‘n Teiken vir Satan se Jaloesie

As u ‘n Christen is wat God met u hele hart soek, is u ‘n teiken.

Hierdie boodskap is vir gelowiges wat ‘n tydperk van ernstige toetsing deurgaan. Ek praat met hulle wat deur diepe beproewings gaan en wat verstandelik, fisies en geestelik uitgeput is. Ons leef in ‘n tyd van groot spanning, wanneer beproewinge skielik oor ons kan kom, en ons oorweldigd, moeg en deurmekaar agterlaat.

Ek dank God vir elke Christen wat op die oomblik ‘n tyd van geestelike welvaart ervaar. U lewe is nie onder spanning nie, en u hoef nie lastige toetse of pyn te verduur nie. Ek is dankbaar teenoor die Here dat Hy sulke tye in sy kinders se lewens gee.

Tog weet ons, uit die Woord, dat storms en beproewings oor almal se pad kom wat waarlik alles aan Christus oorgegee het. “Menigvuldig is die teëspoed van die regverdige” (Ps. 34:20). Des te meer as u honger na die Heer – as u u voorgeneem het om Hom met u hele hart te soek, met u hart en siel sy Woord wil gehoorsaam – sal u voortdurend ‘n teiken vir die duiwel se jaloesie wees.

Vir geslagte reeds het Christene probeer om die oorsake en redes waarom godvresendes ly, te deurgrond. Die antwoord bly hulle ontwyk. Telkens as ek deur diep beproewing gaan, vind ek dit moeilik om enige waarhede wat ek my eie hart geleer het, te benut. In plaas daarvan, bid ek: “Here, ek moet in U Woord ‘n antwoord kry vir my huidige nood.”

Vir baie wat lang beproewings deurstaan, kom die vrae: “Here, het ek U op ‘n manier bedroef? Is daar iets in my lewe wat U verhinder om my gebed te hoor? Ek was getrou aan U Woord, waarom dan hierdie nimmer-eindigende beproewing? Die Bybel sê, U sal my nie bo my kragte versoek nie. Waarom is ek dan op breekpunt? “

Ek is oortuig dat die moeilikste geestelike stryd plaasvind in die gedagtes van die gelowiges. Baie Christene ervaar swaar geestelike beproewinge; hulle voer stryd teen drukkende, onchristelike, angsvolle gedagtes. Hulle kan nie depressiewe herinneringe aan vorige mislukkings afskud nie. Ten slotte voel hulle nie waardig om gemeenskap met God te hê of sy seën te ervaar nie.

Ek het nie die antwoord waarom gelowiges so baie ly nie, maar ek weet: een ding is seker.

Daar kom ‘n tyd in elke gelowiges se lewe waar hy moet kies: hy kan louwarm in sy geloof bly of hy kan kies om Jesus met sy hele hart te volg. Telkens as ons kies om Jesus ten volle te volg, ontwrig ons die fondament van die hel. Dan stuur Satan sy demoniese magte om die hel se woede in ons lewens te ontketen.

‘n Barna opname het aan die lig gebring dat 70% van mense wat hulleself as wedergebore beskou, nie dink dat hulle wandel met God die belangrikste ding in hulle lewens is nie. Dit is ‘n absolute tragedie. Tog wys dit vir ons waarom Satan so bekommerd is oor die klein minderheid mense wat hulleself volkome toegewy het om Jesus te dien.

Die duiwel merk iets in elke toegewyde Christen se lewe – iets wat vernietigend is vir sy koninkryk. Dit gebeur wanneer ‘n kind van God hom voorneem om die Here te vertrou, nader aan Hom te kom, te midde van pyn en probleme. Satan besef dat so ‘n persoon andere vir Christus sal wen, deur gebed sowel as om lyding gewillig en gelowig te dra.

As Satan hierdie soort geloof sien, weet hy dat die fondamente van die hel geskud word. Daarom gee hy opdrag aan sy onderdane om hulle poste naby koue, onverskillige, plesier-soekende Christene te verlaat. Hy stuur hulle om vurige Christene wie se handelinge bewys dat hulle na die volheid van Christus beweeg, aan te val.

Dink aan die apostel Paulus. Toe hierdie vurige vervolger van die kerk, ‘n openbaring van Christus ontvang en hy sy hart daarop geplaas het om te vas en te bid – word hy onmiddelik ‘n uitgesoekte teiken vir Satan se woede. Die Satan was nie net bang vir bedreigings wat Paulus se bekering vir sy koninkryk sal beteken nie; maar hy was woedend jaloers op die openbaring wat Paulus van die paradys ontvang het.

Kyk, die Woord vertel ons dat Lucifer uit die hemel gewerp is, uit die heerlikheid van God se teenwoordigheid. Sedertdien kan Satan dit nie verdra dat iemand minder as hyself, enigiets van die paradys kan smaak nie. Hy is ten volle jaloers op enigeen wat geseënd is, dan sien hy wat hy vir ewig verloor het.

Paulus skryf, “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie” (2 Kor. 12:7). God sal nooit ‘n demoniese mag loslaat op enige van sy kinders nie. Hoewel Job deur Satan geslaan is, het die Here perke gestel aan hoe ver Satan mag gaan. Satan kan ons teister, maar hy kan nie ‘n enkele lewe vernietig nie.

Volgens Paulus was hierdie helle hond in sy lewe toegelaat om hoogmoed te voorkom. Die duiwel het hierdie boodskapper gestuur om Paulus se vlees te teister, wat fisiese en geestelik pyn veroorsaak het. Satan het die boodskapper beveel om onbarmhartig te wees in sy aanval: “Teister Paulus herhaaldelik. Slaan hom dag vir dag, onophoudelik.” Maar jaloesie het Satan verblind. Wat die duiwel gebruik het om Paulus te breek – ‘n spervuur van fisiese en geestelik aanvalle – het God tot voordeel vir Paulus gebruik.

Waarlik die magte van die duisternis het Saulus vergesel op die Damaskus pad. Hier was die duiwel se uitstaande onderdaan: ‘n toegewyde, ‘godvresende’, godsdienstige leier wat letterlik die duiwel se werk gedoen het. Saulus was op pad om Christene gevange te neem en na Jerusalem terug te bring om te martel.

Maar toe Saulus van sy perd gegooi is en ‘n visioen van Christus ontvang het, het hy onmiddelik op sy gesig geval en uitgeroep: “Here Jesus, wys my wat ek moet doen!” Hy het vir drie dae geweier om te eet of te slaap, en sy hele wese op die Here toegespits.

Wat dink julle het in die hel gebeur op daardie oomblik? Die duiwel se hele koninkryk het ontplof. Ek stel my voor dat Satan ‘n noodvergadering saamgeroep het, waar hy ‘n spesiale boodskapper aangestel het met ‘n lewenslange opdrag: om elke wapen van die hel op Paulus te rig. Satan beveel sy boodskapper: “Val daardie man aan met al jou krag. Jy het al die wapens van die hel tot jou beskikking. Jou enigste opdrag is om Saulus se geloof te vernietig.

Ek kan my voorstel hoe hierdie demoon Paulus aangeval het: bombardemente van leuens, herinneringe van elke Christen wat hy gemartel het, van elke ding wat hy teen Christus se naam gedoen het. Op dieselfde manier val Satan vandag nog elke vurige Christen aan. Hy stuur slegte geeste om bo ons lewens te swewe en leuens in te fluister, om ons geloof te vernietig.

Dit is een rede waarom Satan voortdurend God se heiliges probeer onderkry. Hy will hulle beroof van hulle rus, hulle gemeenskap, hulle hoop op die paradys met die Here – in kort alles wat hy verloor het, toe hy uit die hemel gegooi is.

Dink terug aan u wandel met God. Miskien was u op ‘n sekere stadium louwarm en het u verlang na meer van Hom, verlangend dat Hy u mag gebruik. Daarom het u ‘n besluit geneem om ‘n sekere lyn oor te steek, van algehele toewyding aan Jesus. Meteens was daar ‘n drang om te bid, soos nooit tevore nie, en God se belange het u belange geword. U het Jesus gevra om herlewing in u hart, om sy Gees oor u uit te stort, om van u ‘n voorbidder te maak, wat sy belange op die hart dra.

Ek sê vir u, dit was die tyd wat u ‘n skyf vir Satan se aanvalle geword het. U mag sê: “Maar daardie tydvlak het nie lank in my lewe geduur nie. Ek het nie meer daardie vuur nie. Meestal lewe ek onder ‘n wolk van neerslagtigheid.” Dit maak nie saak nie. Selfs nou mag u geloof wankel, amper tot niet gaan. Nogtans ken Satan hierdie feit: daar is nog ‘n vonkie ‘n die vuur, wat onder die probleme smeul. Solank as daardie gloeiende kole daar is, kan hulle, te enige tyd, opvlam in rooiwarm vlamme.

Daarom sal Satan u nie uitlos nie. Daarom word u geteister. Hy is vasbeslote om die Heilige Gees geen kans te gee om daardie vlammetjie in u aan te blaas nie. Om die rede waarsku Paulus ons om nie oningelig te wees oor die duiwel se streke nie: “sodat ons nie deur die Satan bedreig sou word nie, want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Kor. 2:11). As ons die vyand se taktiek ignoreer, kan ons hom toelaat om ‘n vastrapplek in ons lewe te kry.

Sommige Christene glo dat ons nie eers Satan se naam moet noem nie, dat dit hom op ‘n manier sal verheerlik. Tog maak die Bybel dit duidelik as ons geleer word wat die planne van die duiwel is, het ons geen rede om hom te vrees nie. Ons word selfs vertel, dat in hierdie laaste dae, Satan met groot woede op die aarde sal toesak, ons beter dus sy taktieke ken. Paulus skryf: “Satan self doen hom voor as ‘n engel van lig. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie” (2 Kor. 11:14-15).

Paulus se waarskuwing is hier helder en duidelik: Satan gebruik goddelose mense as boodskappers van sy woede en jaloesie. Volgens die apostel het hierdie mense die kerk binnegedring. Het u al sulke mense ontmoet? Was u al die teiken van hulle woede, as hulle woorde ge-uiter het wat tot in u siel gesny het, woorde wat u geweet het wat reguit uit die duiwel se mond gekom het?

U is ‘n teiken vir hulle verwyt omdat u geloof en toewyding ‘n teregwysing vir hulle plesiervolle lewenstyl is. In kort, hulle woorde is Satan se jaloesie wat teen u losgelaat is. Tog openbaar die lig van die Woord elke duistere werk, en maak die godvresendes bewus van die liste van die vyand.

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my Helper en my God! Ek wil vir God sê: My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moes ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?” (Ps. 42:6, 10).

Toe Dawid hierdie Psalm geskryf het, was hy nie geestelik koud of louwarm nie. Inteendeel, hy sê dat hy na God “gesmag” en “gedors” het. (42:2-3). Tog was dit gedurende hierdie tyd dat Satan sy boodskappers gestuur het om Dawid te teister. Hulle het hierdie snydende beskuldiging in Dawid se gesig gegooi: “Waar is jou God?”

Dit het Dawid se hart gebreek en hom laat uitroep, “Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: ‘En waar is jou God nou?’” Let op, die vraag wat Satan vra, is nie ‘Waar is God?’ nie, maar ‘Waar is jou God?’ Met ander woorde: “Waar is die bewys van God se sorg en uitredding vir jou?”

Toe Dawid dit geskryf het, was hy besig om voor sy seun Absalom uit te vlug. Hy moes in grotte skuil en was in die benoudheid op elke vlak, verstandelik, fisies en geestelik. Die grootste deel van Israel het hom verwerp, selfs van sy naaste vriende. Dawid praat van sy diepe pyn hieroor. Hy sê: “sonder ophou sê hulle vir my …” (Ps. 42:4) Maar, wie is hulle?

Soms vind Satan mense wat luidkeels pynlike dinge vir ons sal sê. Gewoonlik gebruik hy egter sy demoniese magte om ons geloof te skud. Hulle fluister aan ons subtiele maar verwoestende gedagtes wat deur Satan self uitgedink is. Selfs die mees godvresende gelowiges is nie uitgesluit van hierdie aanvalle nie. Dit was die geval met Dawid wat hierdie beskuldigings gehoor het: “Jy het nie ‘n huis nie. Jou familie het jou verwerp. Jy het allerlei probleme, Dawid. Hoe kan jy daarop staan dat jy die Here se gesalfde is?”

Op dieselfde manier, sit Satan se verteenwoordigers, sulke beskuldigings in ons gedagtes, wat ons laat vra: “Here, waar is U in hierdie krisis? Waarom moet ek hierdie pynbeker drink, met soveel teen my? Waarom hoor U nie my gebede nie? Ek roep dag en nag, maar ek hoor niks. Beteken my trane niks vir U nie?”

Ons weet dat Dawid na aan die Here gewandel het, dat hy op God se getrouheid gereken het. Hy was ‘n man van gebed, wat die Here gesoek het in elke lewenssituasie. En die Bybel sê dat God met hom was, oral waar hy gegaan het, en in alles wat hy gedoen het. Satan moes jaloers gewees het op hierdie man, en die openbarings van die hemel, wat hy ontvang het, wat in die psalms weerspieël word.

Dit is geen wonder, dat Satan ‘n slegte gees gestuur het om Saul besete te maak nie. Saul wat ‘n kompromie aangegaan het – om die hel se woede teen Dawid te laat losbreek. “En van die dag af het Saul ‘n oog op Dawid gehad” (Hy was jaloers) (1 Sam.18:9).

Moenie ‘n fout maak nie: Satan was nie bekommerd oor Dawid se veg-vermoë, of sy kuns-talente, of sy dinamiese persoonlikheid nie. Nie een van hierdie dinge het sy koninkryk bedreig nie. Eerder was dit Dawid se geloof, sy verhouding met sy Vader, wat die hel losgelaat het. Dit het Dawid “skyf nommer een” vir Satan gemaak. Hierdie man was opgejaag, bespot, geteister om een enkele rede: hy het naby God gewandel.

Dieselfde gebeur vandag met elke toegewyde kind van God. Satan sien dat God met so ‘n gelowige is en hyself is verwerp deur God – en dit verwek sy jaloerse woede. Natuurlik word Satan se jaloesie ge-openbaar in Saul se jaloerse uitbarstings: “Dit het vir Saul duidelik geword dat die Here by Dawid is … Saul het nog banger geword vir Dawid, Saul was vergoed vyandig teenoor Dawid … Saul het probeer om Dawid teen die muur vas te pen, met sy spies (dood te maak)” (1 Sam. 18:28, 29; 19:10).

Let op, alhoewel Saul teen Dawid gewoed het, was hy ook bang vir hom: “Saul was bevrees vir Dawid, omdat die Here met hom was” (18:12). Hier is ‘n duidelike voorbeeld dat Satan bevrees is vir elke opregte, biddende, gelowige man of vrou van God. Jakobus vermaan ons met hierdie waarheid en herinner ons aan die wapen wat aan ons gegee is “weerstaan die duiwel en hy sal van julle vlug” (Jakobus 4:7).

Satan vrees selfs ‘n klein leërmag wat oorgehaal is om in die geloof teen hom te veg. Hy wyk voor hulle wat op die been is en gereed is om te veg. Omdat hy julle vrees, probeer hy julle veggees uitskakel.

Die duiwel doen dit deur te probeer om u gedagtes te deurspoel met verydelde, afleidende, helse gedagtes wat wantroue en vrae oor God se krag meebring. Hy sal in jou gees en gedagtes skree: “Dit is hopeloos om nog te veg. U is te swak weens u persoonlike stryd. U sal nooit oorwinnaar wees nie. Die magte van die hel is te groot om te oorkom. Ontspan maar u hoef nie so intens weerstand te bied nie.”

Geliefdes, dit is alles net ‘n aandag aftrekkery. Satan se hele strategie is om u aandag af te trek van die oorwinning van die kruis. Hy wil u oë hou op die eie swakheid, u sonde, u tekortkominge – daarom vererger hy u huidige probleme en lyding. Hy wil u laat glo dat u nie sterk genoeg is om aan te hou veg nie. Maar u krag is nie belangrik nie, Jesus se krag is van belang.

Dit is ‘n feit dat ons almal in ‘n geveg is tot ons, ons oë in hierdie lewe sluit, of tot Jesus weer kom. Ons mag tye van kalmte of rustigheid ervaar, maar solank as wat ons op aarde is, is daar geestelike oorlogvoering. Daar is eenvoudig geen einde aan hierdie geveg nie. Daarom sê Paulus dat Jesus vir ons wapens gegee het, wat magtig is om die vestings te vernietig: gebed, vas en geloof.

Sommige Christene konsentreer so op hulle pyn en versoeking dat hulle dit begin aanvaar het. As ‘n mens sulke gelowiges ontmoet hoor jy net van hulle worsteling. Jy hoor nooit van die oorwinning van Christus in hulle lewe nie.

Mag dit nooit so wees met God se kinders nie. Die tyd het gekom dat ons, ons oë sal afwend van ons beproewinge, en na die Kaptein sal kyk. Jesus hou die sleutel tot die oorwinning, en Hy het beloof: “Ek het julle toegerus met elke wapen vir die geveg. En Ek is gereed en gewillig om julle krag te gee in tye van swakheid.”

In Genesis 15 maak God ‘n wonderlike verbond met Abraham. Hy beveel die patriarg om ‘n vers, ‘n bok en ‘n skaapram te bring en in twee te verdeel. Verder moes hy ‘n tortelduif en ‘n jong duif op die grond neerlê, kop-aan-kop. Abraham het dit gedoen. Terwyl hierdie karkasse op die grond lê en bloei het, het aasvoëls op hulle toegesak. Skielik het Abraham ‘n vreeslike duisternis om hom voel toesak. Wat was hierdie duisternis?

Dit was Satan wat paniekerig geraak het. U sien, die duiwel het gehoor wat se verbond God met Abraham gemaak het. God het beloof om van Abraham ‘n magtige nasie te maak en om sy naaste te seën. God het selfs beloof om Kanaän aan Abraham te gee. Dit was hierdie laaste belofte wat die duiwel jaloers gemaak het. Kanaän was die duiwel se terrein, ‘n land van afgodsdienaars, sy demoniese vastrapplek op die aarde. Nou sê God Abraham se nageslag sal kom en dit in besit neem.

Geliefdes, wanneer u in verbond met Christus is, sê Hy goeie dinge vir u. Hy beloof, “Ek gaan jou bewaar dat jy nie val nie, en Ek gaan jou foutloos voor die Vader se troon bring.” Deur dit te doen, het Hy aan ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur” (2 Pet. 1:4).

Hoe dink u reageer Satan as hy dit alles in u lewe sien gebeur? Ten eerste sien hy die heerlike beloftes van die Nuwe Verbond in u lewe gestalte kry, as u u lewe aan Jesus gee. Dit maak die duiwel woedend jaloers. Dan sien hy nog u vaste voorneem om die hele pad met Jesus te loop. Op daardie punt, is daar slegs een reaksie: die hel gaan in paniek!

Satan besef dat u die “bloed offer” van Jesus ten volle vertrou om alle vleeslike begeertes in u dood te maak. Hy weet dat sy duistere koninkryk hierdeur bedreig word. Daarom stuur hy aasvoëls om u offer te verslind. Wat is hierdie aasvoëls? Die gedagtes wat in die hel gebore is, wat u pla en Christus se getrouheid laat wantrou.

Al wat nodig is, is een vertrouende, biddende Christen om die fondamente van die hel te skud. As dit waar is van u, dan sal u die aanvalle van die aasvoëls ervaar, wat probeer om u te laat wankel.

Ek ken baie toegewyde gelowiges wat op hierdie oomblik ‘n diep gevoel van onsekerheid ervaar. Hulle worstel daagliks met gevoelens van onwaardigheid. Hulle dink: “As ek regtig getrou is, sal ek nie so onrustig wees nie, so vrugteloos in my getuienis, so finansieël gekniehalter nie.” Nee, dit is die werk van die hel se aasvoëls wat u offer probeer steel.

Wat het Abraham gedoen toe die aasvoëls kom? Die Skrif sê, hy het hulle weggejaag. Op dieselfde manier, het die Here vir ons gewys wat om met die aasvoëls te doen. Ons hoef nie bang te wees vir die duiwel se aanvalle nie, want ons het magtige wapens gekry.

Wanneer enige stem wat God bevraagteken in my gedagtes kom, moet ek dit toets teen wat ek van my geliefde Heer weet. Ek kan geen gedagtes as die waarheid aanvaar, as dit op gevoelens gebaseer is nie. Dit moet gemeet word teen Jesus se beloftes aan my, oor Homself en teen die oorwinning wat Hy vir my behaal het.

Eenvoudig gestel, as beskuldigende gedagtes by my opkom – as hulle angs en twyfel, of veroordeling, of ‘n gevoel van verwerping bring – dan is dit nie van God nie. Ons moet almal voorbereid wees dat sulke ellendige gedagtes sal kom. Selfs Jesus het sulke soort gedagtes gehad met sy versoeking in die woestyn.

Ek is bevriend met sommige van die mees geheiligde diensknegte van God op aarde. Baie van hulle het my vertel dat na toegewyde tye van soeke na die Here – dae van vas, dae van konsentrasie van hart en gedagtes op God se werk – hulle gepla is met die vreeslikste vertwyfeling, selfs twyfel aan die bestaan van God.

Een goddelike profeet het aan my bely, “Kort gelede is ek geteister met bose gedagtes. Dit is die eerste keer in my lewe wat dit gebeur het.” Maar die Heilige Gees het hom verseker: “Staan vas in die geloof. Hierdie is nie jou gedagtes nie. Dit is van die duiwel. Die duiwel wil jou oortuig dat jy netso sleg is, as die gedagtes wat hy stuur. Hy wil jou geloof laat wankel. Hou vas en glo in die Here. Jy gaan nie sink nie. Jy word aangefval, omdat jy die fondamente van die hel geskud het.”

Soos Abraham, het my vriend, die aasvoëls weggejaag, deur in geloof God se woord te gebruik. Op dieselfde manier het Jesus die Satan in die wildernis weerstaan, en die duiwel het Hom vir ‘n tydlank uitgelos. Ons moet weet dat God dieselfde vir ons sal doen, as ons in die geloof bly staan, en op sy beloftes vertrou.

Daarom, liewe gelowige, as die aasvoëls op jou afkom, deur gedagtes van onwaardigheid en onsekerheid te bring, verjaag hulle met God se Woord. Die offer wat die Here van jou gevra het, is aangenaam vir Hom, en Hy sal dit eer. Halleluja!