behoefte en probeem, hartseer en mislukking, hoop en begeerte, droom en nagmerrie met Hom sal deel. Hy sou iemand wees aan wie jy jou hart kan oopmaak en jou laste mee kon deel.

3. Jesus het gejuig dat sy bruid haar in sy woord sou verlustig.

“Gelukkig is die man wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte wag te hou” (Spreuke 8:34). Christus vertel vir ons, “Dit is die persoon in wie Ek sal woon – iemand wat elke woord van My aanhang. Elke oggend sit my geliefde by my deur, net om ‘n woord van My te kry. Hy wag angstig op my stem. En hy verbly hom in alles wat Ek vir hom sê.”

As sy bruid, moet hierdie woorde uit ons weerklink: “My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans, laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor; want u stem is soet, en u gedaante lieflik” (Hooglied van Salomo 2:14).

Dawid was een so ‘n gelowige wat daagliks gewag het om God se woord te ontvang. En hy het hom verbly in die woord wat hy ontvang het. Hy het getuig, “Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne” (Psalm 119:24). “En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet” (Psalm 119:47). “U wet is my verlustiging” (Psalm 119:77). Die letterlike Hebreeuse betekenis van hierdie laaste vers is, “Ek geniet u woord.”

Ek wil nou fokus op twee frases vanuit die verse hierbo genoem, (Spreuke 8:34) – “waak aan my deure” en “by die syposte van my poorte wag te hou.” Eerstens, wat is die deure waarna hier verwys word?

Die Psalmis gee ons die antwoord: “Maak oop vir my die poorte [deure] van die geregtigheid; ek wil daardeur ingaan, ek wil daardeur ingaan, ek wil die HERE loof” (Psalm 118:19). Ek glo hierdie “poorte van geregtigheid” is ook die “nou poort” waarvan Jesus praat. Hulle verwys na enigeen wat hulle daagliks na God se woord wend om sy geregtigheid te leer.

So ‘n gelowige is vasbeslote om opreg voor die Here te wandel. Hy raak opgewonde oor elke openbaring wat hom die pad van ‘n heilige wandel aantoon. Hy sê vir homself, “Ek wil waarheid in my innerlke mens hê. Ek weet ek kry dit nie deur na preke op kasette te luister of boeke te lees nie. Ek moet geduldig sit en wag op die Here, sodat Hy sy deure vir my sal oopmaak.”

God se Heilige Gees kom getrou om elke gelowige elke oggend te ontmoet. En Hy nooi hom binne en fluister, “Welkom, vriend. Laat my vandag vir jou iets nuuts wys van God se geregtigheid.”

Tweedens, wat beteken dit om “by die syposte van my poorte wag te hou”? Dit verwys na elke gelowige wat bewe vir God se woord. Die frase kom uit Jesaja 6, waar die profeet by die poorte van die tempel gewag en verlang het om van God te hoor.

Terwyl Jesaja daar gestaan het, het hy die serafs gehoor sing, “Heilig, heilig” en die hemel het weerklink met hulle lofsange. Toe skielik, het ‘n magtige stem uit die hemel gebulder. Die stem was so hard en duidelik, dat dit alles geskud het: “En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword” (Jesaja 6:4).

Hierdie groot stem het Jesaja in sy wese geskok. Dit het hom so geroer en oortuig van sonde, dat hy uitgeroep het, “Wee my, ek is verlore!” (Jesaja 6:5). Die profeet het gebewe toe hy God se stem gehoor het.

Jesaja is ‘n voorbeeld van iemand wat “by die syposte van my poorte wag te hou.” Hierdie gelowige begeer om God se woord te hoor. En wanneer die woord kom, laat hy toe dat sy oortuigende woord in sy siel insink. God se woord sê van so ‘n persoon, “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Ons sien hoe Jesus oor ons gejuig het voor die wêreld gemaak is. Hy het daarna uitgesien om in ons te woon en ons sy woning te maak. En Hy het gejuig dat ons aan Hom sou vasgryp en alle ander verlaat. Ons sou Hom daagliks soek en kwaliteit tyd saam met Hom deurbring. Hy sou sy geheime met ons deel en ons sou die laste van ons hart op Hom werp. Ons sou ons verlustig in sy weë en sy woord ondersoek vir openbarings van sy geregtigheid. En ons sou bewe oor die openbarings wat sy woord vir ons gee.

Die Bybel stel dit duidelik wat Jesus verwag het om in ons, sy woning, te vind. So, vervul jy sy verwagtinge? Hy het verwag om ‘n leeftyd met jou te deel. Neem jou intimiteit met Hom toe? Of verwaarloos jy Hom vir dae aaneen?

Jou bruidegom was van plan om jou nader aan Hom te trek. Hy wou sy hart vir jou oopmaak om daagliks soete gemeenskap met jou te hê. Hy het verlang om baie dinge vir jou te wys, dinge wat niemand anders sien nie. Hy het begeer om jou lewe te vorm, om in jou die vrug van die Gees voort te bring. En Hy wou jou swakhede, vrese en jou gevoelens van ontoereikendheid wegneem.

Op jou beurt, moes jy ‘n verlustiging van sy hart wees – deur jou trane, jou intimiteit en jou klouende toewyding. Jou woorde aan Hom sou wees dié van ‘n bruid: “Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte” (Hooglied van Salomo 2:3). “Laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor” (Hooglied van Salomo 2:14).

Die gedagte aan sy verhouding met jou het Christus laat juig, lank voor die wêreld geskep was. Nou dat die tyd gekom het om daardie verhouding te geniet, ignoreer en verwaarloos jy die Here. Jy het tyd om TV te kyk, inkopies te doen, die Internet te navigeer en tuin te maak – maar jy het geen tyd vir Jesus nie. Ek vra jou – glo jy Hy sal die hart van ‘n bruid, wat verveeld is met Hom, bewoon? Waarom sal Hy voortgaan om te woon in iemand wat geen tyd het om by Hom te wees, met Hom te praat en na Hom te luister nie?

Hier is ‘n ernstige waarskuwing: Jesus sal nie bly in diegene wat Hom verwaarloos en ignoreer nie. Jy mag beswaar maak, “Maar ek het my Here lief. Ek het nie vir Hom die koue skouer gegee nie.” Die feit is, as jy gebed en sy woord vir weke lank verwaarloos - as jy geen private, intieme verhouding met Hom het nie – het jy jou stelling gemaak. Jy het verklaar, “My aksies bewys ek het nie ‘n passievolle liefde vir Jesus nie. My familie, loopbaan en persoonlike begeertes kom eerste.”

God se woord waarsku baie duidelik: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Hebreërs 2:3). Daar is ‘n groot prys om te betaal wanneer ons Christus ignoreer. Die Bybel waarsku dat as ons sy gawe van verlossing verwaarloos, sal ons in sout verander. Laat my verduidelik.

Esegiël 47 praat van ‘n rivier van lewe wat van God se troon uitstroom. Hierdie rivier bestaan uit heilige, genesende water. En waar dit in die woestyn vloei, bring dit lewe aan alles wat dit aanraak. Dit word wyer en dieper todat daar genoeg water in is om in te swem.

“Hierdie waters...loop in die Vlakte [woestyn] af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe” (Esegiël 47:8-9).

Hierdie rivier van lewe verteenwoordig die verkondigde evangelie. Christus se goeie nuus het begin as ‘n klein stroompie met sy twaalf dissipels, wat dit verkondig het. Toe het die woord versprei. Dit was wyd verkondig deur die apostel Paulus en later deur sy bekeerlinge. Gou het dit deur die hele wêreld versprei. Vandag is daar derduisende van God se dienaars wat die evangelie oral oor die aarde verkondig. So, nou is daar riviere om in te swem. “Alles sal lewe waar die stroom kom” (Esegiël 47:9).

Hierdie rivier het gevloei sedert Gólgota. En vandag is daar miljoene wat God se woord hoor en ontvang en genees word. Die waarheid van Christus maak hulle wakker om hulle vewaarlosing, luiheid en apatie te besef. Nou is hulle oë wawyd oop en hulle verlustig hulle in Jesus. Hulle soek Hom daagliks, is lief vir sy woord en geniet intimiteit met Hom. Hulle leer dinge uit die Skrif wat hulle nooit geweet het nie. Hulle word die geheime van God se hart gegee – en dit genees hulle

So, wat het met jou gebeur? Swem jy in God se genesende waters? Of laat jy toe dat hierdie rivier reg langs jou verby vloei? Let op wat gebeur met die woestyngebiede waar hierdie waters nie vloei nie: “Die moerasse en kuile daarvan – húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem” (Esegiël 47:11).

Miskien is jy skuldig daaraan om Jesus te ignoreer. Jy is biddeloos, ongehoorsaam en verwaarloos sy woord. Jy het preke van oortuiging van sonde gehoor en het toegelaat dat dit jou aanraak, maar jy het aanhoudend teruggekeer na jou oorgerustheid. Nou het jou verwaarlosing jou lewenswyse geword. Jy het in der waarheid al die verwagting wat Jesus eens vir jou gehad het, in die wiele gery.

Wat beteken dit om “vir sout bestem” te wees soos wat Esegiël sê? Dit beteken totale onvrugbaarheid...vrugteloosheid, leegheid, droogte, eensaamheid. Dink aan die Dooie See in Israel. Dit is ‘n liggaam van water wat heeltemal oorgegee is aan sout. Geen plant kan daarin of daarom groei nie. Dit is heeltemal onvrugbaar.

Het jy so ‘n soort modderige plek geword – ‘n geïsoleerde, opgedroogte moeras? Is jou lewe sonder vrug vir God? Is jou daaglikse bestaan leeg, droog en eensaam? Miskien is jy op pad om sout te word. Oral rondom jou dra ander vrug en groei in Christus. Hulle is genees deur God se heilige waters. Maar jy besit nie een van die bronne wat hulle het nie. Jy het net ‘n Christen in naam geword.

As hierdie boodskap jou aanraak of oortuig van sonde, het ek goeie nuus:

Toe die Nuwe Verbond gemaak is, het die hemelse Vader en sy Seun voorsien dat baie Christus sou verwaarloos. Hierdie mense sou louwarm of koud word en uiteindelik afvallig word. Daarom het die Vader en die Seun ‘n ooreenkoms gemaak: as enige skape verlore raak of afdwaal, sal Jesus agter hulle aangaan en hulle terugbring in die stal.

Dooie mensdom kan in der waarheid teruggebring word na lewe deur ‘n vars stroom van genesende waters. “Hierdie waters...gaan na die see: in die see word dit uitgelei, sodat die water daarvan gesond kan word” (Esegiël 47:8). Wanneer God se genesende waters begin vloei, spring groen plante oral op – ‘n grassie hier, ‘n plantjie daar. Gou is daar ‘n hele tuin wat floreer.

Geliefde, God verlang na jou. En Hy het steeds planne vir jou. Trouens, jy kan jou lewe oor begin vandag. Hy belowe om alles te herstel wat opgeëet en vermors is in jou lewe, maak nie saak hoe lank dit was nie. “En Ek sal julle vergoed vir die jare wat die treksprinkaan...verslind het” (Joël 2:25).

Jy kan steeds sy woning wees – steeds sy geheime leer en sy openbarings ontvang. Hier is jou pad terug: Erken dat jy Hom verwaarloos het. Erken jy was besig, met tyd vir alles behalwe vir Hom. Bely jy het nie geluister toe Hy jou geroep het nie. “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn!” (Efésiërs 5:14).

Roep nou na Hom uit: “O God – genees my. Wek my siel op. Skud my wakker uit hierdie slaap. Ek wil verander. Ek weet U moet die werk in my doen, Here. Ek verlang na U vars aanraking.”

Jeremia het vir ons God se hart gewys teenoor ‘n volk wat Hom verwaarloos en vergeet het: “Keer terug, o afkerige, Israel...Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die Here...Alleenlik, ken jou ongeregtigheid...Keer terug, of afkerige kinders, spreek die Here, want Ek is heer [getroud met] oor julle...Ek sal julle afkerighede genees” (Jeremia 3:12-14,22).

Jesaja het hierdie versekering bygevoeg; “Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie...Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is...en Ek sal hulle genees” (Jesaja 57:15-19).

God sê vir jou, “My kind, vir ‘n rukkie was Ek kwaad vir jou. Ek het jou oorgegee aan jou leegheid en eensaamheid. Maar nou gaan Ek herstel alles wat die duiwel vernietig het.”

Jou lewe kan weer ‘n tuin wees. Dit is nooit te laat om oor te begin nie. Laat die Here dit die eerste dag van ‘n nuwe begin vir jou maak.