‘n Eervolle Begroeting aan Hulle Wat By die Pakke Agtergebly het En Tog

In 1 Samuel lees ons hoedat Dawid en sy troepe terugkom van die oorlog af, net om te vind dat hulle dorp afgebrand is. Siklag, Dawid se hoofkwartiere, was aangeval deur die Amalekiete. Die ergste was dat die vroue en kinders weggevoer was.

Toe Dawid en sy manskappe dit sien, val hulle op die grond en ween. Hulle was oortuig dat hulle geliefdes doodgemaak was. Die Skrif sê dat hulle almal geween het tot al hulle kragte verspil was.

Toe word hulle vir Dawid kwaad. Hulle tel klippe op en wil hom stenig, omdat hulle hom blameer. Tog, ondanks dit alles, versterk Dawid homself in die Here. Hy vra vir Abjatar, die priester, om uit te vind, wat die Here wil hê dat Dawid moet doen.

Abjatar gee vir Dawid hierdie Woord: “Gaan, agtervolg die Amalekiete. Jy sal alles terugkry. Jy sal niks verloor nie.”

Dawid trek dus uit met 600 man in agtervolging van die Amalekiete. Toe hulle by die rivier Besor kom, kry hulle ‘n gewonde Egiptiese slaaf. Die slaaf lei hulle na die Amalekiete se kamp.

Hierdie 200 man was miskien te uitgeput, of beseer of siek, maar beslis nie lafaards nie. Hulle is deur omstandighede teruggehou. Voor Dawid verder gaan, gee hy aan hierdie 200 die opdrag om na “pakke” te kyk. Dit was waarskynlik toerusting, eetgerei, wapens en klere.

Dawid vertrek met die 400 en kry die Amalekiete in ‘n vlakte. Hulle is verstom oor wat hulle sien: die vyand het meer as ‘n miljoen vee by hulle, want hulle het ook die Filistyne oorval en beroof. Tussen dit alles sien Dawid se manne ook waarvoor hulle gekom het: die gevangenes hulle vroue en kinders.

Toe Dawid en sy manne naderkom, sien hulle dat die Amalekiete uitgestrek lê, tussen hulle tente. Hulle het gedrink en hulle groot buit gevier. Saam met die geloei van ‘n miljoen diere was dit seker ‘n chaotiese spul.

Dawid laat sy 400 man die kamp omsingel. Die geveg wat gevolge het, was bloedig, en dit het een en ‘n halwe dag geduur. Aan die einde tree Dawid as oorwinnaar uit, - en soos Abjater gesê het, kry hy alles en almal terug. Nie ‘n enkele persoon of dier of enige iets wat geneem is was vermis nie.

Na die geveg, terwyl die buit verdeel word, lê Dawid beslag op die buit wat van die Filistyne afgeneem is. Hy verklaar, “Dit is ook myne,” want hy het ‘n spesifieke doel daarmee in gedagte gehad.

Toe die terugkerende oorwinnaars naby die Besor rivier kom, sien die 200 agtergeblewe manne hulle aankom met hulle vroue en kinders. Wat ‘n pragtige gesig terwyl hulle uitstorm en hulle geliefdes met trane omhels.

Maar die oomblik is gevul met bitter en soet ervarings. Terwyl dit omstandighede was wat hierdie manne verhinder het om aan die geveg deel te neem, was hulle net so dapper, net so bekwaam, net so toegewy om die vyand aan te pak, soos die ander. Tog, voel hulle onwaardig om te deel in die oorwinnigsvreugde.

Dawid het geweet hoe hierdie manne voel: “Ek het nie die vreugde van hierdie oomblik verdien nie. Ek het niks gedoen nie. Ek moes in die aanvalslinie gewees het.”

Waarlik, sommige van die 400 wat geveg het, begin kla. Die Skrif noem hierdie manne “slegte en nikswerd manne.” Hulle het vir mekaar gesê: “Ons gaan nie die buit met hierdie papbroeke deel nie. Hulle het nie saam met ons hulle lewens gewaag nie. Hulle het nie die uitdaging aanvaar en die risiko geloop nie.” (1 Samuel 30:22). Hulle gebrom het byna uitgeloop op ‘n muitery.

Maar Dawid het op daardie oomblik ‘n hart soos God gehad. Hy het nadergekom na hierdie 200 manne en gevra hoe dit met hulle gaan. (1 Samuel 30:21)

Op daardie oomblik – met daardie grootste gebaar, het Dawid, vir eens en vir altyd die wet van oorlogsbuit neergelê. Hy het gesê: “Nee, soos die aandeel van die wat gaan veg, is die aandeel van die wat by die pakke agtergebly het; hulle deel gelykop.” (30:24) Al 600 manne sou gelykop deel.

Dawid sou nie toelaat dat enige soldaat in sy leër, homself verwyt as hy nie in die voorste linie was nie. Daarom roep hy sy leiers bymekaar en beveel hulle: “Ek sal hierdie verdeeldheid nie toelaat nie. Ons gaan gelykop deel. Hierdie ondersteuners is netso belangrik as die voorvegters.”

Toe Dawid hierdie 200 vriendelik gegroet het, het hy met die gebaar gesê: “Mooi so! Hierdie oorwinning is net soveel julle s’n as die van hulle wat uitgegaan het. Julle was bruikbaar waar julle was. En as julle koning, beveel ek dat julle gelykop sal deel in die buit.”

Van toe af het elke koning in Israel se geskiedenis hierdie wet gehandhaaf.

Ek wil met elke Christen praat wat, deur omstandighede, nie na die sendingveld kan gaan nie. Ek verwys na hulle wat getrou is in gebed, in selfverloënende bydraes, en op ander maniere die sendingwerk ondersteun. Aan al sulke gelowiges wil ek sê, julle is die verskaffers van die onderhoud van die sending. In 1 Samuel 30 is hier ‘n belofte aan julle. Julle sal gelykop deel.

Op daardie heerlike dag, as ons geveg ten einde loop – as ons eindelik ons geestelike swaarde mag neerlê – sal baie voor God se troon verskyn, in die vermoede dat hulle hande leeg is. Hierdie onbekende, ongeërde gelowiges sal vir hulleself sê; “Ek het niks om vir die Here te gee nie. Ek het nie veel gedoen nie. Ek het niemand na Christus gelei nie.”

Wat ‘n groot verrassing wag vir hulle, as Jesus die buit begin verdeel. Hulle sal deur vreugde oorvloei word, as hulle oë oopgaan en hulle kan sien watter groot rol hulle in die oorwinning gespeel het. Onder hulle sal weduwees, bed-gekluisterdes, pensioenarisse – wat met selfverloëning tot die sending bygedra het, wees.

As ek aan hierdie ongeërdes dink, kom die Amerikanse vroue gedurende die Tweede Wêreldoorlog voor my gees. Getrou het hulle aan die tuisfront geveg. As jongmens, het my familie dikwels my ouma besoek wat naby Pittsburgh, Pennsylvania gewoon het. Daar naby was ‘n fabriek wat swaar bomme vervaardig het. Gedurende hierdie besoeke het ek dikwels buite die omheining van daardie fabriek gestaan en gesien hoedat baie vroue werkers daar in en uit gegaan het.

Terwyl hulle mans, broers en vriende op die slagveld geveg het – in die Stille Oseaan, Europa en Afrika – het hierdie vroue in die wapen fabrieke hulle deel bygedra. Hulle het dag en nag geswoeg en gesweet met die gedreun van die skril fabrieksgeluide in hulle ore.

Omstandighede het hierdie vroue van die slagveld teruggehou. Daarom het hulle “by die pakke agtergebly” in ondersteuning van hulle geliefdes. Sonder hulle ondersteuning, kon die oorlog nooit in oorwinning geëindig het nie.

Geliefdes, dit is die ware beeld wat ons in die ewigheid sal sien, van hulle wat meen dat hulle niks het om Jesus aan te bied nie.

Gedurende Moses se tyd, het ‘n leër van 12,000 Israelitiese soldate, die Midianiete en vyf oorlogsugtige militêre leiers, oorwin. Toe die buit verdeel word, het Moses gesê:

“Julle moet die buit verdeel tussen die wat by die oorlog betrokke was en gaan veg het, en die res van die volk” (Numeri 31:27).

Hier was twee gelyke groepe, volgens Moses: vegters en volk, hulle wat geveg het en hulle wat by die pakke agtergebly het. Die Here self het beveel dat die groepe gelykop deel.

Toe die Israeliete die buit verdeel, was hierdie die resultaat:

  • 337,500 skape na die vegters, 337,500 na die volk.
  • 36,000 beeste na die vegters, 36,000 na die volk.
  • 30,500 donkies na die vegters, 30,500 na die volk.
  • 16,000 gevangenes na die vegters, 16,000 na die volk.

Kry u die prentjie: dit was heeltemal gelykop tussen die wat gegaan het en die wat gebly het.

Op ons dag van afrekening, stel ek my voor dat Paulus opgeroep sal word. Sy hele evangelistiese siele-oes sal voorgelees word, asook die gemeentes wat hy gestig het.

Dan sal ‘n groep onbekende mense van Antiogië opgeroep word, om langs Paulus te staan. Hierdie mense sal hulle wees wat gevas en gebid het, en Paulus die hande opgelê het, voordat hulle hom as sendeling uitgestuur het. Hulle het hom met selfverloënende gawes onderhou.

Simeon, Lucius en Manaen was ouderlinge van die kerk in Antiochië. Hulle en andere het nooit na die gevegsfront gegaan nie. Hulle was nooit op see nie en het miskien nooit eers na Masedonië gegaan nie. Tog sal hulle van Paulus se buit ontvang.

Hoekom sal hierdie mense ‘n gelyke gedeelte van Paulus se beloning ontvang? Omdat hulle deel was van elke siel wat onder Paulus tot bekering gekom het, elke gemeente wat gestig is, elke reis wat onderneem is.

Baie Christene voel skuldig dat hulle nie dien in ‘n oorsese sendingveld nie. Maar om tuis te bly, by die pakke is ook ‘n hoë roeping in Jesus Christus. As jy die Here liefhet en in sy Gees wandel, kan jy verseker wees van jou roeping. God se Woord verseker ons:

“Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg, soos Hy dit wou hê.” (1 Korintiërs 12:18)

Sien julle wat Paulus hier sê? As jy ‘n ouderling in die gemeente is, het jy ‘n hoë roeping van God. Dieselde geld vir hulle wat Sondagskool hou.

Tog is dieselfde ook waar vir elke ma wat probeer om haar kinders vir die Here groot te maak. Sy het ‘n hoë roeping, net daar, waar sy is.

Op dieselfde manier, as jy ‘n besigheidsman, ‘n prokureur, ‘n dokter is: rus in jou roeping. As jy ‘n verkoopsman, ‘n werktuigkundige, ‘n onderwyser, ‘n voedselverskaffer is, hoef jy nie te probeer om ‘n roeping na ‘n sendingveld op te werk om God te behaag nie. Behalwe as die Gees self jou roep, kan jy rus in jou roeping, net waar jy is.

“Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar die wat wonderdade kan doen, dan die wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale te gebruik.

Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale en kan almal dit uitlê? Lê julle toe op die beste genadegawes” (1 Korintiërs 12:27-31).

Dit is belangrik dat elke gelowige nie ontevrede sal wees dat hy nie in Afrika of ‘n ander sendingveld is nie. Die Here veroordeel nie een van sy mense as hulle nie op ‘n sendingveld is nie, maar op die plek waar Hy hulle geplaas het.

Natuurlik is dit belangrik om oop en gewillig te wees om te luister as die Gees ons elders heen lei. Maar ons moet die hele saak aan die Here oorgee om te lei soos Hy wil. God weet hoe om ons uit die nes te stoot en deure oop te maak, vir diens op ander plekke.

Paulus was ‘n reisende sendeling met ‘n hart vol liefde vir die armes. Hy het die uitroep van die armstes gehoor, in elke land wat hy besoek het. Hy vermaan elke evangelie-bedienaar onder hom: “Onthou die armes.” Paulus het gereelde offergawes vir die armes opgeneem. Op een stadium het hy na verskillende stede gereis om geld te kollekteer vir Jerusalem, toe daar hongersnood verwag is.

Van alle mense, was Paulus die een wat die roep van die armes gehoor het. Tog, alhoewel hy homself soveel ontsê het – selfs as ‘n arm man gesterf het – gee hy aan ons ‘n groot waarskuwing:

“Al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” (1 Korintiërs 13:3)

Ek het gewonder, is ons gereed om Paulus se waarskuwende woorde te aanvaar? Wat hy sê is:

“Jy kan huil oor die desperate uitroep van die armes. Jy kan na Afrika gaan na die vuil plakkerskampe. Jy kan gereed wees om as martelaar te sterf. Maar as jy nie barmhartigheid besit nie, is alles tevergeefs – of jy tuis bly of oorsee sendingwerk doen.”

Dink hieroor na. Selfs Jesus het vir sy dissipels gesê om hulle werk in Jerusalem te begin, daarna kon hulle na die uithoeke van die aarde gaan. Dit wys vir my dat ons eerste sending lê in ons eie harte. Met ander woorde, die Heilige Gees moet eers in ons werk, voordat Hy deur ons kan werk.

‘n Paar jaar gelede het ek vir die Here gevra om my visie vir sending te verbreed. Daardie tyd het ek oral in die wêreld predikante-konferensies gehou, en ek het sommige van die wêreld se ergste agterbuurtes gesien. My hart was diep geraak en dit was vir my ‘n brandende begeerte om te weet hoe om die situasie op te los. Daarom het ek ure voor God deurgebring met hierdie vrae.

Die eerste antwoord wat ek van die Heilige Gees ontvang het was: “David, om mee te begin, neem die laagste plek in die huis in. As jy ‘n hart wil hê om menslike nood te verlig, verneder jouself.”

Ek het gevra vir God se genade, om dit te kan doen. Ek het ook begin om daaroor te preek, sodat ons sending-bewuste gemeente dieselfde woorde sal hoor, wat ek gehoor het.

Later het ek die volgende antwoord ontvang: “Vernietig die oorblyfsel van jou hoogmoed. Ek kan nie volledige deur jou werk as jy dit nie doen nie. Om menslike nood te verlig, is nie kinderspeletjies nie, as jy dit wil doen, mag daar geen hoogmoed oorbly nie.” Weer, het ek God gesmeek om genade.

Later kom daar weer ‘n woord: “Handel met jou humeur. Jy raak nog maklik geïrriteerd in jou werk en met jou familie. Die Gees moet dit vernietig.”

Deur dit alles, het die Gees my steeds herinner aan Paulus se woorde: “En nou bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” (1 Korintiërs 13:13)

Op die oomblik is ons besig om dakke op kerke te sit, in Kenya. Ons help om ‘n program te finansier wat “Kenya Kids” genoem word vir weeskinders in die hoofstad, Nairobi. Ons help om waterputte te grawe in arm dele. Ons ondersteun ‘n sentrum vir verslaafdes en alkoholiste. Ons help om honger kinders te voed. Die Here het ons waarlik geroep om hierdie barmhartigheidsdiens te verrig.

Tog sou al hierdie werke niks beteken het, as dit nie uit ware Christelike deemoed gebeur het nie.

In Irak is ‘n sendeling bedroef oor die woord op twee van sy medewerkers. Hy en sy gemeente word daagliks bedreig, maar hulle weier om hulle evangelisering van die huisloses en armes te beeïndig. Hierdie is soldate van Christus in die aanvalslinie.

Ek dink ook aan Kevin, ‘n toegewyde sendeling in Swaziland, Afrika. Daar is 42% van die bevolking besmet met VIGS. Die kanse is nege uit tien dat ‘n vyftienjarige kind sal sterf voor hy vyf-en dertig jaar oud is. Die werkloosheid is 40%. Daar is ‘n kwaai droogte, en kos is skaars. Die gemiddelde kind eet een maaltyd in twee dae. Hopeloosheid loop rond.

Tog was Kevin deur die Heilige Gees aangespoor om iets te doen. Hy het ou verlate huise opgeknap en in weeshuise omskep. Elke huis met ‘n sorgmoeder, huisves 8 kinders. Hierdie wesies ontvang voedsame kos, opvoeding en mediese versorging.

Die bediening reik ook uit na die hele gemeenskap, verskaf hulp aan VIGS babas en het ‘n inwonende sentrum vir dwelm verslaafdes. Nou beplan Kevin om evangelisasie spanne uit te stuur in die agterbuurtes, om ongehude moeders en hulle kinders te voed en hulle hande arbeid te leer, sodat hulle selfversorgend kan word. Die spanne sal ook na die sterwendes omsien.

Ons is bevoorreg om ‘n groot ondersteuner van hierdie wonderlike uitreiking te wees. Kevin is een van God se voorste linie vegters op ‘n sendingveld.

Laat my toe om julle te vertel van ‘n verbasende weduwees wat nooit die voorreg gehad het om as sendeling op ‘n sendingveld te kom nie.

Ouma Carosso, my vrou Gwen se ma, het vyf-en-negentig jaar oud geword. Sy was ‘n gebedsvrou, stil en onopvallend. Hierdie vrou het elke dag vir my gebid. Min mense het haar naam geken.

Nadat die Here haar kom haal het, het ek en Gwen ‘n kartondoos in haar kamer gevind, wat gevul was met tjek-strokies wat oor baie jare gestrek het. Ouma Carosso het min op haarself uitgegee, maar sy het vir baie jare sendelinge ondersteun. Sy het klein bedrae gestuur; vyf, ses of tien dollar.

Gedurende hierdie jare het ouma Carosso gedink sy het nie veel vir God se koninkryk gedoen nie. Sy sou gesê het dat sy geen talent het nie, geen bediening nie. Maar vir Jesus was sy netso belangrik, in sy koninkryk, as die vele sendelinge wat sy oor baie jare, met haar liefdesgawes onderhou het.

As ons geseënde Heer, daardie sendelinge vir hulle arbeid beloon, sal ouma Carosso deel in al hulle geestelike gevegs oorwinnings. Onthou wat Jesus gesê het oor die weduwee wat twee geldstukkies in die skatkis gegooi het: “Sy het meer gegee as al die ander.” Die weduwee het alles gegee wat sy gehad het.

My vrou, Gwen, was een van die wat by die pakke gebly het, terwyl ek vir jare op die voorlinie van die geveg rondgereis het.

Gwen, aard na haar ma: stil, onopvallend en baie toegewyd aan haar familie. Gedurende die tyd dat ek deur die wêreld gereis het, was ek baie weg van die huis af. Gwen moes agterbly om vir ons vier kinders te sorg. Sy was altyd daar as hulle na skool by die huis kom, of as hulle iets nodig gehad het.

As ek tuiskom, was Gwen saam met my bly oor die baie bekeerlinge na Christus, waarvan ek kon getuig, of alkoholiste en dwelmverslaafdes wat genees is. Gwen kon nie self hierby betrokke wees nie. Sy moes by die pakke bly, met die alledaagse dinge.

Ek het dikwels my vrou hoor sê: “Ek kan nie preek of sing nie. Ek kan nie skryf nie. Ek doen so min, indien enigiets vir die Here.”

Maar Gwen het gelgo haar roeping was om ‘n getroue vrou en Ma te wees (en laters selfs ouma). Vandag is al vier haar kinders sendelinge en het haar dikwels “geseënd” genoem. Dit was Gwen wat die harde werk moes doen, sodat haar kinders hulle roeping kon volg.

Terwyl ek hierdie boodskap skryf, het ek vir my vrou gesê: “Op daardie dag as ek voor God se troon staan, as ek gebruik is om siele te wen of om goddelike werke te begin wat God verbly - Gwen, as daar enige belonings is, sal jy gelykop deel.

Ons seën ons sendelinge in die oeslande van die wêreld. Hulle loop in gevaar en neem groot risiko’s ter wille van die Evangelie. Ons sendelinge en hulle families het ons gebede en ondersteuning nodig. Ons eer hulle.

Ons eer ook almal wat nie kan gaan nie, die bejaardes, die ingeslotenes, die werkloses, en die wat die Here getrou dien in hulle huidige roeping. Almal in elke taal en nasie.

Geliefdes, God verhoed dat julle terneergedruk sal wees, omdat julle dink dat julle nie veel uitrig in God se werk nie. Julle gebede, julle voortdurende ondersteuning van die sendingpoging, julle barmhartige gees – dit eer God.

My gebed is dat julle die Heilige Gees sal vra om julle in sy rus in te bring, en dat Hy julle vrede en vreugde sal gee – net daar waar julle is, en in alles wat julle doen. Dit is sy begeerte. Amen!