NOOIT TE LAAT VIR GOD OM OP TE TREE NIE

David Wilkerson

So, was daar ‘n vertraging in die verhoring van jou gebed? Sien jy ander rondom jou wat oorwinnings behaal, aangeraak en genees word en wonderwerke wat vir hulle gebeur – terwyl jy egter sonder hulp bly in jou lyding? Word jy ongeduldig met God en roep uit, “Waarom nie ek nie, Here? Waar is my wonderwerk? Waarom word dit vertraag?” Indien wel, mis jy die punt totaal. Die Here probeer om jou geloof op te bou. Hy wil hê dat jy verby jou hartseer kyk en jou vertroue op Hom plaas, maak nie saak watter vertragings kom nie. Hy wys vir jou dat Hy besig kan wees om duisende rondom jou te genees terwyl Hy steeds sy oog op jou kan hou!

Toe Jesus die vrou met bloedvloeiing genees het, was Jaïrus, wat langs Hom geloop het, moontlik in staat om Jesus se wonderlike woorde aan die bloeiende vrou te hoor: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees” (Markus 5:34). Aan die ander kant, twyfel ek of Jaïrus dit enigsins gehoor het, want sy fokus was nou op ‘n boodskapper wat na hom aangehardloop gekom het met ‘n ysingwekkende berig: “U dogter is dood” (Markus 5:35).

O, watter leuens moes Satan in Jaïrus se oor gefluister het: “Dit was alles verniet. Jesus kan niks vir jou doen nie.” Toe kom die verpletterende woorde van die boodskapper: “Waarom val u die Meester nog lastig?” Dink aan wat hier vir Jaïrus gesê word: “Dit is nutteloos. Dit is te laat vir God om te werk. Dankie Jesus, maar nee dankie. U het te lank gewag om te kom help.”

Twyfel en angs het Jaïrus se hart gevul. “Jy het Jesus vertrou, maar Hy kan jou nie help nie. Dit is nou tyd dat jy teruggaan sinagoge toe.”

Jesus het egter alles gehoor wat aan die gang was. Toe Hy die vrees, wanhoop en hartseer op Jaïrus se gesig sien, het Hy vir hom gesê, “Moenie vrees nie; glo net” (Markus 5:36). Ek glo Christus het in wese vir daardie skare gesê en sê vir ons vandag: “Dit is nie genoeg om saam met My te stap, My aan te roep en in berou voor My voete neer te val nie. Jy moet op My vertrou. Jy moet glo dat Ek lewe uit die dood kan voortbring.”