Die Nabyheid van God!

David Wilkerson

Ek wil twee verse met jou deel uit Helen Spurrell se oorspronklike Hebreeuse teks:

“Dié wat my met soveel lis vervolg [listige vervolgers], kom steeds nader, maar van u wet af bly hulle ver. U is [na]by my, Here, [met] alles wat U gebied het [u getroue gebooie]...” (Psalm 119:150-151, NAV).

Daar is ‘n heerlike waarheid in hierdie gedeelte wat jou lewe kan verander en vir jou rus en vrede kan gee ver bokant enigiets wat jy al beleef het. Jy sien, wanneer jy eers die waarheid van God se voortdurende nabyheid aan jou verstaan – dat Hy jou liefhet en voortdurend naby jou is – dan moet alle vrees en angs wegvlug!

In hierdie teks, sien Dawid die bose nader en nader kom in ‘n poging om hom te verwoes en te vernietig. Hy sê in wese, “Gemene, besoedelde, sondaars wat saamsweer kom op my af. Hulle is almal rondom my en hulle word sterker. Hulle is vasbeslote om my heeltemal te vernietig!”

Ons het almal so ‘n vyand – die vyand van ons siele, die duiwel. En hy het nog altyd net een doel in gedagte: om God se werk te vernietig en om sy mense te verlei en moedeloos te maak. Satan gebruik inderdaad al sy krag en vindingrykheid om Christene af te sny van die guns en teenwoordigheid van die Here. En dit is presies wat hy tans in jou lewe probeer doen – hy poog om jou moedeloos te maak, jou te verlei en jou uit te wis!

“...Kom, laat ons hulle vernietig...sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie” (Psalm 83:5). Die owerhede en magte van duisternis is altyd aan die werk, besig om ons vernietiging uit te dink en te beplan. Hulle sê, “Laat ons God se mense vernietig. Ons sal van hulle niks meer as ‘n verbygaande herinnering maak!"

Die Edomiete het gekom om Jerusalem te vernietig met ‘n oorlogskreet, “...Breek af, breek af die stad tot op sy fondamente” (Psalm 137:7, NAV).

Hulle het gesê, “Breek die stad af tot op sy fondamente. Maak dit gelyk, vernietig dit – breek dit af tot op die grond!”

Net so sal Satan vandag ook nie tevrede wees nie, totdat hy die algehele vernietiging en val van elke goddelike bediening, kerk en ware liefhebber van Jesus sien gebeur. Die duiwel is nie bloot ‘n kosmiese spotter, of grapmaker wat komplotte smee en ons probeer bedrieg net om dinge vir ons moeilik te maak nie. Sy demoniese geeste is nie net rakkers wat rondgaan en die lewe ellendig maak nie.

Nee – Satan se doel is baie ernstiger as dit! Sy hoofdoel is die algehele vernietiging van die kerk van Jesus Christus. Sy een doel is om ons af te breek, om ons af te sny en niks meer as ‘n herinnering agter te laat nie.

Die duiwel was vermetel en blatant in sy doel, selfs met Jesus. Hy het die Seun van God volskaals versoek, Hom probeer dwing om teen sy eie Vader te draai en ‘n aardse koninkryk op te rig. Wat ‘n leuenaar – wat ‘n verskriklike gedagte om sulke vermetele, bose stappe te neem! Satan sal alles in sy mag probeer om alles wat regverdig en heilig is te vernietig. En hy hou nooit op nie; hy jaag dit altyd na. Daar is altyd ‘n plan uit die hel!

Jy kan eenvoudig nie so ‘n duiwel ignoreer nie. Verstaan tog asseblief: Ek is nie besig om op enige manier die duiwel te verheerlik nie. Wettiglik is hy gestroop van al sy mag. Hy kan niemand meer tot die hel verdoem deur die bloedlyn wat Jesus getrek het nie. Maar die feit bly staan, die duiwel het ‘n plan uit die hel vir alle Christene – en hy is aan die werk in hierdie wêreld om dit tot uitvoering te bring. As jy dit nie glo nie, is jy reeds in die moeilikheid!

Die duiwel word aangespoor deur al sy vorige oorwinnings!

In New York Stad, kan jy die bouvalle van talle bedienings wat met God se krag en seën begin het, sien. Satan het hulle vernietig en hulle tot platgemaak tot op hulle fondamente!

Beskou Columbia Universiteit, wat gestig was as ‘n kollege om goddelike bedienaars op te lei. Ek het ‘n boek van preke deur die skool se eerste president – en dit is vol Christus-gesentreerde prediking! Die stigters was heilige manne, vol van Christus, belas met ‘n verlore wêreld. En hulle het ‘n geseënde bediening gehad. Kragtige preke oor heiligheid het van die skool se kansel af gekom.

Vandag is Columbia die duiwel se speelgrond, ‘n broeikas van humanisme en dekandensie. God is net ‘n veraf herinnering op die kampus. Die verval van daardie instelling het deurgesypel tot op sy fondamente!

Dieselfde is waar van Harvard, Yale en ander universiteite landwyd. Hulle was gestig deur manne van God as opleidingsinstitute vir bedienaars van die evangelie. Daardie skole het eens groot herlewings beleef – maar nou is humanisme in volle beheer. Hulle het verdonkerde, afgodiese institute geword.

New York Stad het ook eens talle aan-die-brand kerke en kragtige effektiewe bedienings gehad vir die armes en mismoediges. Maar baie hiervan is vernietig deur Satan se liste en planne:

  • Daar was ‘n Presbiteriaanse kerk wat hierdie stad geskud het met sy vurige predikers. Die heiligdom was heeltyd gevul met God-soekende heiliges. Vandag is daardie kerk ‘n lykshuis – ‘n huis van geestelike dood!
  • Vyftig jaar gelede, was Pinksterkerke in Manhattan gevul dwarsdeur die week, terwyl hulle geroem het in vurige prediking en lewendige orkeste. Daardie kerke het geredelik talle sendingsaksies befonds. Maar nou is talle dood – en het verdwyn uit herinnering uit!
  • Talle bedienings aan die armes, alkoholiste en dwelmverslaafdes het blote maatskaplike agentskappe geword. Hierdie uitreike is nie langer afhanklik van die Heilige Gees nie, maar van regeringsdollars. En hulle het hul van die Bybel na psigiatrie gewend. Die leiers is nie langer op hulle knieë, biddend vir mense nie. In plaas daarvan, sit hulle in hul kantore met potlode regop en psigiatrie boeke oop. Hulle het hulle krag en salwing verloor. Dit is alles weg!

Die duiwel het daarin geslaag om hierdie eens goddelike werke af te breek tot op hulle fondamente. En hy is daarop uit om jou ook te vernietig! Jy mag selfs die sameswerende vervolgers van Psalm 119:150 op hierdie oomblik voel nader kom – vasbeslote om jou te vernietig en jou huidige wandel met die Here ‘n blote herinnering te maak.

Nie lank gelede nie, was ek op die hoek van 49ste Straat en 8ste Laan, waar ek ‘n koerant gekoop het, toe twee dwelmverslaafdes nader geloop en gesê het, “Hi Pastoor!” Hulle was albei hoogs bedwelmd.

Een van hulle het sy arm om my gesit en ek het hom herken. Ek het gesê, “Haai, jy was by Timothy Huis, was jy nie?” Hy het geantwoord, “Ja, vir ses maande. Maar eendag het ek en ‘n vriend uitgeloop. Gister is my vriend gevang. Hy kan vyf jaar kry.”

Toe het hy omgedraai en my voorgestel aan die man saam met hom. Die man was die leier van die Selfmoord motorfiets bende in Brooklyn. Hierdie moordenaarsbende was in die koerante vir hulle dade. En nou het hulle leier vir my gesê, “Mnr. Wilkerson, ek ken jou. My pa is ‘n Pinksterprediker.”

Die man van Timothy Huis het begin huil. Hy het teen my geval en gesê, “Ek is lief vir jou.” Skielik het ek die groot liefde van Jesus deur my gevoel stroom vir hierdie twee mans. En ek het gesê, “Ek is lief vir julle ook.” Die huilende man het gesê, “Pastoor David, die duiwel probeer my doodmaak. Hy probeer my vernietig!”

Ek het vir hom gesê, “Jy kan nou dadelik saam met my bid. Maar as jy dit nie wil doen nie, weet jy, jy kan altyd met die straat af gaan na ons Bokamer en hulle sal daar saam met jou bid. Jy weet waar dit is.”

Skielik het die bendeleier – die prediker se seun – begin terugtree. Hy het gesê, “Hêi, man, ek maak spore!”

Hierdie man het demoniese magte oor hom gehad. Ek kon dit aanvoel en hy het dit ook geweet. Terwyl hy egter probeer het om van God se teenwoordigheid af weg te vlug, het ek gevoel dat Jesus na hom uitreik met sy wonderlike liefde.

Op hierdie oomblik wil ek graag vir jou vra: Hoe is dit moontlik dat Jesus soveel liefde kan betoon aan diegene wat dwelms misbruik en misdaad pleeg, maar steeds kan jy vir jouself sê, “Dit is onmoontlik dat God my kan liefhê, want ek het Hom gefaal!”

Wees verseker dat God jou liefhet! As sy rivier van liefde deur my gestroom het vir daardie twee mans, hoeveel te meer stroom dit nie na jou toe nie? Hoe is dit moontlik dat jy genade kan aanbied vir ‘n wêreld wat sterf in sy sonde en dit egter nie vir jouself aanbied nie?

Daar is tye wat dit voorkom asof die duiwel op die punt is om oorwinning te behaal!

Die duiwel het daarin geslaag om die apostel Paulus met kettings te boei en hom na Rome te neem om vermoor te word. Maar God het ingegryp en Paulus verlos! Satan het ook sommige Jode van Antiochië opgewek om die apostel aan te val. Hulle het hom gestenig en hom toe uit die stad uitgesleep, terwyl hulle gedink het hy is dood.

Kan jy jou voorstel die menigtes demone wat vanuit die geesteswêreld alles aanskou het – laggende, vrolik, terwyl hulle die apostel se laaste asemtuie getel en gewag het om sy begrafnis by te woon? Kan jy sien hoe Satan self spog, “Ons het hom verslaan, tot op die grond afgebreek en hom vernietig! Paulus en sy gepreek sal binnekort net ‘n herinnering wees. Ons het die evangelie vernietig. Ons grootste vyand op aarde is verslaan!”

“Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek” (Handelinge 14:20). Paulus was dadelik opgewek. En hy het dadelik weer die stad ingemarsjeer met sy kop omhoog. Kan jy jou voorstel wat daardie demone moes gedink het? Hulle het waarskynlik in alle rigtings laat spaander!

Paulus verduidelik waarom God die duiwel toelaat om ons ernstig te beproef: “Ja, ons het al by onsself die doodsvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek” (2 Korinthiërs 1:9).

Ek glo Satan se mees kragtige wapen teen God se mense is versoeking en begeertes wat tot sonde lei. Sy doel is om gelowiges met skuld, vrees en veroordeling te omring – om hulle moedeloos en neerslagtig te maak. En hoe liewer hulle Jesus het, hoe warmer en swaarder sal die versoeking wees!

Miskien dink jy die rede dat jy so swaar versoek word, is omdat jy ‘n bose gees het. Maar as jy Jesus liefhet – wanneer Hy die Verlosser van jou hart en Here van jou wil is – is jy ‘n gemerkte persoon in die hel. En Satan sal probeer om jou af te breek tot op die grond!

Jy mag sê, “Broer Dave, ek kan daardie sameswerende vervolgers waarvan jy praat, voel. Hulle is besig om my in te haal. En Satan wil my vernietig, om my van Jesus af te sny. Hy het my in ‘n leeu se lêplek geplaas – ‘n vurige vuuroond van versoeking!”

Dawid het gesê, “...as die HERE nie vir ons was nie...dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het” (Psalm 124:2-3).

Laat my jou waarsku, veral as jy ‘n nuwe volgeling van Jesus Christus is: Dit maak nie saak hoe heilig, suiwer of vlekkeloos jy voel nie, of hoe veilig jy dink jy is nie. Jy is nie verhewe bo versoeking nie! As jy dink jy is onaantasbaar, wees dan versigtig, voor jy in groot versoeking verval en sondig.

Net soos Paulus, het ek geen vertroue in die vlees nie. Sommige van die goddelikste mense wat ek ken, het God ellendiglik gefaal. En ek dink aan die verskriklike versoeking en mislukking van Dawid, ‘n man na God se hart.

Dawid was ernstig versoek, het in owerspel verval, het gelieg en ‘n onskuldige man vermoor. Ek is seker dat toe die profeet Natan hom openbaar gemaak het, was Satan oortuig Dawid sou bly lê vir die telling. Hy het verwag dat hierdie man sy hande in die lug sou gooi en sê, “Wat is die nut? Ek het God in die skande gesteek! Ek het teen die lig gesondig en die presiese sondes gedoen waarteen ek gepreek het. Nou kan God my nooit gebruik nie. My hart is te swart. Ek was deur sonde oorweldig!”

Hoe verkeerd was Satan egter nie! Luister na Dawid se uitroepe nadat hy hom bekeer het: “Die HERE het my hard gekasty, maar my aan die dood nie oorgegee nie” (Psalm 118:18). Dawid het in wese gesê, “Ek was versoek en beproef – maar God het my nie oorgegee aan Satan se mag nie!”

Geliefde, as die duiwel teen jou kom met kragtige versoekings, is dit nie altyd omdat jou hart boos is nie. Hy kan jou aanval omdat jy jou tot die Here bekeer het! Hy bring vurige beproewings van begeertes en versoeking teen jou om te probeer om jou geloof te vernietig.

“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Petrus 4:12).

“Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Daar is niks snaaks oor alles wat met jou gebeur nie. Jy mag egter moedeloos word omdat jy vyand teen jou gekom het soos ‘n stroom. Die aanval kan wees deur versoeking, begeertes, huweliksprobleme of ‘n finansiële krisis. En jy mag moontlik vir jouself sê, “Hier probeer ek die Here dien en ek doen my bes om Hom lief te hê en getrou te wees aan Hom. Maar dinge raak net slegter. Is daar iets verkeerd met my? Waarom kan ek nie uit hierdie gat kom nie? Waarom hou my probleme aan om groter te word?”

Ek dring by jou aan om regs, links, voor jou en agter jou te kyk: Almal gaan deur iets! Agter die glimlagte van jou dierbare broers en susters in Christus, is daar baie trane. Hulle ly onder beproewings waarvan jy niks weet nie. Nee, jy is nie alleen in jou lyding nie – en jou beproewing is nie een of ander vreemde, ongewone omstandigheid nie. Waardeur jy gaan, is algemeen vir menigtes!

Laat my nou vir jou die beste deel van hierdie boodskap gee. Hier is die heerlike nuus:

Die duiwel is nie so angstig om jou te vernietig as wat die Here is om jou verlos nie!

God is meer gereed om sy beloftes teenoor jou na te kom as wat die duiwel is om jou te vernietig. Trouens, hoe nader die vyand aan jou kom, hoe nader is God aan jou!

“Dié wat my met soveel lis vervolg [listige vervolgers], kom steeds nader, maar van u wet af bly hulle ver. U is [na]by my, Here, [met] alles wat U gebied het [u getroue gebooie]...” (Psalm 119:150-151, Spurrell). Dawid sê met anderwoorde, “God, as my vyande so naby aan my kom om my te vernietig, moet U die heeltyd nader aan my wees in my tyd van nood!”

Die Hebreeuse woord vir naby in hierdie vers beteken “verdedig.” Dit beteken, “Ek is naby aan jou om jou te verdedig.” God sê hy is veral naby om die neerslagtiges en gebrokenes van hart te verdedig:

  • “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15).
  • “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19).

Is jy ‘n kind van God? Leef die Here Jesus in jou? God sê Hy is naby jou in jou angs! Hier is sy belofte aan jou:

“...Ek het jou by jou naam geroep: jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.

Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland...Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou...” (Jesaja 43:1-5).

Dawid het gesien God hou hom vas “...U het my regterhand gevat” (Psalm 73:23). Hy het in wese gesê, “God is nie net naby my nie, maar Hy stap saam met my, hand aan hand, deur hierdie hele gemors. Laat al my vyande agter my aankom. My hand is in die Vader s’n!”

Trouens, Dawid het gesê God het met hom gepraat, vir hom raad en leiding gegee: “U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem...” (Psalm 73:24).

Talle dierbare Christene vertel vir my ware stories van ongelooflike swaarkry – probleme wat aanhou ophoop, ontmoedigings wat aanhou om teen hulle te kom. Menslik gesproke lyk dit asof dit onmoontlike situasies is. En my hart gaan uit na elke gelowige wat sulke beproewings verduur.

Maar elke Christen moet oortuig wees dat hy of sy kosbaar en geliefd is – en dat God naby is! Trouens, hoe nader die vyand kom, hoe meer getrou is God om sy nabyheid te openbaar – en hoe vaster sal hy sy kosbare kind se hand vashou!

“God is vir ons ‘n toevlug en ‘n sterkte; as hulp in benoudheid is Hy in ‘n hoë mate beproef” (Psalm 46:2). Die stamwoord vir moeilikheid hier is “’n benoude plek.” Is jy op ‘n benoude plek? Lees God se belofte om jou uit daardie benoude plek te kry:

  • “Mag die HERE u verhoor in die dag van benoudheid! Mag die Naam van die God van Jakob u beskerm! Mag Hy hulp stuur uit die heiligdom en u ondersteun uit Sion” (Psalm 20:2-3).
  • “Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan. Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; van verdriet het my oog nat geword, my siel en my liggaam” (Psalm 31:7-9).
  • “o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U  uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders! U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ‘n hut vir die twis van die tonge.

“Geloof sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderbaar gemaak, in ‘n vaste stad. Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het ek U die stem van my smekinge verhoor toe ek U aangeroep het om hulp. Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! Die HERE bewaar die getroues en vergeld hom oorvloedig wat trots handel.

“Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die Here wag! (Psalm 31:20-25).

As jy kan glo dat God naby jou is, moet jy glo dat Hy vir jou sal optree!

Dink jy die HERE sal passief bly sit en die duiwel toelaat om met jou te doen wat hy wil? As God nie om jou onthalwe optree wanneer jy Hom nodig het nie, sou Hy niks meer as die valse god, Baäl wees nie!

Elia het ‘n kragmeting met die profete van Baäl by Berg karmel gehad, waar ‘n altaar gebou was. Die toets was: Die God wat vandag gebed verhoor, sal God wees!” Elia het gebid dat vuur bonatuurlik op die offerhande wat hy op die altaar neergelê het sou neerdaal. En dit is presies wat gebeur het.

Maar voor dit, het die profete van Baäl van die môre tot die middag gedans terwyl hulle gehuil, gesmeek en gepleit het by hulle god om te verhoor. “Maar daar was geen stem en niemand antwoord nie...” (1 Konings 18:26).

Elia het daardie valse profete gespot: “...Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word” (1 Konings 18:27). Elia het in wese gesê, “Waar is jou god? Is hy op vakansie? Slaap hy? Hy moet êrens buite wees.”

Ons sal dieselfde bespotting van God moet maak as Hy ons nie antwoord as ons roep nie! Jy sien, sy eer is op die spel wanneer ons bid – en Hy sal nie bespot word omdat Hy nie antwoord nie! Die Bybel sê van Hom: “Hy kan jou voet nie laat wankel nie...Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie” (Psalm 121:3-4). Ons God is wakker te alle tye. En Hy gee aandag aan elke behoefte wat ons het!

Ten slotte, ek het ‘n woord van die Here vir baie wat hierdie boodskap lees: Daar is ‘n kragtige belofte in God se woord wat jy op hierdie oomblik moet vasgryp. Ek glo dat as jy op hierdie belofte van Hom kan reageer, sal jy ‘n groot, nuwe soort oorwinning in jou lewe sien plaasvind.

Die belofte is: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader...” (Jakobus 4:8). Maar nou moet jy die res van die vers lees: “Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (dieselfde vers).

Dit is ‘n groot belofte van oorwinning oor alle sonde. Jy kan nie hierdie oorwinning self behaal nie. Jy kan nie jou eie hande reinig of jou eie hart suiwer nie. Nee – Jakobus sê in wese, “As jy rein hande en ‘n suiwer hart wil hê – as jy oorwinning oor skuld, versoeking en elke bose vervolger wat teen jou kom wil hê – dan moet jy tot God nader en glo dat Hy naby jou is!”

Dit alles hang af van die nabyheid van God! Nader eenvoudig tot Hom. Glo Hy is naby jou. En Hy sal afreken met al die vyande in jou vlees!

Jy mag vra, “Maar hoe nader ek tot God?” Die antwoord is baie ‘n eenvoudige, kinderlike ding: Gaan eenvoudig na die Here en praat met Hom – enige tyd, enige plek, die hele dag lank. In die stort, op pad werk toe, by die werk, oral – praat met Hom, nader tot Hom in volle versekering van geloof.

Jare gelede het ek saam met oorlede Kathryn Kuhlman gewerk. Daardie dierbare vrou van God was gewoond om sewentien uur van die dag te werk. Ek het dikwels gewonder, “Wanneer het sy ooit tyd om haarself af te sonder in haar geheime binnekamer om te bid?”

Toe het ek besef – dit het gelyk of sy altyd met haarself gepraat het. Sy het gebid! Sy het gebid terwyl sy haar kar bestuur het, terwyl sy in hysbakke gery het. Oral waarheen sy gegaan het, het sy altyd met die Here gepraat.

Eendag het sy vir my gesê, “Dawid, die Bybel sê ons moet bid sonder ophou. Ek praat die hele dag lank met die Here. Hy is net so werklik vir my as wat jy is. Ek het nie êrens om heen te gaan om in harmonie met Hom te kom nie, omdat ons heeltyd gesels. Ons is vriende.”

En, dierbare heilige, God is ook altyd daar vir jou! Ek glo aan gebed in die geheime binnekamer. Maar jou geheime binnekamer kan op die moltrein of in jou kar wees – enige plek waar jy jouself met Hom afsonder.

Hier is wat God aan jou belowe, as jy sal oefen om die hele dag lank tot Hom te nader:

“God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg! Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.

“Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap. Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: HERE is sy Naam; en jubel voor sy aangesig!” (Psalm 68:1-4)

Praat met God – beoefen sy nabyheid – en Hy sal al hierdie dinge vir jou doen! Hy sal jou vyande verstrooi. Hy sal alle demoniese vervolgers wegdryf. En jy sal die greep van sy hand ken te alle tye. Halleluja!