‘n Vuur in My Gebeente

David Wilkerson

In Jeremia 19 het God sy profeet ‘n woord gegee om tot Israel te spreek. Toe het hy hom na die tempel gestuur om te profeteer. Jeremia het die volgende woorde gespreek: “So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daaroor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie” (Jeremia 19:15).

Pashur was op daardie stadium die hoofopsigter van die tempel. En hy was dadelik onstoke oor Jeremia se woorde. Hy het onmiddellik in woede uitgebars en die profeet geslaan. Toe het hy sy huurlinge geroep om Jeremia in die blok gesit. Hy sou by die stad se hek geplaas word waar hy verneder sou word waar almal dit kon sien.

Die blok was ‘n martelinstrument. En Jeremia sou in aanhoudende pyn wees vir vier-en-twintig uur. Eerstens was sy kop in posisie geplaas. Daarna was sy liggaam gedraai, met sy arms oorkruis vasgemaak. Hy sou in hierdie folterende posisie bly vir ‘n nag en ‘n dag.

Wat ‘n aaklige toneel. Onthou Jeremia was ‘n gesalfde profeet van die Here. Hy het sedert sy jeug geweet dat hy geroep was om God se Woord tot sy uitverkore volk te spreek. Maar nou was Jeremia vasgebind en gemartel omdat hy presies dit gedoen het.

Ten spyte van sy lyding, het Jeremia egter nooit sy roeping betwyfel nie. Hy het geweet die Woord was deur God gegee. En dit was so van die heel begin van sy bediening af.

Die Here self het getuig van sy verhouding met Jeremia: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig;  Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak” (Jeremia 1:5). God het in wese gesê, “Ek het jou geken voor die aarde geskep is, Jeremia. Ek het toe reeds ‘n plan vir jou lewe gehad. Ek het jou geskep om my Woord te verkondig.”

Eers het Jeremia gereageer, “Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.” Maar God het geantwoord, “Moenie sê: Ek is jonk nie” (Jeremia 1:6-7). Met ander woorde: “Ek het jou geroep, Jeremia. So, moenie sê jy is nie in staat om dit te doen nie.”

Toe het die Here bygevoeg, “Want na wie toe Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red” (Jeremia 1:7-8).

Op daardie oomblik, vertel Jeremia vir ons, “Toe het die HERE sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die HERE het vir my gesê: Hiermee lê Ek my woorde in jou mond” (Jeremia 1:9).

Wat ‘n ontsaglike oomblik in Jeremia se lewe. Hoe wonderlik om te weet dat God sy hand op jou het, sy gedagtes aan jou openbaar en jou gesalf het om namens Hom te spreek. Dit was waarom Jeremia nooit die woord wat God hom gegee het, betwyfel het nie.

Toe het die Here Jeremia hierdie trekpas gegee: “Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle wat Ek jou beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie” (Jeremia 1:17).

Ten slotte het God hierdie wonderlike woord aan sy dienaar gespreek: “Want kyk, Ek maak jou vandag ‘n versterkte stad en ‘n ysterpilaar en kopermure teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land. En julle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red” (Jeremia 1:18-19).

Beskou die wonderlike boodskap wat God vir hierdie man gegee het. Hy het gesê, “Jeremia, Ek het vir jou ‘n bediening in die ewigheid beplan. En nou stuur ek jou uit om al die Satan se leuens te ontwortel. Ek wil hê dat jy elke afgod afbreek en hulle vernietig voor my volk. En jy moet ook my kerk opbou. Ek wil hê dat jy saad van my goeie nuus plant. Moenie bekommerd wees nie, Ek sal jou elke woord gee om te spreek net wanneer jy dit nodig het.

“Maar moet nooit bang wees vir mense nie. Moenie hulle fronse of dreigemente vrees nie. Onthou so lank as wat jy leef dat Ek met jou is. Geen demoon of vyand kan jou aanraak nie. Daarom moet jy nie moedeloos word nie. So, staan nou op in geloof en doen soos wat Ek jou beveel het. Jy het een goddelike doel en dit is om my gedagtes te spreek. Moenie dat enigiemand of enigiets jou afbreek nie.”

Die Here het toe hierdie laaste woorde bygevoeg: “Dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie” (Jeremia 1:17).

Geliefde, hier is God se boodskap nie net vir Jeremia nie, maar ook vir elke herder en Christelike werker wat ooit deur Hom geroep is. Hy vertel vir ons, “Moenie dat enigiemand jou afbreek nie! Daar is geen rede vir jou om wanhopig te wees nie. Daar is geen oorsaak vir jou om verward voor mense te wees nie. Ek het jou vertel Ek is met jou. Ek het gesê jy is ‘n ondeurdringbare fort. So, daar is geen rede vir uitbranding nie, geen rede vir jou om op te hou nie.

“As jy nie glo wat Ek jou vertel het nie — as jy gaan twyfel in my getrouheid aan jou — dan kan jy nie help om uit te brand nie. Jy sal bitter en uitgeput word en jy sal moed verloor. En jy sal beskaam staan voor almal wat jou teëstaan. Maar dit sal wees omdat jy nie in my Woord vir jou vertrou het nie.

“Ek vertel vir jou, dit maak nie saak watter soort swaarkry jy beleef nie. Dit maak nie saak hoe sleg mense jou behandel of mishandel nie. Jou vriende, jou familie, selfs prinse of konings mag teen jou draai. Maar hulle sal jou nooit oorwin nie. Ek het kopermure en magtige pilare rondom jou geplaas. Ek is met jou om jou te red!”

Die apostel Paulus sê van God, “Wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Timótheüs 1:9).

Eenvoudig gestel, elke persoon wat “in Christus” is, is deur die Here geroep. En ons het almal dieselfde mandaat: om God se stem te hoor, om sy Woord uit te dra, om nooit mense te vrees nie en om die Here te vertrou te midde van elke denkbare beproewing.

Inderdaad, wat God aan Jeremia beloof het, is van toepassing op al sy dienaars. Dit is dat ons nie nodig het om ‘n boodskap gereed te hê om voor die wêreld te spreek nie. Hy het beloof om ons monde met sy Woord te vul op die presiese oomblik wat ons dit nodig het. Maar dit sal slegs gebeur as ons Hom vertrou.

Paulus vertel vir ons dat baie aangestel is as predikers, leraars en apostels en dat hulle almal gaan ly weens dieselfde rede. Hy ag homself deel van hulle: “Waarvoor ek aangestel is as prediker en apostel en leraar van die heidene. Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge” (2 Timótheüs 1:11-12). Hy het kortliks gesê, “God het my heilige werk gegee om te doen. En omdat ek daardie roeping het, sal ek ly.”

Die Skrif wys dat Paulus getoets was soos min ander bedienaars ooit was. Satan het hom keer op keer probeer doodmaak. Die sogenaamde godsdienstige skare het hom verwerp en bespot. Soms het selfs diegene wat hom ondersteun het, hom mishandel en verlaat.

Maar Paulus was nooit voor mense in die skande nie. Hy was nooit verskrik of beskaamd voor die wêreld nie. En Paulus het nooit uitgebrand nie. Op elke geleentheid, het hy ‘n geseënde woord van God gehad om te spreek, net wanneer dit nodig was.

In werklikheid sou Paulus nie geskud word nie. Hy het nooit sy vertroue in die Here verloor nie. In  plaas daarvan, het hy getuig, “Ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot daardie dag toe” (2 Timótheüs 1:12). Eenvoudig gestel: “Ek het my lewe ten volle aan die Here se getrouheid toevertrou. Leef of sterf, ek is syne.” En hy het sy jong dienaar, Timótheüs,  aangemoedig om dieselfde te doen: “Hou as voorbeeld van gesonde woorde dié wat jy van my gehoor het, in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is” (2 Timótheüs 1:13).

Die pas afgelope week het ek dieselfde raad vir ‘n pastoor gegee. Hierdie man het pas sy kerk bedank. Hy het gevoel hy het misluk omdat hy nie enige bekeerlinge gemaak het nie of sy mense tot volwasse gelowiges laat opgroei het nie.

Sy vrou het gewroeg terwyl sy gesien het hoe haar man in diepe wanhoop verval het. Sy het gesê, “Hy is ‘n goddelike man wat omgee en getrou vir sy mense bid. Maar hy het moedeloos geword omdat hy geen geboorte gegee het aan enige geestelike kinders nie. Sy prediking is geseënd, maar die mense wou dit net nie hoor nie. Hy het gevoel hy kon niks anders doen as om te bedank nie.”

Ek het seker gemaak om Paulus se bemoediging aan hierdie man te stuur. Ek het hom aangemoedig om vas te hou aan sy geloof en die woord wat aan hom gegee is. God sou getrou wees om alles wat Hy beloof het, uit te voer.

Dit was nie net Jeremia se liggaam wat gedraai was nie. Sy siel het onder ‘n aanval deurgeloop. Dit was ‘n donker, martelende nag vir hierdie toegewyde, sorgsame man.

Uiteindelik, na vier-en-twintig uur van pyn en vernedering, is Jeremia vrygelaat. Hy het reguit na Pashur, die man wat hom opgesluit het, gegaan. En hy het geprofeteer, “Die Here het ‘n nuwe naam vir jou Pashur. Dit beteken ‘Jy gaan in voortdurende vrees wandel vir die res van jou dae.’” Jy sien, Jeremia het geweet hoe gevaarlik dit was vir enigeen om God se gesalfdes aan te raak. Onstoke, het Pashur bloot die profeet ‘n leuenaar genoem.

Teen hierdie tyd, het Jeremia die einde van sy lydsaamheid bereik. En hy het begin om die taal van ‘n uitgebrande dienaar te gebruik: “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my” (Jeremia 20:7). Die Hebreeuse woord vir “oorgehaal” hier, beteken om oop te maak. Jeremia het kortliks gesê, “Here, U  het my blootgestel aan ‘n groot misleiding. Ek het opgeëindig as ‘n bedienaar wat heeltemal mislei was.”

Ons kan nie dit wat God gedoen het, waarvan Jeremia Hom beskuldig het, beter laat klink nie. Hy het gesê, “Here, U het my geroep om u Woord te verkondig. U het my beveel om te profeteer, om af te breek en op te bou. U het ‘n harde, moeilike woord in my mond geplaas. Maar toe ek dit gespreek het, het U my verlaat.

“Ek verstaan nie. Ek het U gehoorsaam, Here. Ek was getrou. Ek het nie teenoor U gesondig nie. Trouens, ek het my lewe vir U op die spel geplaas. En wat het ek gekry? Bedrog, misleiding, verlating en mishandeling.”

Probeer jouself voorstel wat deur hierdie man se gedagtes gegaan het tydens daardie vier-en-twintig uur van marteling: “Ek het barmhartigheid aan al die verbygangers gepreek. Maar al wat hulle nou doen, is om my te mishandel. Here, ek het met hulle gespreek as u woordvoerder. Ek het hulle gesmeek om hulle tot U te bekeer. Ek het hulle vertel dat U hulle sal genees en seën. Maar hulle het met uiterste wreedheid teen my gedraai.

“Ek het vir dae geween oor hierdie mans en vroue. My hart het gebreek vir hulle. Ek het selfs getreur oor hulle sondes. My binnekant was in beroering met medelye vir hulle. Maar nou spot hulle almal my. Hulle koggel my daagliks. God, U het my in ‘n lewende hel geplaas. Die woord wat U vir my gegee het, het my skande geword” (sien Jeremia 20:7-8).

Jy mag wonder: “God het Jeremia belowe dat Hy hom nooit sal beskaam nie. Maar is dit nie wat hier gebeur nie?”

Ek verseker jou, God se dienaar was nie beskaam nie. In teendeel, die Here was besig om iets magtigs in die land te doen en dit sou slegs in hierdie tyd geopenbaar word. Hy sou die nasie wys dat Jeremia nie beskaamd voor enigiemand was nie. In plaas daarvan, sou Jeremia ‘n getuienis wees. En dit sou so bly deur die eeue.

Een dominee het vir my geskryf, “Ek voel so verslane. Ek was getrou om alles te doen wat God van my gevra het. Maar toe ek in geloof uitgestap het, het Hy my alleen gelaat in die gevaar.”

Ek het ‘n jong sendeling vriend, wat pas sy posisie verlaat het. Hy het in die bediening ingetree met hoë verwagtinge, maar nou verlaat hy dit uitgebrand. Hy het ‘n groot las vir siele gehad en hy het ywerig gearbei. Maar na verskeie jare, het hy steeds nie enige betekenisvolle resultate gesien nie. Hy was nooit aanvaar deur die mense onder wie hy gewerk het nie. Sy kinders was mishandel deur die plaaslike kinders. En sy vrou het moeg en moedeloos geword.

Hierdie man het die Here diep lief. Hy is ‘n kosbare dienaar van Jesus. Maar hy het genoeg gehad. Hy het vir my gesê, “Broer David, ek voel soos ‘n mislukking. Ek het vir so baie gehoop. Maar niks daarvan het ooit in vervulling gekom nie.”

Elke jaar is daar ‘n groeiende aantal sendelinge wat dieselfde ding beleef. Hulle word moedeloos, bedank en gaan huistoe. Hulle mag dalk nie so onbedagsaam soos Jeremia praat en die Here beskuldig dat Hy hulle mislei het nie. Maar diep binne hou hulle ‘n wrok teen die Here. Hulle voel dat Hy hulle in ‘n sekere rigting gelei het, maar hulle toe teleurgestel het.

Nog ‘n kosbare sendeling het aan ons bediening geskryf insake die bedanking van sy posisie. Hy het verduidelik, “Ek voel of God my in ‘n woestyn gelei het en my toe wapperend in die wind gelos het. Hy het my voor my vyande ontbloot en my toe verlaat. Ek het die bediening in uiterste misnoeë verlaat. En ek het die toets van gebrokenheid heeltemal gedruip. Ek het bitter geword.

“Ek sien nou wat my probleem was. Ek het nie enige wortels van vertroue neergesit tydens my beproewingstyd nie. Toe die beproewings begin, het ek nie vertrou op wat ek geweet het van God se Woord en sy getrouheid nie. Ek het sy belofte vergeet, “Ek sal jou nooit in die steek laat nie.”

Ek weet hoe dit is om deur hierdie soort beproewing te gaan. Ongeveer vyftien jaar gelede, toe Times Square Church net begin het, het Satan ons bediening probeer kelder en die kerk probeer vernietig. Daar was ongelooflike beskuldigings van rasse stryd en persoonlike aanvalle op my en my familie. Baie jongmense se gemoedere was vergiftig deur die skinderstories wat rondgegaan het. Sommige het na my gekom na afloop van ons dienste en gevra, “Is jy regtig ‘n bedrieër soos ek gehoor het?”

Tot op hierdie dag, maak dit steeds seer as ek deur my joernale van daardie tyd lees. Ek het Sondagoggende wanneer ek moes preek, begin haat. Dikwels het ek in my binnekamer gesit en huil totdat my vrou, Gwen, haar arms rondom my gesit het en gesê het, “David, dit is tyd om te gaan.”

Ek het vir weke gehuil oor die seer van dit alles. Uiteindelik het ek vir Gwen gesê, “Ek het nie hierdie dinge nodig nie. Waarom gaan ek nie maar terug na boeke skryf en evangelisasie nie?” Al wat sy kon doen, wat om haar kop te skud en te sê, “Hoe kan Christene so wreed wees?”

Natuurlik het ek nie bedank nie. En ek sal nooit nie. Waarom? Weens dieselfde rede waarom Jeremia nie kon ophou nie. Dit is die rede waarom ander Christen werkers ook nie kan ophou nie: “Dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie [ophou nie]” (Jeremia 20:9).

In Jeremia 20:14-18, het die profeet in ‘n tirade losgebars waarin dit geklink het of hy naby selfmoord was.

“Vervloek is die dag waarop ek gebore is; laat die dag waarop my moeder my gebaar het, nie geseënd wees nie. Vervloek is die man wat aan my vader berig gebring en gesê het: Vir jou is ‘n seun gebore...laat dié man wees soos die stede wat die HERE omgekeer het sonder dat dit Hom berou het...omdat hy my nie gedood het van die moederskoot af...Waarom het ek tog uit die moederskoot voortgekom om moeite en kommer te sien, sodat my dae in skande verdwyn?”

Ek het dieselfde wanhoop gehoor in die stem van ‘n bedienaar, wat my onlangs geskakel het. Hy het my vertel, “David, ek het die Here diep bedroef. Ek is so terneergedruk oor my mislukking, ek is leeg en het niks oor nie. Ek voel dat die lewe nie meer die moeite werd is nie.”

So baie van God se dienaars in die Skrif het dieselfde gevoelens geuiter. Toe Job diep in sy donkerste duisternis was, het ‘n stem hom aangemoedig, “Gee moed op met God en sterf.” Elia het ‘n soortgelyke stem gehoor. En die eens magtige profeet het op die ou end gesmeek, “Here, neem my lewe. Ek is ‘n mislukking soos al my vaders.”

Miskien voel jy nou soos hulle almal gevoel het. Jy is gedraai en verwring deur die vyand met jou kop in ‘n blok. Jy dink, “Ek het dag en nag geroep, maar my gebede word nie beantwoord nie. Ek kan nie meer so aangaan nie. Ek het dit nie meer in my lewe nodig nie. Dinge was makliker toe ek in die wêreld was, voor ek God ooit geken het. Hy het my in die steek gelaat.”

Sommige Christene mag reageer, “Sulke praatjies is teen die Here. Dit vra vir ‘n streng vermaning.” In der waarheid, is ons net in staat om die uiterlike mens te aanskou. God sien egter tot diep in die hart. En Hy het Jeremia se innerlike geken. Hy het gekies om nie die wanhopige profeet te bestraf nie. Waarom?

Die Here het geweet dat ‘n vuur steeds binne-in hierdie man gebrand het. Dit was asof God gesê het, “Jeremia sal nie ophou nie. Ja, hy blaas stoom af terwyl hy sy verwarring uiter. Maar hy glo steeds my Woord. Dit brand in sy siel. En hy gaan uit die vuur kom met ‘n geloof wat nie geskud kan word nie.

“Ek weet my dienaar kan nie anders as om my Woord te verkondig nie. Ek het dit op sy siel, sy hart en sy verstand gestempel. En sy beste dae lê nog voor. Hy is steeds my uitverkore dienaar.”

Jeremia het ‘n tweede asem gekry. Skielik was hy vol nuwe lewe. En hy het opgestaan asof om te sê, “Wag ‘n bietjie, Satan — jy kan my nie mislei nie. Jy gaan my nie uit die bediening, wat God vir my gegee het, jaag nie. Die Here het my geroep en ek weet sy Woord is waar en seker.”

Die profeet het toe getuig, “Want ek het die skindertaal van baie gehoor – skrik rondom...Al die mense wat met my in vrede lewe, loer op my val; hulle sê: Miskien laat hy hom verlei, dan kan ons hom oorweldig en ons wraak op hom neem. Maar die HERE is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie...Sing tot eer van die HERE, prys die HERE! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die land van die kwaaddoeners verlos” (Jeremia 20:10-11, 13).

Op hierdie oomblik mag jy dink dat jou vuur uitgebrand het. Jy is oortuig daar is nie ‘n vonk oor nie. Miskien is dit sonde wat die vuur uitgeblus het. Jy het verslaaf geraak en bietjie vir bietjie het jou vuur afgeneem. Ek het geluister na die tragiese stories van mans en vroue wat geruïneer is deur die Internet. Vir die meeste mans, was die verleiding pornografie. Vir vroue, wat dit die ontmoeting van ‘n man in ‘n kletskamer en die begin van ‘n buite-egtelike verhouding.

Dit is jammer dat baie van Christus se liggaam deesdae ‘n hedendaagse Dal van Droë Bene verteenwoordig. Dit is ‘n wildernis vol van die verbleikte geraamtes van gevalle Christene. Bedienaars en ander toegewyde gelowiges se vlam het uitgedoof weens ‘n boesemsonde. En nou is hulle vol skaamte en kruip weg in grotte wat hulle self gemaak het. Soos Jeremia, het hulle hulself oortuig, “Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie” (Jeremia 20:9).

Die antwoord tot hierdie vraag is ‘n absolute, “Ja!” Hoe? Dit gebeur by die vernuwing van ons geloof in God se Woord.

Die Woord van die Here is self ‘n verterende vuur. Inderdaad, dit is die enigste ware lig wat ons gedurende ons donker nag van wanhoop het. Dit is ons enigste verdediging teen die vyand se leuens, wanneer hy fluister, “Dit is alles verby. Jy het die vuur verloor. En jy sal dit nooit terugkry nie.”

Die enigste ding wat ons uit ons duisternis sal haal, is geloof. En geloof kom deur die God se Woord te hoor. Ons moet eenvoudig vashou aan die Woord wat in ons geplant is. Die Here het beloof, “Ek sal jou nie laat val nie. Daarom het jy geen rede om wanhopig te wees nie. Daar is geen rede om op te hou nie. Rus in my Woord.”

Jy mag dink, “Maar hierdie donker nag is erger as enigiets wat ek ooit geken het. Ek het ‘n duisend preke oor God se Woord gehoor, maar nie een daarvan is skynbaar nou vir my van hulp nie.”

Moenie bekommerd wees nie. God se vuur brand steeds in jou, selfs al kan jy dit nie sien nie. En jy moet die brandstof van geloof op daardie vuur giet. Dit doen jy deur eenvoudig die Here te vertrou. Wanneer jy dit doen, sal jy sien hoe al jou twyfel en begeerlikhede weggebrand word.

Oral oor sien ek ‘n massiewe wegval van God se Woord. Ten spyte hiervan, sien ek egter ook dat God ‘n heerlike werk doen deur sy mense te herstel. Hy gaan agter elke krygsman aan wat gewond is of geval het. Hy ken diegene wat gedros het. En Hy het hulle steeds lief. Inderdaad, hy praat van almal wat ooit by sy leër aangesluit het. En Hy moedig hulle aan om terug te keer na hulle oorspronklike roeping.

God se Gees blaas weer lewe in elke stel droë bene. Hy herinner ons aan die Woord wat Hy in hulle geplant het. En diegene wat eers dood gelê het, word opgewek. Hulle roep soos Jeremia het, “God se vuur is te lank in my opgesluit gewees. Ek kan dit eenvoudig nie langer inhou nie. Ek kan voel hoe die Here se krag in my opstaan. Hy sit sy lewe in my. En ek gaan die Woord wat Hy my gegee het spreek. Ek gaan sy barmhartigheid en genesende krag verkondig.”

Jesaja gee vir ons al die bewyse wat ons nodig het van God se begeerte en gewilligheid om sy gevalle dienaars te herstel:

“Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het. Ek was toornig vanweë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkering voortgegaan op hulle eie weg.

“Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges. Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees” (Isaiah 57:16-19).

Die Psalmis skryf, “Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is. Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde” (Psalm 147:2-3).

Geliefde, ek weet nie wat jou spesifieke stryd is nie. Jy mag te midde van die donkerste nag wat jy ooit geken het, wees. Die hemele mag soos koper vir jou gebede wees.

Maar ek weet dit: God het ‘n vuur in jou gebeente geplaas. En daardie vuur brand steeds. Daar mag dalk net ‘n klein vonkie oor wees. Maar die Heilige Gees blaas sy asem daaroor. Hy is getrou om die vlam in jou aan te steek. Hy is besig om jou op te rig en om jou te herstel tot jou oorspronklike roeping. En Hy sal jou dra deur elke donker nag.

Moenie toelaat dat die duiwel jou afbreek nie!