Sermons  Pulpit Series Newsletters   Om God te vertrou as onmoontlikhede ons in die gesig staar

Om God te vertrou as onmoontlikhede ons in die gesig staar

by David Wilkerson | January 7, 2008

  E-mail to a Friend     Print  Print

January 7, 2008

“Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.” (Romeine 4:19)

Die wese van ware geloof, kry ons in hierdie vers. God het juis vir Abraham verseker dat hy ‘n seun sal hê, een wat die saad van baie nasies sal dra. Verbasend, dat Abraham nie terug gedeins het, voor hierdie belofte nie, al was hy ook ver oor die jare waarin die man kinders kon verwek. In plaas daarvan, lees ons dat toe Abraham hierdie belofte van die Here ontvang het, het hy nie gedink “aan sy eie liggaam wat reeds gestorwe was, of aan die verstorwe toestand van Sara se liggaam nie.”

Vir die natuurlike begrip was dit onmoontlik dat so ‘n belofte gehou kon word, maar Abraham het nie eers daaraan gedink nie. Volgens Paulus, het die patriarg nie eers daaraan gedink hoe God hierdie belofte gaan volvoer nie. Hy het nie met God geredeneer nie: “Maar Here, ek het geen saad meer nie, en Sara kan nie meer ontvang nie. My vrou is lankal oor die tyd van kinders in die wêreld bring. Hoe gaan U dit doen?” In plaas van oor sulke vrae te tob, het Abraham nie eers daaroor gedink nie.

Die feit is dat wanneer God besig is met ‘n geloofswerk wat soos goud gelouter is, beeïndig Hy eers alle menslike hulpbronne. Hy sluit die deur op menslike redenasies, en maak alle rasionele moontlikhede onmoontlik.

Ek praat van die doodsheid van menslike moontlikhede. Dit is die plek waar menslike planne afgesterf het. Dit is die plek waar menslike hoop tydelike verligting bring en dan ten einde kom, en ons agterlaat met ‘n gevoel van hulpeloosheid.

Was u al op hierdie plek? Het u al gevoel dat alle moontlikhede ten einde geloop het? Jy kan niemand bel om raad te vra nie. Die hemel is geslote as jy bid, jou gebede val plat.

Ek sê vir julle, dit is wanneer God werk. God se Gees werk om jou by die punt te bring, waar jy menslike moontlikhede oorboord sal gooi, om op te hou om jouself uit jou probleem te dink. Die Heilige Gees dring jou “Hou op om op mense te vertrou. Hou op om te dink jou situasie is hopeloos. Dit is struikelblokke vir jou geloof.”

Abraham het nie in sy geloof gestruikel nie, maar “hy was daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” (Rom. 4:21) Hy het geweet God kan uit niks skep. Waarlik, ons God skep uit niks. Dink maar aan die Skeppingsverhaal in Genesis: “uit niks het God die wêreld geskape.” Met net ‘n woord skep Hy. Hy kan vir ons ook wonderwerke uit niks skep.

 As alle ander dinge faal – wanneer al jou planne tot niet gaan – werp dan alles op God. Dit is dan tyd dat jy alle hoop om uitkoms elders te vind, sal prys gee. As jy dan gereed is om te glo sal jy God sien, nie as ‘n Pottebakker wat klein nodig het nie, maar as ‘n Skepper wat uit niks skep. God sal op maniere werk waaraan jy nooit kon dink nie.

Ons kry die antwoord hierop in die verhaal van Sagaria, die vader van Johannes die Doper. Sagaria word deur ‘n engel besoek, met die boodskap dat sy vrou Elizabeth, ‘n uitsonderlike seun sal hê. Maar, Sagaria wat reeds oud was, soos Abraham, weier om te glo. God se belofte, was nie genoeg vir hom nie.

Sagaria antwoord die engel, “Waaraan sal ek dit weet, want ek is al ‘n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd?” (Lukas 1:18) Eenvoudig gestel, Sagaria het die onmoontlikheid van die situasie bedink. Hy het gesê: “Dit is onmoontlik. Jy moet vir my bewys hoe dit kan gebeur.” Dit klink nie logies nie.

Sagaria se twyfel, het die Here teleurgestel. Die engel sê vir hom: “Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie, tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” (Lukas 1:20)

Die boodskap is duidelik. God verwag dat ons sal glo as Hy praat. So sê Petrus ook: “So, laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.” (1 Petrus 4:19)

Ek glo, dat die liggaam van Christus, huidiglik, onder swaar sataniese aanvalle deurloop. Al die demoniese hordes van die hel, Satan se magte van die Duisternis, is besig met ‘n verwoede aanval op die geloof van die Here se heiliges.

Ons weet dat Satan gedurig aanvalle maak op God se kinders en baie lyding veroorsaak. Vir eeue is die bloed van martelaars gestort. God se heiliges is swaar getoets, soos Job, maar die aanvalle van vandag is Satan se laaste geveg.

Net soos die boosheid oor die wêreld toeneem, so neem die lyding van die gelowiges toe. Ons sien ‘n ongekende aanval van siekte, lyding, probleme op probleme – wat ‘n oorwinningslewe vir die gelowige haas onmoontlik laat lyk. Tog is alles wat ons die hoof moet bied bonatuurlik:

“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12)

Hier is ‘n godvresende man wat oormoedig is in sy geloof. Hy het so pas voor die ander dissipels getuig dat sy geloof alle toetse kan deurstaan. Hy verklaar as’t ware: “Ander mag weifel, Here, maar nie ek nie.”

Dit het tydens Paasfees gebeur, tydens die laaste dag van Jesus se lewe op aarde. Hoe het Christus gereageer op Petrus se oormoedige geloofsverklaring? Hy sê: “Simon, Simon, kyk die satan het vurig begeer om julle soos koring te sif.” (Lukas 22:31)

Sommige geleerdes verklaar die bedoeling van die woorde as volg: “Satan het geïes om julle te kan kry, om julle te sif.” Die woord “sif” dui op ‘n herhaalde, geweldadige, skommeling, en ‘n op en afgegooi.

Let op dat Jesus se woorde hier dui op dieselfde eis, as wat ten opsigte van Job gemaak is. Die duiwel het oor Job gesê: “Maar strek net U hand uit en tas alles aan wat hy het – waarlik, hy sal U in u aangesig seën.” (Job 1:11) Nou tydens Paasfees wil Satan Petrus se geloof op dieselfde manier vernietig.

Jesus waarsku Petrus vooraf, dat die duiwel hom gaan sif en sy geloof gaan toets, maar Christus verseker hom: “Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” (Lukas 22:32)

Ek is oortuig dat Satan hierdie eis verdubbel het, met betrekking tot die hedendaagse uitverkiestes. Waarom is die duiwel so vasbeslote om God se uitverkorenes so te skud, in ons tyd? Omdat hy weet dat sy tyd kort is. Dit is omdat sonde oorvloedig word, en die liefde van baie koud word. Hy het gefaal om Job te oormeester, hy het gefaal met Petrus, hy het gefaal met geslagte van martelaars, en daarom is hy vasbeslote om die geloof van hierdie laaste geslag te vernietig.

Satan se aanvalle kan so oorweldigend word, dat ons geloof kan verduister. Dink maar aan wat met ‘n sonsverduistering gebeur. Die aarde beweeg tussen die son en maan en verduister die lig. Vir ‘n tydlank word die son se strale verbeur.

Iets dergeliks kan gebeur met die geloof van selfs die godvresendste gelowige. Satan kan beproewings bring wat so intens is, dat dit die Lig uitsluit, vir ‘n tyd lank.

Petrus het ‘n ernstige verduistering van sy geloof beleef. Die eens so dappere geloof van Petrus het hom klaarblyklik in die steek gelaat. Maar Petrus was vooraf gewaarsku. Jesus het vir hom gesê: “Die haan sal nie kraai, voordat jy my drie maal verloën het nie.”

Ure later het Petrus se geloof gewaggel. Ek kan my maar net voorstel wat in hierdie man se gedagtes aangegaan het, wat veroorsaak het, dat hy Christus kon afsweer en kon lieg: “Ek ken hierdie Man nie!”

Het Satan Petrus se gedagte gebombardeer met die moontlikheid dat Jesus dalk nie God in die vlees was nie. As ek myself in Petrus se skoene moet indink, glo ek dat hy in daardie nag oor baie dinge gewonder het. “As Jesus God was, hoe kon Hy soveel vernedering duld? Hoe kan Hy God wees en homself nie red nie? Hoe dan nog, die mensdom red?”

Petrus se geloof was totaal verduister. Dit het gelyk asof sy stralende geloofson totaal uitgeblus is.

Tog is Petrus se geloofsverduistering vasgelê vir die bemoediging van baie gelowiges wat hulle eie geloofsverduistering ervaar. Het jou versoekinge so oorweldigend geword, dat dit lyk asof jy in ‘n onmoontlike situasie verkeer? Satan het twyfel gesaai: vrae oor of God jou uitroep hoor, twyfel oor Sy beloftes, vrae oor die verhoor van gebede.

‘n Onlangse opname bewys dat ateïsme hand-oor-hand toeneem in Amerika en die wêreld. Dertig persent Amerikaners sê hulle glo nie meer in die God van die Bybel nie. Hulle rede vir die ongeloof is, bloot: “God antwoord nie gebede nie.”

Ek waarsku julle, ons is betrokke in ‘n oorlog! Ons veg teen die vader van alle leuens. Hy is die een wat hierdie gedagtes saai: “Waar is God? Dinge gaan van erg na erger. Jou pyn, lyding, behoeftes stapel op. God het beloof om ‘n weg van uitkoms te maak. Waar is die weg? Waar is jou God nou, as jy Hom nodig het?”

Jy word nou geskud en gesif en te midde van dit alles faal jou geloof. Soos Petrus, is jou geloof verduister. Jy voel oorweldig, jou geloof bestaan nie meer nie.

Geliefde, ek het goeie nuus vir jou: God is nie kwaad vir jou nie.

Jy mag vra: “Ly Jesus nie, as ek Hom wantrou nie? Grief dit Hom nie as ek weifel en sy Woord en sy getrouheid bevraagteken nie?” Ja, ja, dit is waar, maar hulle wat in hulle geloof gefaal het, kan nog steeds hulle oë op Jesus hou.

“En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk.” (Lukas 22:61) Toe Jesus se oë Petrus s’n ontmoet, het Petrus gebreek en geween.

Hoe geduldig is ons Heer, hoe genadig. Hy hoor al ons murmurering en vrae, Hy sien so baie vrae in ons gedagtes – tog kyk Hy na ons met vergewing en medelye.

Petrus is vernuwe en het ‘n diepe geloofslewe uitgeleef. Onthou, Jesus het vir hom ‘n woord van bemoediging vooraf gegee: “As jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Lukas 22:32) Dit is die Here se woord vir jou en vir my. Hy sê vir ons, net soos vir Petrus. “Hou jou oë op My. Jy sal hier deur kom. En jy gaan jou broers en susters help.”

Later, in die boek Handelinge, kry ons Petrus in die binneste van ‘n tronk. ‘n Engel kom by hom, skud sy kettings af en sê vir hom om op te staan en uit te loop. Op daardie tydstip kyk Petrus nie na die onmoontlikhede nie: die ysterhekke, die baie wagte, die soldate waarby hy moet verbygaan. Nee, Petrus staan in geloof op, en as hy by die ysterhekke kom, gaan hulle vanself oop.

So sal dit vir jou ook wees, geliefde, as jy bereid is om in geloof op te staan en aan te gaan.

Ek het baie briewe gelees van gelowiges wat klaarblyklik onoorkombare probleme die hoof moes bied. ‘n Ouma skryf van haar verdriet oor die moord van ‘n geliefde kleindogter. Die meisie is vermoor deur haar gewese vriend, wat daarna homself om die lewe bring. Hierdie ouma is oorweldig met verdriet. Sy vra: “Is daar ‘n woord vir ons? Help ons!”

‘n Vrou wat haarself as sterk in die geloof beskou, skryf:

“Ek was vir 25 jaar getroud met ‘n wonderlike man, wat vyf jaar gelede aan suikersiekte gesterf het. Ek is weer getroud, maar in die eerste weke van ons huwelik het my nuwe man geval, en sy nek gekraak. Hy was besig om te herstel toe daar komplikasies kom met infeksies en bloedklonte. ‘n Maand later was hy dood. Ek is geskok. Ek verstaan nie hoe so iets kon gebeur nie.”

‘n Tagtigjarige pastoor skryf dat sy vrou in voortdurende pyn leef as gevolg van vele operasies. Haar pyn is so intens dat sy beswaarlik kan slaap. Dokters kan haar nie help nie. Die pastoor sluit sy brief af met die woorde: “Ek voel soos ‘n gehawende stryder.”

Ek het ‘n spesiale woord, vir almal wat so voel:

“Die Here jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap. Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.” (Sefanja 3:17) Hier is ‘n wonderlike openbaring van die onwankelbaarheid van God se liefde vir sy volk. Die Skrif sê vir ons dat Hy rus en bly is, in sy liefde.

Die Hebreeuse woord vir “rus” op hierdie plek beteken. God het geen enkele vraagteken oor sy liefde vir ons nie. Met ander woorde Hy het sy liefde vir ons bevestig en sal dit nooit wegneem nie. In werklikheid, word gesê, dat God so tevrede is met sy liefde vir ons, dat Hy daaroor sing.

Kan jy jou voorstel? Hier is ‘n gebeurtenis in die hemel wat God se vreugde oor ons uitdruk. John Owen verklaar die gedeelte so: “God spring op, oorweldig deur vreugde.”

Verder vertel Paulus vir ons, alles wat buite die geestelike bedoeling val – alles wat ongeloof en verwarring veroorsaak – verander deur die verskyning van God se liefde. “Nadat die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het.” (Titus 3:4)

In die voorafgaande vers sê Paulus: “Ons self was soms onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad.” (3:3) met ander woorde. “Alles was deurmekaar. Ons het nie ‘n oorkomende geloof gehad nie. Maar die liefde en barmhartigheid van God het verskyn, wat God oorvloediglik op ons uitgestort het in Christus.”

As Paulus sê die liefde van God het verskyn, gebruik hy ‘n Griekse woord wat beteken: “superimposed” (tot die uiterste toe afgedruk). Met ander woorde: die Here het op ons neergekyk, ons arme sukkelende siele, vol angs en vrae en Hy het hierdie openbaring op ons afgedruk: “My liefde sal jou red. Rus en verbly jou in my liefde.”

Ek dank die Here vir die dag toe sy liefde aan my openbaar is. Daar is geen geloof wat teen onmoontlikhede kan stand hou nie, behalwe as alles – elke probleem en beproewing – in ons Vader se liefdevolle sorg geplaas word. As my probleme op hulle ergste is, moet ek rus in eenvoudige geloof.

Miskien sien ek nie die bewyse daarvan nie, maar God werk. Elke oomblik van die dag, selfs as ek slaap, is Hy besig om vir my ‘n pad te maak. En sy plan is altyd betyds, selfs al lyk dit vir my soos ‘n oponthoud. Hy is besig om dinge diep binne-in my reg te kry, sodat Hy sy belofte kan vervul.

Eendag sal ek terugkyk op hierdie moeilike tye en sê: “Here, nou sien ek. U was die hele tyd daar, besig om my wonder te bewerk.”

Hulle wat radeloos is, kan verlei word om hulleself af te sluit van die gemeenskap van God. Dit kan noodlottig wees. In Ps. 88 kan jy ‘n beskrywing vind van wat jy deurmaak. ‘n Godvresende man, Heman, vertel van sy hopelose situasie:

“My siel kry swaar. Ek is diep in die put, tussen die wat reeds dood is. My vriende het my verlaat, ek is opgesluit. Ek ween weens my verdrukking” (my paraphrase). Heman daag God dan uit: “Sal U wonders laat gebeur met die dooies? Sal die gestorwenes opstaan en U verheerlik? Sal U genadevolle liefde in die graf besing word? Sal U wonders in die donker bekend word? En U geregtigheid in die land van die vergetelheid?” (Ps. 88:10-12)

Heman sê eintlik: “Ek het nou ‘n wonder nodig, o Here, nie in die Opstandingsdag nie. Dit is my laaste hoop. Al gou sal dit te laat wees, want ek sal reeds dood wees. Help my, anders is dit te laat. Waarom gooi U my weg? Waarom verberg U, U aangesig vir my? Waarom antwoord U nie my smekinge nie?

Dit is hopeloosheid, wanhoop, ‘n klaarblyklike onoplosbare krisis.

Wat kan ‘n godvresende doen? Hoe reageer ‘n regverdige? Soos Heman, roep nag en dag uit: “O Here, my God, ek roep dag en nag na U. Laat my gebed voor U kom, neig U oor tot my. Ek roep na U om hulp, vroeg in die môre al, bid ek tot U.” (Psalm 88:1-2, 13)

Hier is drie dinge wat ek doen in die tyd van my beproewing:

  1. Ek ontvang en vertrou op die liefde en blydskap van my hemelse Vader.
  2. Ek stort my hart voor Hom uit, roep in stilte na Hom.
  3. Ek bemoedig my eie hart met sy beloftes – elke dag.

Ons geloof en krag mag verswak, maar in ons tye van swakheid, versterk ons onsself met die wonderlike beloftes wat God ons gee. Hier is sommige van die beloftes waarmee ek myself versterk.

  • God is my sterkte en krag: en Hy maak my pad reguit. Hy het van bo-af gestuur, en my uit baie waters getrek; Hy het my gered van my sterk vyand, en van hulle wat my haat, want hulle was te sterk vir my. Hy is ‘n bewaarder vir almal wat op Hom vertrou. (2 Samuel 22:23, 17, 18, 31)
  • U het my met krag omgord vir die stryd. (2 Samuel 22:40)
  • Hulle wat struikel word omgord met krag. (1 Samuel 2:4)
  • Die Here gee krag aan sy volk, die Here seën sy volk met oorvloed. (Ps. 29:11)
  • Die God van Israel is dit wat krag en sterkte aan sy volk gee. Prys sy Naam. (Ps. 68:35)
  • Moet my nie alleen laat nou dat my krag ingegee het nie … ek gaan in die krag van die Here. (Psalm 71:9, 16)
  • Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind … keer op keer ontvang hulle nuwe krag, totdat hulle voor God in Sion verskyn. (Psalm 84:5-8)

Glo jy dat jou God sterk is, soos die psalmis sê? As Hy is, kan geen mag voor Hom bly staan nie. Gee alles oor in sy magtige Hand. Hy sal ‘n pad maak. Glo veral sy Woord: “Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en vir my nuwe krag gegee.” (Ps. 138:3)

Copyright/Reproduction Limitations: This data file/publication is the sole property of World Challenge, Inc. It may be printed in its entirety for the reader's personal use or to pass on to family and friends. It may not be altered or edited in any way and all reproductions of this data file/publication must contain this copyright notice. This material is not to be posted or transmitted publicly/electronically on any Web site, Web page or FTP site other than: worldchallenge.org, davidwilkerson.org or tscpulpitseries.org

© 2008 World Challenge, Inc., PO Box 260, Lindale, Texas 75771


  Back to Top